Genesis 28:11-22
Jakob is fisies en emosioneel totaal uitgeput as hy sy moeë liggaam op die harde grond neerlê, sy kop op ‘n plat klip. Dit was maar die eerste dag van sy drie maande lang reis, en hy voel al só! Hoe gaan hy dit óóit oorleef? Genadiglik kom die slaap feitlik oombliklik. En dan droom Jakob. Maar hierdie is nie sommer enige deurmekaar droom waarin al die opgehoopte spanning van die afgelope tyd ontlaai nie. Hierdie droom is klokhelder, en elke klein detail is so duidelik soos die werklikheid sélf.
Jakob droom dat hy staan voor ‘n stel trappe wat hier voor hom geanker is, trappe op na daar bo iewers. Hy rek sy nek om te sien waarheen hierdie eienaardige trappe lei. Op en op en op gaan die trappe tot reg in die hemel in. Maar die eienaardige is dat daar engele met die trappe op en af klim, skares van engele, oral op die leer.
Terwyl Jakob hom nog so staan en verwonder oor hierdie eienaardige leer, staan God Sélf, persoonlik hier langs Jakob. Hy skrik hom natuurlik byna dood. Het die Here nou uit die hemel afgekom om Hom, Jakob, Hakskeengryper, bedrieër te kom veroordeel? Hy mag dalk vir Esau se wraak kon vlug, maar nou het God hom gekry, vir hom, Jakob die skelm wat sy broer se erfporsie én sy seën gesteel het. God het hom wat vir sy pa gelieg het en hom boonop op verraderlike wyse mislei het, hom wat tweespalt gesaai het in die gesin van God, gekry. Vandag is die dag dat God se oordeel hom verteer!
Maar dan kom die verrassende: God veroordeel nie, maar Hy kom maak beloftes aan Jakob. Die man kan nie glo wat hy hoor nie! Die Here kom belowe hom die grond waarop hy lê, vir hom en sy nageslag. Daar sal ‘n nageslag wees? Beslis! So baie soos die stof van die aarde! En dan belowe God boonop dat Hy vir Jakob sal beskerm. Hy hoef dus gladnie so bang te wees nie! En as hierdie grond syne is, dan beteken dit mos dat hy gaan terugkeer na sy geboortegrond, is dit nie?
Jakob ontdek ‘n wonderlike ding: hy ontdek dat God baie groter is as wat ons dink, as wat ons menslike verstand kan begryp. Hy ontdek dat God nie is soos baie mense Hom voorstel nie, ‘n God wat net kyk waar Hy mense kan straf en veroordeel nie. Ons wil God visualiseer in terme van ons eie menslike gebeurtenisse. Maar God kan nóóit gemeet word aan ons menslike paradigmas nie. Hy is só anders as ons en Hy dink so verrassend anders. Hy ken ons elke diepste, fynste gevoel en gedagte. Ja, God het presies geweet van Jakob se stryd, sy wroeging. Hy het natúúrlik geweet dat Jakob alreeds besig was om die duur prys te betaal vir sy wandade. Daarom kom Hy nie met ‘n sambok en gee hom nog verder pak nie. Inteendeel, Hy kom bemoedig vir Jakob op die oomblik wat hy dit die nodigste het.
Skielik skrik Jakob wakker, sopnat gesweet. Dis pikdonker. Hy spring regop. Die trappe na die hemel is weg, en ook die duisende engele. En God - waar is God? Hy tas in die donker rond, maar daar is niks! Net die oorverdowende stilte! Jakob se hart klop in sy keel. Hy bewe van angs. “Ek het God ontmoet! Ek het nooit besef dat God hier ook is nie. Ek het gedink dat Hy net daar by Pa Isak rond is!” Die res van die nag ontwyk die slaap vir Jakob. Hy is te ontsteld om te slaap. “Hierdie is die poort na die hemel! Dit moet die plek wees waar God woon!”
As die son se eerste strale die lug rooi verkleur, bou Jakob ‘n monument vir die Here. Vol ontsag neem hy die klip wat die nag onder sy kop was, en sit hom regop neer. Sy bietjie kosbare olie word gebruik om die klip te salf. Plegtig noem hy die plek “Bet-El” - huis van God. Hierdie klippilaar sal ‘n getuie wees van sy héél eerste ontmoeting met God. Dan val Jakob neer in gebed voor God: “As U, o God by my is en my beskerm en my terugbring na my ouerhuis, sal U my Here, my God wees. Van alles wat U my gee, sal ek vir U ‘n tiende gee.”
Na ‘n ontmoeting met God is géén mens ooit weer dieselfde nie. Jakob, die vlugteling het Jakob die pelgrim geword, ‘n man met ‘n missie. ‘n Man wat in totale onverskilligheid teenoor God en sy medemens geleef het, word iemand wat Geloftes maak aan God en ‘n herinneringspilaar vir Hom oprig.
Wat nutteloos om jou was, kry skielik nuwe betekenis wanneer jy die Here ontmoet. Alles om jou verander, en jy begin met splinternuwe oë na dinge kyk. En skielik ontdek jy dat God nie maar vasgevang is in die een of ander kerkgebou nie, maar dat Hy oral is waar jy is. Jakob het ontdek dat God “Immanuel” is, God-Met-Ons. Op sy drie maande-lange reis na Haran sou God tree-vir-tree saam met hom stap. Baie jare later word dit nog baie duideliker wanneer Jesus gebore word, en vir ‘n kort rukkie kon mense fisies hierdie Immanuel-konsep ervaar. Vandag weet ons as gelowiges dat Jesus steeds Immanuel is, en al kan ons dit nie verstaan nie, kan ons tóg weet en dit ervaar dat Hy elke tree van die lewenspad saam met ons stap. In Matt 1:23 word dit duidelik uitgespel, en regdeur die Nuwe Testament lees ons dit, tot in Openbaring 21:3. Soos wat Jakob dit daardie nag ervaar het, so is Jesus vandag aan ons sy!
Gebed:
Here, soos Jakob voor U neergeval het in aanbidding, wil ek ook vandag voor U neerval. Maar nie in vrees en bewing nie, maar in dankbaarheid en blydskap omdat U Immanuel is, God-Met-My!