Is Jy Gereed?

29 September, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Is Jy Gereed?

Lukas 12:35-48

VIDEO OUDIO

“Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand!” Jesus is baie ernstig dat die mense wat na Hom luister gereed moet wees, paraat en getrou! Hy vertel ‘n reeks gelykenisse om hulle hiertoe aan te spoor. Hierdie sinnetjie beteken letterlik dat jy gereed en voorbereid moet wees vir Jesus se wederkoms.

In die eerste gelykenis sien ons ‘n eienaar wat vertrek het na ‘n bruilof. Hy het nie vir sy slawe gesê hoe laat hy sou terug wees nie, dit kon enige tyd van die nag wees! Sy slawe wag dus geduldig vir hom om terug te kom. ‘n Paar van sy slawe is egter nou nie juis só geduldig nie, en hulle besluit om maar te gaan slaap. Maar daar is tóg ‘n paar getroue ou bittereinders wat opbly en geduldig vir hom wag totdat hy kom, sodat hulle vir hom die deur oop kan maak en hom welkom heet.

Stel jouself die prentjie voor. Daardie jare het ‘n bruilof maklik ‘n week of langer aangehou. Hulle baas is nou al ‘n paar weke weg en enige oomblik kan hy nou terug wees. Sommige van die slawe is opgewonde en vrolik want hulle het na hom verlang. Iemand sing ‘n opgewekte liedjie terwyl hy die koperware blink poets sodat sy baas die huis in ‘n perfekte toestand sal kry. Iewers lê een egter kliphard en snork terwyl sy maat desperaat probeer om hom wakker te kry. Hy wil tog nie hê dat die kêrel in die moeilikheid moet kom nie! ‘n Paar van sy maters hang maar net verveeld daar rond, terwyl ander weer entoesiasties alles gereed kry vir die baas se tuiskoms. “Ek hoor ‘n perd galop! Is dit nie dalk die Meester nie?” Die afwagting is groot. Maar baie tragies is daar ‘n klompie wat totaal verdwyn het!

Inderdaad gaan dit ook maar so met ons wanneer ons praat van Jesus se wederkoms. Jesus wil hê dat ons te alle tye opgewonde en paraat moet wees, want niemand weet presies wanneer Hy kom nie. Ons hoor alreeds iewers die perd galop, en ons weet dat Hy nou enige tyd kan kom! Die vraag is of ons besig is om gereed te maak, of ginnegaap ons? Erger nog - dalk lê ons iewers en slaap!

In die tweede gelykenis gebruik Jesus ‘n beeld wat ons vandag baie goed ken, ‘n inbreker. Hy kom altyd op die mees onverwagte tyd. Nét so kan ons Jesus se wederkoms gladnie voorspel nie, dit kan énige tyd wees.

Petrus was soos gewoonlik die segsman van die dissipels, en hy wou weet op wie hierdie gelykenisse nou éintlik betrekking sou hê. Jesus wou nie alles met ‘n teelepel vir hulle voer nie. Hulle moes selfstandig begin leer om te dink en dinge uitredeneer, daarom antwoord Hy hulle nie direk nie maar met ‘n lang ompad in die vorm van nóg ‘n gelykenis.

Jesus vertel van ‘n bestuurder wat aangestel was oor ‘n klomp slawe. Hy het ‘n baie verantwoordelike posisie gehad en sy taak was om om te sien na almal onder sy sorg. Hoe sou hierdie bestuurder sy verantwoordelikheid nakom? Sou hy sorg dat almal genoeg kry om te eet op die regte tyd en dat hulle goed versorg was? Of sou hy eerder sy verantwoordelikheid misbruik en net aan homself dink en eet en drink en homself te buite gaan?

Hierdie gelykenis was gemik op die volgelinge van Jesus en veral ook op dié in ‘n leiersposisie. Dit was nie net die Joodse Godsdienstige leiers, die Fariseërs en Skrifgeleerdes wat Jesus teengestaan het nie maar selfs Sy eie volgelinge, die dissipels!

Jesus se boodskap kom egter ook baie direk in ons eie rigting vandag! As gelowige moet ek myself op gereelde basis die vraag afvra, hoe ek die verantwoordelikhede wat die Here my gee nakom. Elke gelowige het gewoonlik iemand wat in sy/haar sorg toevertrou is. As jy iemand in jou sorg het, is jy ‘n leier, en dan het jy sekere verantwoordelikhede teenoor daardie persoon. Hoe verder jy geestelik groei, hoe meer mense word in jou sorg gelaat, en hoe groter word jou verantwoordelikhede. ‘n Leraar van ‘n gemeente het die ganse gemeente onder sy sorg, en daarmee saam het hy ‘n reuse verantwoordelikheid op sy skouers. Hy durf nie vir ‘n enkele oomblik laat slaplê nie, want dit is die geestelike lewens van mense wat hy in sy hande het. Dit is om hierdie rede dat ons ons leraars gedurig in gebed sal dra en hulle hande sterk maak vir die groot taak op hulle skouers. Ons moenie ons leraars verwaarloos nie!

Jesus verduidelik hoe ‘n leier sy verantwoordelikheid moet nakom. As hy getrou is en dit met ywer doen, sal sy beloning baie groot wees in die hemel. Die teendeel is egter ook waar, dat ‘n leier wat sy gesagsposisie misbruik eendag sal moet rekenskap gee daarvan!

Twee vrae som hierdie gedeelte op: Is jy gereed om Jesus te ontmoet? En kom jy jou verantwoordelikhede teenoor diegene in jou geestelike sorg na?

Gebed:

Here, vergewe my asseblief my versuim om my verantwoordelikhede te dra, en help my om my pligte na te kom.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026