Amos 5:18-20
Sing-sing trap hy sy baaisiekel op die klipperige bospaadjie. Dis al sterk skemer en daar sit so ‘n hollerige kol op sy maag, die leeus is maar baie bedrywig in Marloth Park! Kort-kort hoor jy van iemand wat leeus teëgekom het. Maar hierdie gedagtes skuif hy gou-gou uit sy kop uit. Vanaand is daar mos gróót paartie by sy pêl se huis, en dit wil hy nie misloop vir enigiets nie. Boonop is hy mos op sy baaisiekel, en watter leeu sal hom dan nou op sy blitsige wiele kan vang? En so wiel hy voort oor die hobbels die komende nag in, vrolik-singende en propvol bravade.
Maar in ’n oogwink verander sy vrolike luim in een van afgryslike skok. Sy sing is skoon weggeskrik, en in die plek daarvan weergalm ‘n gil van angs. Hy trek die brieke vas dat die klippertjies in ‘n reënwolk oor die doringbome neersif. Vlakvoor hom lê ‘n trop leeus in die middel van die nou stofpaadjie. In een enkele beweging gooi hy sy ryding se neus in die teenoorgestelde rigting en begin trap dat die klippe weereens spat en die speke sing. Spierwit geskrik en met ‘n hart wat dreig om by sy keel uit te spring, kyk hy ‘n paar minute later oor sy skouer. Groot is sy verligting as hy niemand sien wat hom volg nie!
Nou begin hy plannetjies maak: Daardie paartie - moet hy dit maar liewer los? “Naaaa! Nog nooit!” Hy sal liewer ‘n ander pad ry daarheen - hy is hoéka al baie lus vir ‘n bietjie van dáái vuurwater! Boonop het hierdie noue ontkoming hom júis baie dors gemaak! Hy ry ‘n groot ompad om by sy pêl se plek te kom, en dié slag is sy sing nie meer een van plesier nie, maar een van bang-geit!
Die trop leeus het seker maar geskrik toe die klippertjies oor hulle reën, en toe opgespring en geloop. Soos dit moes kom, kruis hulle sy paadjie op die presiese oomblik wat hy om die draai kom. Hierdie slag is daar nie tyd om nog te briek nie, en hy jaag reg in die maanhaar se kake in. Sy benoude doods-gille weergalm deur Marloth Park se sekelbosse as ‘n leeu hom gryp. Hy baklei terug, maar hy weet sy einde het aangebreek!
Sy tyd was egter nog nie daar nie. Juis op daardie oomblik het iemand “toevallig” met ‘n motor die pad afgery gekom. Die persoon verjaag die leeus met die motor en hy word van ‘n gewisse dood gered. Sy wonde is egter afgryslik, en hy word na Nelspruit hospitaal geneem waar hy etlike maande in die grootste pyn lê om te herstel.
‘n Rillerstorie? Nee, ‘n ware verhaal! Amos vertel ook ‘n storie, en hy begin dié met die woord: “Ellende”. Dis ‘n woord wat mense gebruik het as daar dood is, en jy treur bedroef. Die profetiese boeke gebruik dit om die oordeel van God aan te kondig. Amos vertel van die skrikwekkende ervaring van iemand wat weghardloop vir ‘n brullende leeu. Dit moet sékerlik die verskriklikste ervaring óóit wees! Maar dan, nes die gevaar verby is, hardloop hy hom trompop vas in ‘n verwoede beer. Hy spring om en hardloop so vinnig as wat sy bene hom kan dra, en dan slaag hy om tóg veilig by die huis te kom. Uitgeput, hygend na sy asem, leun hy teen die muur om tot sy sinne te kom. En dan gebeur die totaal onverwagse: Hy sien nooit die slang raak wat sy huis ingesluip het nie. Die dodelike dierasie pik hom! ‘n Gru-verhaal!
Amos wil hiermee illustreer dat niemand die oordeel van God kan vryspring nie. Jou beste pogings is totaal verniet, want as jy die een gevaar uitoorlê, wag die volgende een vir jou om die draai. Israel het gedink dat hulle die oordeel sou vryspring! Hulle was immers die volk van God! Waarom sou hulle dan veroordeel word? Die oordeel is dan tog iets wat bedoel is vir die heidennasies! Amos se storie het vir hulle ‘n wrede ontnugtering gebring. Eweneens het die leeu-verhaal van Marloth Park ‘n ontnugtering gebring, want die man was nie ‘n onwettige Mosambieker wat kom steel het nie, maar ‘n sekuriteitsbeampte van die dorp!
Opnames het getoon dat 70% van Suid-Afrikaners Christene is. Die vraag is of dit genoeg is om jouself met die Christelike geloof te vereenselwig om God se oordeel vry te spring? Ongelukkig is die antwoord een wat jou nekhare laat regop staan: “Nee!” Selfs al beskou jy jouself as ‘n Christen, en glo jy dat God bestaan, spring jy steeds nie die ewige straf van die onbeskryflike marteling van die hel mis nie. Terloops, die duiwel glo ook aan God!
Romeine 3:23 stel dit onomwonde: “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie”. Is daar dan ooit iemand wat dit gaan vryspring? Ja! Inderdaad! Romeine 3:24 gaan verder: “maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van Sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.” Die leeu-man van Marloth Park is gered deur iemand, hy kon homself nie red nie. Jesus Christus is die enigste Een wat ‘n mens kan red van die oordeel, jouself kan jy nie red nie! Slegs ‘n persoonlike verhouding met Jesus vrywaar jou van die oordeel. My vraag aan jou is: “het jy al daardie vrywaring?”
Gebed:
Here, dankie dat U vir my die vrywaring gegee het van die oordeel wat kom.