Johannes 20:1-18
Het jy al ooit ‘n nagmerrie-nag beleef en elke pikdonker oomblik omgewens? Dat die môre asseblieftog net moet aanbreek! Ja, ek het al verskeie sulkes beleef. Maar daar was een in besonder wat my nou nog ‘n knop op die maag gee as ek daaraan terug dink. Ek het daardie nag met ‘n paar jong Voortrekkertjies in die bos in Marloth Park gaan uitslaap, sommer so onder die sterre. Dit was ‘n wonderlike idee - altans só het ek gedink. Maar toe die leeus die nag sommer hier baie naby begin brul en die hiënas hééltemal te naby na my sin aan ons rondgiggel en “Hoeeee”, toe begin ek half ongemaklik raak. Soos wat die nag gevorder het, het hierdie gevaarlike geluide al nader en nader aan ons beweeg. Hier sit ek met die kinders onder my sorg en ek stel hulle bloot aan sulke soort gevaar! Daardie nag het harmansdrup-stadig omgeskuifel. Toe die eerste strale van die son die horison begin verkleur, kon ek vir die eerste keer my oë toemaak en vir ‘n paar minute slaap, voordat die uitbundige kinders die ganse bos wakker gemaak het.
Net so dink ek dat daardie Sabbat sekerlik die langste een was in die ganse lewe van Jesus se volgelinge. Hulle het elke oomblik daarvan omgewens! Die Sondagoggend was dit nog pikdonker, toe Maria Magdalena al op pad was na Jesus se graf. Wat sy so vroeg daar wou gaan doen, sou nét sy weet. Dalk wou sy maar net naby haar Meester wees, al was Hy dan ook dood. Die nag was te lank en sy het troos nodig gehad. Ek sien in my geestesoog die huilende vrou wat in die donker aansukkel - bedroef omdat sy haar geliefde Meester nie eers kon bystaan in Sy donkerste uur nie.
En dan die verskriklike skok, as sy by die graf aankom en sien dat die klip weggerol is. Met ‘n hart wat in haar keel klop, hardloop sy na Petrus toe om hom die skokkende nuus te gaan vertel. Iemand het Jesus se lyk gesteel! Ek kan my die skok en afgryse op arme Petrus se gesig voorstel. “Hoe kón hulle!” het hy sekerlik geskreeu. Hy en Johannes het opgespring en so vinnig as wat hulle kon gehardloop om te gaan kyk wat aangaan. Met hygende asem was Johannes eerste by die graf. Toe hy inkyk, sien hy iets baie vreemd, dat die graf inderdaad leeg was, maar dat die doeke wat om Jesus se lyk gedraai was, steeds daar gelê het. Petrus het al hygende daar aangekom en in die graf ingekruip. Wat hy daar gevind het, het ‘n reuse vraagteken op sy gesig geplaas. Hy kon dit nie verstaan nie! Géén dief sou ‘n liggaam steel en eers die doodsdoeke afhaal nie! Selfs die doek wat om Jesus se kop gedraai was, het daar eenkant gelê, netjies opgevou. Iets was baie, baie vreemd hier! Dit het net eenvoudig nie sin gemaak nie! Ek sou wát wou gee om die gesprek te kon hoor tussen die twee bekommerde manne toe hulle huis toe stap.
Intussen het Maria weer by die graf aangekom, al huilende. Nou was haar Meester nie alleen dood nie, maar Sy lyk was boonop gesteel ook! Wat ‘n droewige situasie! Vol verwagting het sy by die graf ingeloer. Het sy dalk ‘n wonderwerk verwag - dat Jesus nog daar sou lê? En dan, die skok as sy twee baie vreemde manne met spierwit klere in die graf sien sit. Dit was eers baie later wat sy besef het dat hulle engele was. Die hemel het waarlik oopgegaan met Jesus se opstanding, net soos wat Jesus voorspel het in Johannes 1:51. Toe sy omdraai, het sy iemand agter haar sien staan. Deur haar trane het sy Hom eers gladnie herken nie - Hy was die héél laaste Persoon wat sy daar sou verwag. Maar toe Jesus haar vol deernis op haar naam aanspreek, was dit asof die skille van haar oë afgeval het. Hy leef! Sy wou Hom vasgryp en nooit óóit weer los nie! Maria Magdalena was oorstelp van vreugde - dan het alles tóg gebeur soos wat Hy voorspel het! In my geestesoog sien ek die prentjie voor my, van Maria wat waarskynlik aan die voete van haar geliefde Rabboenie, haar Leermeester neerval en Hom om die bene gryp en vashou en druk van pure blydskap. Sy sou sékerlik sy voete onbeheers gesoen het en gehuil het van vreugde!
Toe gee Jesus haar ‘n opdrag. Sy moes nie hier aan Hom vasklou nie, maar sy moes eers vir die ander gaan vertel wat sy gesien het. Sy moes ‘n getuie wees van die opgestane Jesus. Later sou Jesus Sélf hierdie getuienis van haar kom bekragtig. Maar nou moes sy eers die ongelooflike nuus gaan oordra.
Maria het nie gras onder haar voete laat groei nie. “Ek het die Here gesien!” het dit oor haar lippe geborrel toe sy by die ander aankom, “Ek het die Here gesien!” Toe sy tot bedaring kom, vertel sy verder: “Hy het gesê dat Hy na Sy Vader toe gaan opvaar. En Hy het ook gesê dat Sy Vader óns Vader is, en dat Sy God óns God is!” Oor en oor het Maria sékerlik hierdie wonderlike getuienis vertel aan elkeen wie sy teëgekom het. Sy kon net eenvoudig hieroor nie stilbly nie. Die Here het wáárlik opgestaan!
Is dit nie ironies nie, dat ‘n eenvoudige vrou wat niks beteken in die samelewing nie, die eerste kragtige getuie word vir die opgestane Jesus! En dan dink ons onwillekeurig terug aan die Samaritaanse vrou by die put, dié een met die uiters twyfelagtige karakter! Ja, sy het ‘n hele dorp in beroering gehad met haar getuienis oor Jesus. Dan het ek en jy absoluut géén verskoning om ook ‘n getuie te wees nie. Kom ons maak werk daarvan, en wees getuies van dié Jesus wat opgestaan het en wat vandag lewe en regeer!
Gebed:
Here, maak my asseblief ‘n kragtige getuie vir U. Gee my asseblief die vrymoedigheid om vir U te getuig teenoor almal wat ek teëkom.