Handelinge 14:1-11
Paulus en Barnabas skud die stof van Antiogië van hulle voete af. Hierdie gebaar van hulle sê bloot dat hulle alle bande afsny met die mense wat hulle vervolg het en die stad uitgejaag het. Hiermee sê hulle verder dat hierdie mense hulle kans gehad het om die Evangelie te hoor en te aanvaar, en dat hulle dit luidrugtig verwerp het.
Hulle laat egter nie die stad agter om maar op te snork nie, maar hulle laat 'n lewenskragtige gemeente agter in Antiogië, 'n gemeente wat volgens Lukas vol vreugde en vol van die Heilige Gees was – só lees ons in Hand. 13:52. Hierdie wonderlike vreugde wat die mense ervaar het, is natuurlik nie afhanklik van jou lewensomstandighede nie. Dit is blydskap wat jy moet kweek deur 'n positiewe lewensuitkyk waar Jesus sentraal in jou lewe staan. Jy moet dus elke dag dankbaarheid uitleef! Later skryf Paulus juis in Filippense 4 hieroor in sy brief aan die gemeente van Filippi. Die Heilige Gees maak ons van binne af vol met Sy dankbaarheid en blydskap, en dan is dit ons verantwoordelikheid om daardie selfde dankbaarheid en blydskap na buite uit te leef.
Wanneer Paulus die Filippense brief skryf, sit hy in die tronk, 'n situasie wat beslis nie blydskap kan kweek nie! Ten spyte hiervan gee hy egter die opdrag dat daardie borrelende blydskap deel móét wees van elke gelowige se lewe, maak nie saak wát jou omstandighede is nie. Maar dit mag ook nie alleen bly by 'n innerlike blydskap nie, dit moet op jou gesig en in jou lewe wys sodat elkeen wat jou teëkom iets van hierdie blydskap kan ervaar. En inderdaad is dit uiters aansteeklik!
Van Antiogië af draai die twee manne ooswaarts en stap die 120km in blydskap af na die stad Ikonium. Weereens gaan hulle héél eerste reguit na die sinagoge en preek eers vir die Jode. Hierdie sou in die vervolg die werkswyse wees wat hulle sou volg, want die Evangelie het immers by die Jode sy oorsprong gehad.
Aanvanklik is die prediking onder die Jode in Ikonium baie vrugbaar, en Lukas berig dat daar 'n groot aantal Jode sowel as Griekssprekende mense die Evangelie aangeneem het. Maar weereens was daar 'n klompie Jode wat baie jaloers was op hulle eksklusiewe geloof, gevolglik probeer hulle om die mense teen die twee op te sweep. Paulus en Barnabas het hulle egter nie veel aan hierdie manne gesteur nie, en vir 'n geruime tyd onbevrees voortgegaan om te preek, ten spyte van die teenstand.
Lukas skryf ook dat Paulus sowel as Barnabas baie “tekens en wonders” gedoen het. Hy sê nie wat hulle gedoen het nie, maar jy kan aanneem dat hulle deur die krag van die Heilige Gees baie mense genees het. Ons sien inderdaad so 'n ietsie daarvan wanneer hulle later in Listra is. Die mense was vervul met verwondering. Maar nie almal was ewe opgewonde nie. Die Jode se opswepery het uiteindelik begin vrug afwerp, en hulle het daarin geslaag om verdeeldheid in die stad te saai tussen die aanhangers van die Evangelie en die skeptiese Jode.
Uiteindelik het daar doodsdreigemente gekom en mense het oproerig begin raak. Hulle het probeer om die twee manne aan te rand en wou hulle selfs stenig. Dan besluit Paulus en Barnabas dat hulle nie meer hulle lewens seker is in Ikonium nie, en hulle moet inderhaas op die vlug slaan.
Maar weereens stap hulle bloot met 'n lied in die hart na die volgende dorp Listra, sowat 30km suid van Ikonium.
Daar tref hulle 'n gebreklike man aan. Van geboorte af is sy voete so misvorm dat hy gladnie kan staan nie. Terwyl Paulus preek, sit die man daar aandagtig en luister na wat Paulus sê. Paulus kan maar net nie help om hom raak te sien nie. Maar hy sien in die man baie meer as net sy gebrek, hy lees in die man se oë 'n ongekende geloof. Dan kom die gedagte in sy binneste op: “Praat met die man!”
Paulus kyk die man reguit in die oë, en dan sê hy vir hom: “Staan regop, staan op jou voete!”
Verbaas kyk almal vir Paulus: “Is hy nou gek?” Hierdie is mos 'n onmoontlike opdrag! Almal weet mos dat daardie arme man nog nooit in sy lewe op sy voete gestaan het nie, en dat hy dit in der ewigheid nooit sal kan doen nie!
Maar dan spring die man regop, sy gebrek onmiddellik genees! Jy kan hoor hoe almal hulle asems intrek van verbasing. Sówat het hulle nog nóóit beleef nie! “Hierdie is nie mense nie, hulle is gode!” gons dit onder mekaar. “Die gode het soos mense geword en na ons toe afgekom!” Die skare was in vervoering! Maar ongelukkig is Paulus en Barnabas salig onbewus van wat aangaan, omdat die mense met mekaar praat in hulle moedertaal, Likaonies, 'n taal wat die twee gladnie verstaan nie.
Onwetend dat hulle 'n groot beroering veroorsaak het, gaan hulle eenvoudig voort om te preek en die Evangelie aan die mense te verkondig. Wanneer hulle later uitvind wat die ware toedrag van sake is, moet hulle inderhaas vure doodslaan. Maar hieroor berig ons DV Maandag.
Gebed:
Here, vul asseblief my hart met borrelende blydskap. En help my om dit te alle tye met my lewe en my gesig te wys om sodoende die blye boodskap van U verlossing aan die wêreld uit te dra!