Hebreërs 6:13-20
Om te krap waar dit nie jeuk nie, kan gevaarlik wees - so het die eerste vrou in die wêreld (volgens ‘n ou Griekse legende) uitgevind. Haar naam was Pandora. Volgens hierdie verhaal is daar aan haar ‘n kissie gegee, en saam daarmee ‘n opdrag dat sy dit onder géén omstandighede mag oopmaak nie! Nou vra ek jou met trane in my oë: is dit nou nie die mees onregverdige ding om enige vrou aan te doen nie? Soos dit natuurlik enige volbloed vrou betaam, het haar nuuskierigheid die oorhand gekry en sy kon nét eenvoudig nie anders as om te loer wat in daardie geheimsinnige kissie is nie. En nét daar begin al die ellende toe, want toe sy die deksel lig, vlieg die aller-liederlikste dinge daar uit: rampe, siektes, ouderdom, misdaad, swaarkry en al wat ‘n slegte ding is. Sy probeer wal gooi, maar dis puur verniet - al wat lelik is borrel in ‘n stroom by haar kissie uit. Spierwit geskrik klap sy uiteindelik tóg die deksel toe, net voor die héél laaste ding uitvlieg. Wat het in die kissie oorgebly? HOOP! Sonder hoop sou die mensdom nooit die magtige vloed van onheil wat Pandora laat ontsnap het kon hanteer nie!
Inderdaad is dit maar net ‘n storie, ‘n legende, maar die feit is dat jy nie sonder hoop kan oorleef nie! ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die Nazi konsentrasiekampe, waar mense soos uitgeworpe diere aangehou is onder die mees haglike omstandighede. Die bekende skrywer, Victor Frankl het in sy boek, “Man’s Search for Meaning” geskryf oor sy ervaringe in so ‘n kamp. Hy vertel dat die enigste mense wat daar oorleef het, dié was wat nog hoop gehad het - hoop het hulle letterlik aan die lewe gehou!
‘n Paar jaar gelede gesels ek met iemand uit Zimbabwe wat alles wat hy deur die jare opgebou het daar verloor toe Mugabe se regering op sy ergste was. Maar hy het steeds in die hoop geleef dat dinge eendag sou regkom, en daarom het hy later weer teruggekeer na Zimbabwe, die land waar hy grootgeword het.
Die skrywer van die Hebreërbrief wil ook vir sy lesers hoop gee. Hulle het baie vervolging ervaar, en die verskriklike lewensomstandighede het hulle dikwels wanhopig gehad. Baie mense het moed verloor. Is daar ooit vir hulle iets oor in die lewe? Inderdaad! Daar is hoop! So bemoedig hy die verslae mense - God hou sy beloftes!
Abraham was só ‘n voorbeeld van iemand wat op hoop geleef het. As hy kinderloos sou sterf, sou dit die einde van ‘n geslagslyn beteken - ‘n groot ramp! God het egter aan Abraham ‘n belofte gemaak van ‘n ontelbare nageslag en Abraham het vasgeklou aan daardie hoop, al het dit naderhand totaal onmoontlik gelyk dat God so ‘n belofte kon vervul. Die groot honderd het al aan Abraham se deur geklop, toe is daar nog steeds geen kinderlaggies in hulle tent nie. Abraham het egter steeds op God vertrou, want God het dit met ‘n eed bevestig. Abraham het nooit sy hoop verloor nie!
En toe kom die vreugdevolle dag toe klein Isak gebore word. Mamma Sara was toe al oud genoeg om ‘n Grootoumagrootjie te wees, en Abraham moes al stringe agterkleinkinders gehad het. Maar dit was nie die einde van die Hoop-pad vir Abraham nie, want net ‘n paar jaar later kry hy die skokkende opdrag om vir klein Isak te gaan offer. Hoe moes Abraham nie met hierdie opdrag geworstel het nie! Het God dan sy belofte verbreek? Abraham se hoop was egter steeds gevestig op God se beloftes, en God het voorsien!
Vandag leef ons ook in bitter onseker tye. O ja, daar is baie mense in ons mooi land wat skatryk is en op die oog af nie ‘n bekommernis in die wêreld het nie. Maar miljoene mense leef in die grootste onsekerheid: wat gaan die dag van môre vir ons bring? Gaan my motor dalk gekaap word? Gaan ek beroof word? Moordenaars, verkragters en rowers skuil om elke hoek en draai. Dan is daar die ekonomie - gaan ons land oorleef? Gaan al die korrupsie en witboordjiemisdaad nie uiteindelik die totale ondergang van ons land beteken nie? En wat van klimaatsverandering? Dag na dag sien ons hoe omstandighede versleg - hoe ons mooi aarde besig is om weg te kwyn. Die pole is klaar besig om te smelt, en ongekende droogtes en vloede teister die ganse aarde. Ons is besig om die wêreld te vernietig, en dit lyk asof niemand iets daaromtrent wil of kan doen nie. Is daar nog hoop?
Vir iemand wat nie deel het aan God se beloftes nie, is daar géén hoop nie! Vir iemand wat nie die Woord van God as grondslag vir sy lewe het nie, lyk die prentjie bitter donker. Vir my en jou, vir wie God geloof gegee het, is dit egter ‘n héél ander prentjie. Die Bybel is propvol wonderlike beloftes waaraan ons kan vashou. Oor hierdie beloftes skryf die Hebreërskrywer in vers 18-20: “Die doel daarvan was dat, deur hierdie twee onveranderlike dinge, waarvolgens dit vir God onmoontlik sou wees om te lieg, ons wat vrygekom het, 'n kragtige bemoediging sou hê om stewig vas te hou aan die hoop wat voorlê.”
Ja, selfs as die heel ergste gebeur, is daar steeds hoop. Wat vir ons dalk na die einde lyk, is slegs die begin. Agter die “voorhangsel” lê die begin van ‘n onbeskryflike splinternuwe lewe waarvan ons nou maar net kan droom. In Openbaring word die gordyn so op ‘n skrefie oopgetrek, en dit slaan jou asem skoon weg. Het jy hoop? Ek hoop van harte so!
Gebed:
Here, ek kan U nie genoeg loof en dank en aanbid vir die wonderlike anker van hoop wat U vir my gegee het nie. Dankie vir die heerlike vooruitsig van die lewe hierna waarop ons hoop!