Nehemia 3
Wanneer ons Nehemia lees, dan lees ons gewoonlik die eerste paar lyntjies van hoofstuk drie, en dan blaai ons sommer om na hoofstuk 4. Hoofstuk drie is net ‘n ellelange lys van name van mense wat help bou het aan die muur. Wat is nou interessant daaraan? Ek wil vanoggend ‘n bietjie gaan krap in daardie lysie, want sommer met die eerste oogopslag het ‘n paar baie interessante dinge my getref. Maar kom ons begin by die begin!
Nadat Nehemia die inwoners van Judea ingelig het oor hulle groot dilemma, was almal dadelik vuur en vlam om dadelik te begin met die bouwerk. Daar moes egter sékerlik ‘n klomp beplanningswerk gedoen word om die indeling te maak van wie waar sou bou. Dit sou ‘n taak word wat gans te groot was vir slegs die inwoners van Jerusalem, dus word mense van regoor Judea opgeroep om te kom help. Dit word nie gemeld in die boek nie, maar ek kan my indink dat dit ‘n reuse logistieke operasie moes wees om vir almal huisvesting en kos te reël.
Boumateriaal moes voorsien word. Klippe vir die muur was die maklike deel want hulle kon die klippe van die afgebreekte muur hergebruik. Die poorte was egter ‘n ander saak, en daar moes hout gekry en verwerk word. So ook al die ysterwerk vir grendels, skarniere en dies meer.
Daar was waarskynlik ‘n beplanningsvergadering waar Nehemia die leiding geneem het. Nogtans was dit ‘n spontane besluit van die hele gemeenskap en almal het deelgeneem, priesters, vakmanne, amptenare, vooraanstaande burgers en doodgewone mense. Op die vergadering is daar waarskynlik bepaal wie waar sou werk, op grond van hulle vermoëns.
Heel eerste op die lys van bouers was niemand anders nie as Eljasib, die hoëpriester en sy ampsgenote, die priesters. Hulle taak was om die Skaappoort te herbou. Nehemia wou hiermee moontlik ‘n voorbeeld stel vir almal. Hier was egter ‘n kinkel in die kabel, want later in die boek lees ons dat Eljasib se kleinseun met ‘n dogter van hulle groot vyand, Sanballat getroud was. Sanballat was waarskynlik op goeie voet met Eljasib. Nogtans laat Nehemia toe dat Eljasib ‘n leiersrol in die bouwerk inneem. Moontlik was dit ‘n baie slim taktvolle besluit van Nehemia!
Terloops, hierdie Skaappoort is die een waarvan ons lees in Johannes 5, waar die bad van Betesda was waar Jesus die siek man genees het.
Wanneer ons so deur die lys van name blaai, duik daar ‘n paar baie interessante feite op. Die eerste een wat my aandag getrek het was Sallum, die seun van Halloges. Hy was ‘n gesiene man, bevelvoerder van die helfte van die Jerusalem-distrik. Hierdie man het ‘n span dogters gehad wat nie bang was vir harde werk nie, want sy dogters het saam met hom ‘n gedeelte van die muur herstel. Reuse klippe pak, is beslis nie ‘n werk vir sagte meisiehandjies nie!
Daar was mense wat bloot “herstelwerk” gedoen het, soos Gananja die salfmenger, Jedaja en Gattus. Dit was moeisame, vervelige werk wat sou behels dat reuse klippe in die muur gepak word. Beslis rugbreekwerk wat die velle van jou hande afgeskaaf het. Ander het weer baie gespesialiseerde werk gedoen, soos die seuns van Hassenaä wat die Vispoort herbou het. Hulle het balke gelê en die poortdeure, sokgrendels en sluitbalke ingesit. Ons moet natuurlik in ag neem dat hulle nie die moderne gereedskap gehad het wat vandag sulke werk maklik maak nie!
Daar was ook mense van alle klasse van die samelewing, nogtans lyk dit of daar nie onderskeid getref word nie. Refaja, die bevelvoerder van die ander helfte van die Jerusalem-distrik het skouer-aan-skouer gewerk met ‘n doodgewone Jedaja. Daar was Leviete, tempeldienaars, priesters, salfmengers, goudsmede en handelaars. Almal het saamgewerk om die mure en poorte te herstel.
Maar soos dit maar oral gaan, is daar ‘n klompie manne wat nie bereid was om te help nie. ‘n Groep bouers uit Tekoa het hulle by Nehemia se span aangesluit, maar die vooraanstaandes uit hulle gebied het besluit dat dit benede hulle waardigheid was om sulke soort harde arbeid te verrig!
Vandag het ons dikwels ‘n soortgelyke situasie in ons kerkgemeenskap. Die probleem is egter dat daar gewoonlik slegs ‘n klein gedeelte is wat bereid is om die werk te doen. In ‘n gemeente is daar plek vir feitlik elke soort ambag. Nogtans moet jy dikwels sukkel om iemand te kry wat bereid is om ‘n sekere taak te verrig. In meeste gemeentes is daar gedurig ‘n tekort aan mense wat bereid is om as wyksleiers te werk, en wanneer daar byvoorbeeld iets soos ‘n manne byeenkoms gehou word, daag slegs ‘n klein handjievol op!
Maar daar is ook etlike gewilliges wat keer op keer maar net na vore tree en hard werk nét waar hulle ‘n behoefte sien, maak nie saak hoe nederig die taak is nie. Húlle is die muurbouers van Nehemia!
Gebed:
Dankie Here, vir elkeen wat bereid is om in U koninkryk te werk!