Is daar Lewe na Sara?

14 December, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Is daar Lewe na Sara?

Genesis 25:1-11

Abraham en Sara was getroud vir meer as ‘n leeftyd. Die Bybel sê nie vir ons hoe oud hulle was toe hulle afgehaak het nie, maar Abraham sou sekerlik nie ouer as 35 gewees het nie. Toe hy 137 was, is Sara oorlede. Dus was hulle beslis vir meer as ‘n honderd jaar saam. ‘n Rekord? In vandag se terme baie beslis, waar ‘n huwelik selde langer as 5 jaar hou!

Maar Sara is dood en Abraham het getreur oor sy maat van meer as ‘n eeu. Toe begin die oubaas se ogies weer blink. ‘n Pragtige jong vrou, Ketura verskyn op die horison, en Abraham voel skielik weer die ou bloedjong homself.

Dalk was hierdie die rede waarom sy slaaf nie vir Rebekka eers na Abraham geneem het nie, maar sommer reguit na Isak toe. Die klem van die verhaal skuif na Isak en Rebekka, want hulle word nou die nuwe aartsvader en -moeder. Op hulle skouers rus die reuse taak om die volk van God voort te bou. Na 137 jaar breek ‘n splinternuwe era aan, die era van Isak. Was hy so ‘n opwindende man soos Pa Abraham? Nee, hy was maar ‘n doodgewone man. Maar God het hom geplaas in die geslagslyn van die volk van God, waaruit daar tweeduisend jaar later die Messias, die Verlosser gebore sou word. Die Here gebruik doodgewone mense soos ek en jy om Sy werk op aarde te doen. Ons moet onsself net gewillig verklaar om te dien in Sy Koninkryk.

Maar terug by Abraham: op 137 is hy nog lank nie dood of koud nie. En Ketura het iets in die ou man wakker gemaak. Hy trou met haar, en daar volg sommer ‘n hele streep kinders uit die huwelik. Die name van 6 seuns word genoem. Hoeveel dogters daar was, weet ons nie. Daar word ook so terloops genoem dat Abraham ook vir hom byvrouens gevat het, en dat dáár kinders was. Uiteindelik was Abraham dus al klaar die vader van ‘n hele boel kinders. Sy seuns hetuiteindelik aan die hoof gestaan van etlike volke.

Isak was egter die uitverkorene wat die naam sou voortdra.

Veertig jaar nadat Abraham sy liefling Sara in die Makpelagrot begrawe het, dra sy twee seuns, Isak en Ismael, albei alreeds stokou manne, hulle pa na dieselfde grot. Vir 175 jaar lank het hy ‘n verskil gemaak aan die wêreld waarin hy gewoon het. Vir 175 jaar het hy die Here gedien en ‘n geloof uitgestraal wat selfs vandag nog, vierduisend jaar later, ons verbeelding aangryp. God het aan Abraham beloof dat die land Kanaän aan sy nageslag sou behoort. En nou word hy begrawe op die enigste stukkie eiendom wat hy in hierdie land besit.

As ons vandag terugkyk oor Abraham se lewe, sien ons ‘n vredeliewende man wat, anders as al die ander leiers rondom hom, verkies het om in vrede met sy medemens te lewe. Die enigste keer wat hy in ‘n oorlogsituasie ingedwing is, was toe sy nefie Lot ontvoer is. Toe het hy met ‘n handjievol slawe ‘n hele oormag van beroepsoldate oorwin. Maar hy was nie alleen in die stryd nie. God het die stryd namens hom gevoer. Ja, Abraham se keuse om eerder in vrede met sy medemens te lewe, het hom ‘n paar keer in die moeilikheid gehad, en hy moes sy pad ooplieg. Om vrede te bewaar, het hy by ‘n paar geleenthede gesê dat Sara sy suster is. Wat Abraham daar gedoen het was verkeerd. Maar God het hom vergewe.

En dit bring ons by die sterkste kenmerk van Abraham se lewe: sy verhouding met God. Vandag wil ons Abraham skets as iemand met ‘n geloof wat berge kon versit. Maar wat was dit wat Abraham se geloof so sterk gemaak het?

Ek dink dit is die feit dat Abraham God beleef het as ‘n lewende werklikheid. Saam daarmee, was hy gehoorsaam toe die Here hom opdragte gegee het. Nee, Abraham het sékerlik nie al die opdragte verstaan nie, en dikwels het dit vir hom gladnie sin gemaak nie. Nogtans was hy gehoorsaam. Die eerste opdrag het gekom toe die Here hom aangesê het om uit die lowergroen, vrugbare landstreek van Haran te trek na ‘n onbekende woestynwêreld waar droogtes aan die orde van die dag was. Abraham het nie teëgestribbel nie, maar gegaan. Hy het die Here vertrou, ten spyte daarvan dat hy dit nie verstaan het nie. Daarna was daar talle soortgelyke opdragte. Abraham het geleer dat God getrou is, en dat ‘n mens Hom maar kan vertrou, al maak dinge nie sin nie. Hy het ook geleer dat God Sy beloftes hou, en dat ‘n mens maar net geduldig moes wees. God se tyd is nie ons tyd nie!

Abraham se grootste toets het egter gekom toe hy uiteindelik na ‘n honderd jaar pa word, en hy daardie enigste seun van hom, God se belofte aan hom, moes gaan offer. Dit was sékerlik die moeilikste opdrag wat Abraham óóit gekry het. Maar ook hierdie keer vertrou Abraham vir God, en voer hy die opdrag uit.

Hoe lyk ons verhouding met God? Ervaar ons Hom as ‘n lewende werklikheid? Is Hy vir ons Iemand wat hier en nou aktief betrokke is in ons lewe? Is Hy Iemand vir Wie ons met absoluut alles kan vertrou?

Hier roep ons nou eers halt met die Genesis-verhaal aangesien baie mense met vakansie vertrek. Aan julle wil ek God se rykste seën toebid vir hierdie Kerstyd. Ons sal in Januarie weer voortgaan met Genesis. Intussen gaan ons more aan met ‘n kort reeks oor Kersfees.

Gebed:

Here, ek wil ook graag ‘n verhouding met U hê soos Abraham van ouds.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Eensgesindheid
16 January, 2026
Die Groot Geskenk
15 January, 2026
Genade en Vrede!
14 January, 2026
Die Nagmerrie Gemeente
13 January, 2026
Briewe aan ‘n Gemeente
12 January, 2026