Jael, die Keniet

21 April, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jael, die Keniet

Rigters 4:15-5:31

Video

Audio

Sisera is vir die eerste keer in sy lewe doodsbenoud. Sy strydwa het vir hom te stadig geword. Nee, dit is nie die Israeliete waarvoor hy vlug nie - dit voel vir hom asof hy van alle kante bedreig word - selfs van iewers bo in die lug. Dan spring hy van sy ysterstrydwa af en begin hardloop, waarheen weet hy self nie - net weg van hierdie angswekkende chaos af. Na wat vir hom na ‘n ewigheid voel, gaan staan hy, hygend na sy asem. Hy kyk terug, en dan tot sy verbystering sien hy hoedat sy ganse formidabele leër verwoes word deur ‘n spul halfgewapende veeboere. Hy voel naar as hy sien hoedat sy dapper manne vlug vir hulle lewens. Maar dit is nodeloos, want hulle word afgemaai deur die Israeliete.

“Hier moet ek wegkom!” hyg hy, en begin weer hardloop. En dan onthou hy skielik: “Geber die Keniet! Ja, Geber is mos ‘n vriend van Koning Jabin! Hy sal my skuiling bied teen hierdie barbare. As ek daar gaan wegkruip sal niemand my kry nie.”

Hy verander van rigting en hardloop so hard hy kan reguit na sy koning se ou vriend, Geber toe. Wanneer hy by Geber se tente kom, word hy ingewag deur Geber se mooi vrou, Jael. Sy sien sommer dadelik dat hierdie man in baie groot nood verkeer. Hy is uitasem en sy lippe is gebars van die dors. Om deur ‘n woestynlandskap te hardloop vir ure aaneen, is nie kinderspeletjies nie. “Kom in!” nooi sy hom haastig - sy het die vermoede dat hy agtervolg word. Die skaapwagtertjies het kom vertel van die verskriklike geveg, en dat die Kanaäniete besig was om die onderspit te delf.

“Jy lyk moeg.” Dit was ’n sinnelose opmerking - die man is stokflou!

“Asseblief, kan ek hier wegkruip,” pleit hy, “hulle soek my bloed. Moet asseblief nie vir hulle sê dat ek hier is nie!”

“Toemaar” paai sy hom, “Kom lê hier agter die gordyn - niemand sal jou hier kry nie.”

“En water, asseblief kan ek ‘n beker water kry.”

“Wag, ek het iets baie beter.” Jael verdwyn en keer dan terug met ‘n beker heerlike vars melk.

Skaars het Sisera die beker melk weggeslaan, of die moegheid oorval hom en hy slaap soos ‘n baba. Dit is die oomblik waarvoor die slinkse Jael gewag het. Suutjies sluip sy die tent binne. In haar hand is ‘n dik, skerp tentpen en ‘n groot houthamer. Agter die gordyn kan sy vaagweg die silhoeët van Sisera uitmaak. Jael bewe van angs - sê nou net iets loop skeef. Sê nou net hy word wakker. Sê nou net sy korrel skeef. Daar is so baie dinge wat kan verkeerd gaan. Sy voel skoon naar. Versigtig druk sy die gordyn oor Sisera se kop. Met bewende hande hou sy die tentpen se punt waar sy slaap moet wees. Sy lig die swaar hamer hoog bo haar kop, en dan bring sy dit met al haar krag neer op die tentpen. So hard slaan sy, dat sy die pen dwarsdeur Sisera se kop slaan sodat dit hom in die grond vaspen.

Die naarheid oorval Jael en sy bars in ’n stortvloed van trane uit.

Skaars is die daad gepleeg, of Barak daag by Geber se kamp op. “Het julle dalk vir Sisera gewaar? Ek het hom in hierdie rigting sien vlug.”

Dan tree Jael na vore: “Ek het iets om vir Meneer te wys.” Sy neem hom na haar tent, en daar in ‘n plas bloed lê die onoorwinlike Sisera dood op die vloer met ‘n tentpen deur sy slaap. Barak het die geveg gewen nes Debora voorspel het. Maar hy was nie die held in die verhaal nie, ook nie Debora nie, maar die Kenietiese vrou, Jael. Haar lof is besing deur die ganse Israel. Vir Koning Jabin van Kanaän was dit ‘n gevoelige slag, want nie alleen het hy sy strydwaens en ‘n groot aantal soldate verloor nie, maar ‘n bobaas generaal. Dit was die begin van sy einde - uiteindelik het Israel hom totaal vernietig!

Na hierdie gebeure skryf Debora ‘n lied. Hierdie is een van die héél eerste fragmente van die Bybel soos ons dit vandag ken wat ooit op skrif gestel is: die Oorwinningslied van Debora. In hierdie loflied besing sy die lof van God, want dit is Hy wat aan Israel hierdie oorwinning gegee het. Hierdie pragtige lied is vandag vir ons opgeteken in Rigters 5.

Die lied van Debora beskryf al die gebeure van hierdie geveg. Dit bring hulde aan die stamme wat deelgeneem het, en dit vermaan die stamme van Israel wat nie wou deel hê aan die geveg nie. En dit vertel hoe die Here die eer van die oorwinning van Barak af weggeneem het en dit vir ‘n eenvoudige vrou gegee het. Debora sing oor hoe die Here op wonderbaarlike wyse, met vreesaanjaende verskynsels eintlik sélf die Kanaäniete oorwin het. Ons het eintlik simpatie met die arme Sisera as ons die pragtige loflied lees. En ons kan onsself daarmee vereenselwig, want ons wil saam met Debora hierdie lied tot eer van ons almagtige God sing.

Gebed:

Here, ons wil sing van U, want U is groot en wonderbaar en almagtig, en U bewaar ons, U kinders.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026