Lukas 24:1-12
Jesus is gekruisig. Hy het die laaste asem uitgeblaas en gesterf. ‘n Sekere Josef, ‘n Joodse Raadslid uit die dorpie Arimatea het sy eie lewe gewaag deur na Pilatus toe te gaan om Jesus se liggaam te gaan vra. As sy kollegas hiervan sou uitvind, was dit klaarpraat met hom. Josef was ‘n vermoënde man. Hy het ‘n splinternuwe rotsgraf besit, iets wat min mense beskore was. In sy graf is Jesus begrawe. Die gebruik was om ‘n gestorwene in so ‘n graf te laat totdat al die vleis vergaan het, waarna die graf weer oopgemaak en die bene in ‘n kruik gebêre word.
Die Sondagmôre bitter vroeg stap drie vroue, Maria Magdalena, Johanna en Maria (Jakobus se ma) na die graf toe om te gaan doen wat hulle Vrydagmiddag al wou gedoen het, om hulle gestorwe Meester se lyk te gaan versorg. Dit is tog so ironies, dat hulle alles gehoor het wat Hy gesê het, óók dat Hy op die derde dag sou opstaan, maar dit het nie ingesink nie. Só ‘n groot wonderwerk was gans te onverstaanbaar vir hulle. Dis vandag steeds te groot vir ‘n paar geleerde manne se verstandjies!
Met hulle reukolies en mirre stap hulle al huilende na die graf wat Josef so goedgunstiglik vir Jesus aangebied het.
En dan die verskriklike skok! Die klip voor die graf is weggerol! Haastig hardloop hulle daarheen, en nog groter is die skok as hulle sien dat die graf leeg is. “Iemand het ons geliefde Meester se lyk gesteel!” So groot is die skok, dat hulle nie eers die twee wesens sien wat by die graf staan nie, manne met skitterblink klere aan.
Skielik merk die vroue die twee engele, en hulle skrik hulle boeglam! Dan verduidelik die engele omslagtig dat Jesus immers vir hulle gesê het dat Hy sou sterf en dan weer sou opstaan. Dan begin alles vir hulle in plek val. Hulle onthou wat Jesus gesê het, en nou begin dit alles sin maak. Stadig val dit soos die blokkies van ‘n legkaart inmekaar.
Baie haastig hardloop die vroue terug om hierdie wonderlike nuus vir die ander dissipels te gaan vertel.
Stel jou die prentjie voor: die drie vrouens kom uitasem daar aangehardloop. Hulle babbel deurmekaar en die arme dissipels probeer vergeefs sin uitmaak van hierdie stortvloed van woorde. Hulle is baie opgewonde, en Petrus-hulle kan dit net eenvoudig nie verstaan nie. Wat veronderstel was om ‘n bitter droewige dag te wees, is skielik vir hierdie drie “deurmekaar” vroumense ‘n jubelfees.
Wanneer hulle uiteindelik sin maak van wat die vrouens probeer sê, kan hulle stééds nie glo dat hierdie dinge werklik waar is nie, en hulle maak dit summier af as onsin. Dis ‘n groot droom wat in die vroumense se koppe afgespeel het! Jesus is dood! Hulle het dit tog sélf met hulle eie oë gesien! Hy is begrawe. Dis verby! Alles is een groot nagmerrie!
Vir een man het hierdie dinge nou hééltemal te veel geword. Petrus het só gewens dat dinge anders kon wees - sy verskriklike verraad teen sy geliefde Meester daardie nagmerrie Donderdagnag. Hy sou letterlik na enige ou grashalmpie gryp om dinge te kon verander. Hierdie nuus van die vroue, hoe verregaande dit ookal mag klink, was vir Petrus ‘n strooihalmpie van hoop. Haastig spring hy op en hardloop na die graf toe. Wat sal hy daar aantref? Die vroue het seker maar by die verkeerde graf uitgekom! Dit maal deur sy verwarde gemoed. As dit tog maar net waar kan wees! Sê nou maar net....... Die gevolge van ‘n opstanding (as dit ooit moontlik kan wees) is te groot vir sy verwarde verstand om te verwerk.
As Petrus nog ver van die graf af is, gee sy hart ‘n wilde sprong. “Dit is dan tóg waar!” besef hy skielik met ‘n skok. Met bewende knieë strompel hy die laaste treë tot by die oop graf. Sy hele liggaam bewe as hy vooroor buk om by die klipgat in te loer. Binne sien hy die doeke lê, die doeke wat Josef spesiaal gaan koop het om Jesus in toe te draai. Verder is daar niks, géén liggaam nie. Niemand sal tog so mal wees om ‘n lyk te steel, en die doeke waarin dit toegedraai is net daar los nie!
Uitasem hardloop Petrus terug om die nuus met die ander te gaan deel. Hy weet nog nie mooi wat om hiervan te maak nie. Dit is hééltemal te groot vir sy verwarde verstand om te begryp. Waar sy Meester is, weet hy nie, maar wat hy wél weet is dat Jesus nie dood is nie: Hy léwe! Hy het wáárlik opgestaan!
Raak jy nog opgewonde oor Jesus se opstanding? Is Paassondag nog vir jou ‘n dag van jubeling en borrelende blydskap? Baie mense is vandag skepties oor hierdie gebeure, maar die feit is dat niemand, nie eers die heidene, praat van “oorlede” Jesus nie. Hiermee word selfs die mees skeptiese persoon gedwing om te erken dat Jesus lééf, en dat Hy waarlik opgestaan het. Vir ‘n gelowige beteken dit nog soveel meer, want dit beteken dat Jesus, soos Hy belowe het, vandag, hier en nou, by ons is!
Mag hierdie Paassondag jou weer opgewonde maak, want Hy leef! Hy het waarlik opgestaan!
Gebed:
Dankie, dankie, dankie Jesus, dat U gedoen het soos U belowe het, en dat U nie alleen lewe nie maar ‘n lewende verhouding met ons het.