Eksodus 33
Die kinders is opgewonde: “Ons gaan Wildtuin toe!” sing hulle, terwyl hulle ‘n kussinggeveg hou in die slaapkamer. Pietie slaan sy sussie ’n kishou dat jy net sien vere waai. Al die kampeergereedskap en tente, opvoutafels en stoele is klaar gepak, net reg vir die ry môre vroeg. Dan roep Pa die gesin byeen: “Ek het besluit,” sê hy gewigtig, “julle kan maar alleen gaan - ek gaan nie meer saam nie!”
“Maar Paaaa.....?” kerm Pietie. Sommer dadelik sien hy in sy verbeelding hoe hy alleen al die tente moet opslaan. “Julle kinders het my nou gedaan met julle streke - julle kan sélf opsnork!” Ma se moed sak in haar skoene - sy sien dat Pa ernstig is, en sy weet sommer dat sy nooit al die verantwoordelikhede sélf kan dra nie.
Kan jy jouself so ‘n situasie voorstel? Pa het genoeg gehad van die kinders se nonsens, en nou moet hulle alleen gaan uitkamp in die wildtuin. Hulle sal natuurlik verlore wees! Maar dit is presies wat die Here vir Moses gesê het. Daardie weerbarstige volk kan nou maar alleen verder trek na die Beloofde Land. Hy sal ‘n engel saam met hulle stuur om hulle vyande te verdelg, maar Hy sal nie verder saamgaan nie, want hulle is moedswillig.
Moses is platgeslaan: “Here, hoe gaan ek dit alleen uithou met hierdie klomp?” worstel hy met die Here.
“As Ek net ‘n oomblik saam met hulle trek, sal Ek hulle uitdelg!” sê die Here vir Moses, “Maar Ek sal later besluit wat ek met hulle sal doen.” Vir die volk is dit ‘n groot skok as hulle hoor dat God nie meer daar gaan wees nie. As ‘n teken van rou, haal hulle al hulle juwele af. Wat sal God se besluit inhou? Wat sal Hy later met hulle doen? God vra gehoorsaamheid van Sy volk, maar daar is g’n teken van gehoorsaamheid by hulle nie!
As Moses terugdink oor die laaste paar maande se trek deur die woestyn, dan wonder hy waarom die Here dan nog so genadig is met hierdie klomp. As hy die Here was, het hy hulle lankal van die gesig van die aarde af weggevee. Al wat hulle kan doen is mor en kerm en kla, en as hy vir ‘n oomblik sy rug draai, dan gaan staan en bou hulle afgodsbeelde!
Dan neem Moses ‘n besluit: Hy gaan vir hom ‘n tent opslaan ver buite die kamp van die Israeliete. Daar kan hy alleen met God gaan gesels, want hy wéét dat God steeds sy Vriend is, al is die volk so afvallig. Hy noem hierdie ontmoetingsplek met die Here “Die Tent van Ontmoeting.” Baie gou kom die volk agter dat Moses gereeld na hierdie geheimsinnige tent daar eenkant stap. En wanneer die gryse ou man daar instap, dan sien hulle ‘n eienaardige ding gebeur. Die wolkkolom, wat nog steeds saam met hulle is van die eerste dag dat hulle uit Egipte getrek het, daal neer op Moses se tent en gaan hang voor die ingang. “Dit is God wat Moses ontmoet,” fluister hulle vir mekaar, en dan word hulle gevul met groot ontsag. Uit eerbied vir wat daar besig is om te gebeur, staan hulle op. Later word dit ‘n ritueel - wanneer hulle vir Moses na die tent sien stap, staan die volk soos een man op, en wanneer die wolkkolom neerdaal, dan buig hulle in aanbidding. Het daar werklik iets met hulle gebeur? Het hulle berou oor die manier wat hulle vir Moses en God behandel het? Slegs die tyd sal leer.
Wanneer Moses die tent instap, voel hy die heilige teenwoordigheid van God. Die Here is nie meer vir hom ‘n Vreemdeling soos by daardie héél eerste ontmoeting nie. Moses het geleer dat hy waarlik sy hart kan oopmaak teenoor die Here, en hy gesels dan ook met die Allerhoogste soos met ‘n Vriend.
Daar was ‘n jong man in Israel wat nie voor die goue kalf gebuig het nie - ‘n man van integriteit, wat in totale verwondering aanskou het hoe Moses met die Here gesels. Joshua het mettertyd Moses se assistent geword, en saam met sy meester na die Tent van Ontmoeting gegaan, en in stilswye geluister na die gesprekke tussen Moses en God. Hierdie jong man sou dit nog baie ver bring in die lewe, en Moses het kennis geneem.
“Here,” pleit Moses tydens een van hulle vele gesprekke, “moet ons asseblief nie hiervandaan laat wegtrek as U nie met die volk saamgaan nie”, smeek die desperate man, “dit is U wat ons anders maak as al die ander volke!”
“Ek ken jou op jou naam, Moses, en daarom sal Ek doen wat jy vra.” kom God se antwoord.
Hoe lyk my en jou verhouding met God? Sal die Here ook van my kan sê dat Hy my op my naam ken? Of het Hy al van my vergeet omdat ek so selde met Hom gesels? En hoe lyk my gesprekke met God? Is dit maar net vinnige wenslysies, of is dit waarlik ‘n gesprek soos met ‘n intieme Vriend, waar jy jou hart oopmaak en sommer net gesels? Moses moes in die tent gaan gesels - vandag kan ek en jy enige plek en enige tyd, heeldag lank met Hom gesels. Is dit nie wonderlik nie!
Gebed:
Here, my God, dankie dat ek met U kan gesels, en dat U my Vriend en Vertroueling is!