1 Petrus 4:12-19
Rusland-Oekraïne konflik – Die konflik tussen Rusland en Oekraïne duur alreeds meer as 9 maande! Statistieke van Reuters wat op 9 Oktober vrygestel is, lys die aantal ongevalle op 29 916 mense met 'n geskatte 14 miljoen ontheemdes.
Soos hierdie oorlog voortduur, is dit maklik om oorweldig te word deur 'n aardse perspektief van wanhoop. As Christene is dit egter belangrik om te erken en te onthou dat die Here ten spyte van negatiewe aardse omstandighede nie verras word nie, en ook nie blind is vir die lyding van sy volk nie. Die Here gee baie om vir die mense van beide Rusland en Oekraïne en begeer dat elke persoon tot 'n punt moet kom om 'n behoefte aan verlossing te erken (1 Timoteus 2:3-4). Berig: INcontext Ministries.
Burkina Faso - Op Sondag 2 Oktober het Burkina Faso se afgesette militêre hoof, lt. kol. Paul-Henri Damiba, ingestem om te bedank twee dae nadat mededingende weermagoffisiere, onder leiding van kaptein Ibrahim Traoré, sy afsetting aangekondig het.
Vanuit 'n Christelike perspektief het 'n pastoor in Burkina Faso gedeel dat die grootste uitdaging wat die land in die gesig staar terrorisme is, wat die hele land bedreig, maar Christene doelbewus geteiken het, met baie gevalle van pastore en ander gelowiges wat deur Islamitiese militante vermoor is, in hul kerke, in hul huise, sowel as op straat. Berig: INcontext Ministries.
Vervolg vir hulle geloof: Statistiek vir 2021.
5 898 Christene vermoor vir hul geloof.
5 110 Kerke en ander Christelike geboue aangeval.
6 175 Christene aangehou sonder verhoor.
3 829 Christene is ontvoer.
In Afrika word 1 uit 5 gelowiges vervolg.
In Asië word 2 uit 5 gelowiges vervolg.
Berig: INcontext Ministries.
Noord Korea - Noord-Korea is al vir meer as 20 jaar bo-aan of naby aan die boonste posisie op die Wêreldwaarnemingslys. Enige Noord-Koreaan wat gevang word dat hy Jesus volg, is in onmiddellike gevaar vir tronkstraf, brutale marteling of die dood. ʼn Beraamde 50’000 tot 70’000 Christene word in Noord-Korea se berugte tronke en arbeidskampe gevange gehou — dikwels wag dieselfde lot op die persoon wat gevang word se familie.
Die regering, wat deur die Kim-familie beheer word, beskou Christene as die gevaarlikste politieke groepering van mense, en die vervolging is gewelddadig en intens. Noord-Koreaanse ouers steek dikwels hul geloof vir hul kinders weg, kerke bestaan slegs uit ʼn paar mense en aanbidding vind grootliks in die geheim plaas. Christene in Noord-Korea se lewens is ʼn konstante drukketel; slegs een fout kan tot gevangeneskap of die dood lei.
Wat het vanjaar verander? Weens die regering se sluiting van alle grense as ʼn voorkomingsmaatreël teen Covid-19 is Christene onder nog meer druk. Die beperkte vermoë van sommige gelowiges om na China te ontsnap vir hulp met voedsel en medisyne raak ook al moeiliker. Berig: Geopende Deure.
Die eerste drie berigte is deur INcontext Ministries en die vierde deur Geopende Deure, ‘n organisasie wat ondersteuning gee aan Christene in die verdrukking, en hulle beywer vir die insmokkel van Bybels in hierdie geslote lande, waar ‘n duisend Christene dikwels een enkele Bybel moet deel.
Petrus som die hele kwessie oor lyding vir jou geloof op in 4:12-19. In kort kom dit daarop neer dat jy nie verbaas moet wees as lyding vir jou geloof jou tref nie. Jy moet voorbereid wees daarop, en eintlik moet jy baie geëerd voel as dit jou tref. Om die waarheid te sê, is dit ‘n bewys dat jy deel sal hê in die heerlikheid van Christus met Sy terugkeer. Jesus het immers Sélf gesê: “Gelukkig is julle wanneer die mense julle om My ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig van alles wat sleg is. Wees bly en jubel, omdat julle beloning groot is in die hemele.” (Mat. 5:11,12). Dit is nie deel van ‘n mens se natuurlike geaardheid om bly te wees om in die lyding van Christus te deel, soos Petrus in 4:13 vra nie. As jy egter daardie vreugde kan ervaar ten spyte van vervolging, dan wéét jy dat die Heilige Gees in jou woon.
Mense wat kontak het met die Christene wat so wreed in die verdrukking staan, getuig van ‘n borrelende lewensvreugde ten spyte van al hulle swaarkry. En as hulle hoor dat ons hier in die vrye Suid Afrika van hulle weet en vir hulle bid, is hulle oorstelp van vreugde. Hulle vra slegs ons gebede om hulle deur die verskriklike beproewing te dra. Jy kom agter dat hulle doen presies wat Petrus vra, om nie jouself te probeer vergeld of deur jou vervolgers te laat dwing om die dinge wat hulle aan jou doen terug te doen nie, maar jou hele lewe toe te wy aan God, en aan te hou om goed te doen. Daardie Christene in die verdrukking is vir ons elkeen ‘n voorbeeld van hoe om vervolging te hanteer.
Gebed:
Here, my hart gaan vandag uit na die miljoene Christene wat daagliks wreed vervolg word. Maak my bewus van hulle lot en gee my empatie vir elkeen van hulle!