Efesiërs 5:21-33
Het jy al ooit voëls dopgehou gedurende broeityd? Hoe hulle nesmaak en kleintjies uitbroei? Ek staan dikwels verstom wanneer ek al die bedrywighede gadeslaan. Die passie waarmee wewermannetjies behendig ‘n nes vleg om maar net verwerp te word deur ‘n kieskeurige wyfie! Dis egter veral die neushoringvoëls wat my verbeelding aangryp. Die wyfie word saam met die kleintjies in ‘n gat in ‘n boomstam toegemessel, met slegs ‘n klein gleufie wat oop bly. En daar bly hulle totdat die kleintjies groot genoeg is om uit te kom.
Ma se taak is eenvoudig: sy moet die kleintjies suksesvol grootkry en hulle kry haar onverdeelde aandag 24 uur per dag. Pa se taak is ewe eenvoudig, dat daar soveel kos as moontlik nes toe aangedra word, sodat die kleintjies vinnig kan groei. Natuurlik moet ma ook oorleef! Sy het immers al haar vere vir die kroos uitgepluk en genoeg kos is nou noodsaaklik om haar veredos weer mooi te kry.
Pa-neushoring het net een ding in sy gedagtes: vroulief en die kroos. Van vroeg tot laat sloof hy homself af vir hulle, sonder om aan sy eie welstand te dink. Hy stop net so af en toe om haastig ietsie te sluk en dan is dit maar weer werk, werk, werk. Kort-kort hoor jy die kleintjies skree dat Pa nou moet róér, want hulle is honger! Vir Ma hoor jy egter nooit skree op haar hardwerkende man nie. Laat mens nogal dink né?
Die Bybelse voorskrif vir verhoudinge binne die huwelik word dikwels moedswillig verkeerd verstaan. Ons lees graag: “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig” (vers 22), en dan haak ons net daar vas, en lees nie die res nie. Om die hele gedeelte reg te verstaan, moet ons egter by vers 21 begin lees, want hier staan dat gelowiges aan MEKAAR onderdanig moet wees uit eerbied vir Christus! Die opdrag aan die vrou om onderdanig te wees aan haar man, is deur die eeue gruwelik misbruik. Nêrens staan daar dat die man baas is en die vrou sy slaaf nie! Tóg is dit hoe baie mans dit dikwels interpreteer en dan só op sy arme vrou afdwing.
Want dis mos Bybels!
Dit is eers wanneer ons verder lees, dat ons sien dat die opdrag aan die man is om sy vrou só lief te hê soos Christus die kerk liefgehad het. Hoe lief het Hy die kerk gehad? Hy het selfs sy lewe daarvoor afgelê! Hierdie twee opdragte, asook die een in vers 21 moet saamgelees word as ‘n eenheid. Die man en vrou moet dus aan mekaar onderdanig wees. Die vrou het egter ‘n besonderse opdrag om die leiding van die man in die huwelik te aanvaar. Terselfdertyd het die man ’n besonderse opdrag, nie om baas te wees in die huwelik nie, maar die liefhê-ding. Ons het oor en oor gelees dat ons as gelowiges mekaar moet liefhê, maar in die huwelik moet hierdie liefde ‘n stappie verder geneem word. Net soos daardie neushoringvoël onbaatsugtig, nie aan homself dink nie, maar slegs sy vroutjie se belang soek, so moet die man se liefde vir sy vrou totaal selfverloënend wees!
Die verhouding binne ‘n huwelik word vergelyk met die verhouding tussen Jesus en die kerk. As ons maar net gaan kyk na Jesus se lewe as Mens, dan is daar ‘n paar baie interessante dinge wat na vore kom. Jesus het op alle terreine onvoorwaardelik die leiding geneem, nogtans het hy nie die dissipels of Sy volgelinge oorheers nie. Nóóit het ons gesien dat Hy sou terugsit en dat hulle die werk moes doen nie. Nee, Hy was al die tyd saam met hulle in die tuig. Ons sien nêrens dat hulle Hom moes bedien nie. Om die waarheid te sê: Hy het eerder húlle vuil voete gewas! En toe die moeilike tye kom was Hy bereid om die pad enduit alléén verder te stap en Sy lewe op te offer vir Sy volgelinge. Van die dissipels is egter verwag om Sy leiding te volg en onderdanig aan Hom te wees.
As hierdie soort riglyn in ‘n huwelik geld, kan dit nie anders as om ‘n reuse sukses te wees nie. As ek my vrou só selfopofferend liefhet soos Christus Sy kerk, kan dit nie vir haar moeilik wees om aan my onderdanig te wees en my leiding te aanvaar nie. Terselfdertyd is dit ook waar, dat as ‘n vrou haar man baie spesiaal laat voel deur haar optrede, deur byvoorbeeld te wys dat hy die enigste een vir haar is en dat hy die koning in hulle huis is, dan kan dit nie anders as om sy liefde vir haar na groot hoogtes aan te spoor nie.
Die huwelik is beslis nie ‘n eenmansaak nie, maar ‘n hegte vennootskap waaraan albei partye ewe hard werk. Elkeen moet sy kant bring met volle oorgawe. Terselfdertyd moet beide ook besef dat Christus alleen die Hoof van die huisgesin is.
Hoe wonderlik dat die omgekeerde ook waar is, dat die huwelik juis gebruik word om die verhouding tussen Jesus en die kerk te demonstreer. In vers 32 pas Paulus hierdie verhouding toe en sê dat my huweliksverhouding sodanig moet wees dat mense die kerk daarin kan sien. Dit plaas ‘n geweldige verantwoordelikheid op my huwelik, want ek moet besef dat God my huwelik gebruik om die ongelowige iets te laat begryp van die wonder van die verhouding tussen ons, die bruid en Jesus Christus die Bruidegom.
Gebed:
Here, daar is so baie terreine in my huwelik waar ek ver tekort skiet. Help my asseblief om hard daaraan te werk.