Huwelik uit die Hemel

18 November, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Huwelik uit die Hemel

Rut 4:13-22

Boas het met Rut getrou. Kort en kragtig gee die skrywer van die Rut-verhaal slegs die héél belangrikste feite. Maar moenie glo dat dit so eenvoudig gebeur het nie. Na die spanningsvolle nag op die dorsvloer en die onderhandelinge in die stadspoort, is al die spanning skielik verby. Die nuus versprei soos ‘n veldbrand, en nog lank voordat Boas by Rut kan uitkom om haar die jawoord te vra, weet sy én die hele Betlehem al dat hulle gaan afhaak!

Rut en Naomi het in spanning sit en wag om die uitkoms van die onderhandelinge te hoor, maar Boas was nog besig om die seëninge van sy vriende te kry, toe een van die vroue al by die twee aangehardloop kom: “Boas sê hy gaan met jou trou Rut!”

Rut en Naomi val mekaar om die nek en huil van blydskap. “Dankie Here, God wat voorsien, U het weereens vir ons gesorg. U het voorsien waar alles onmoontlik gelyk het. Dankie Here, dankie!” Naomi is oorstelp van vreugde. Dit lag en dit huil, alles deurmekaar. Die vreugde is baie, baie groot.

Wanneer Boas uiteindelik daar aankom om vir Rut die nuus mee te deel, is hy teleurgesteld om te verneem dat sy al lankal weet. “Vroumense!” mompel hy, en dan lag hy, want wat anders moes hy verwag het?

Die hele Betlehem is in rep en roer - Boas en die pragtige Moabitiese meisie, Rut trou. Vir ‘n volle week lank word daar aanmekaar fees gevier en bruilof gehou. Boas is ‘n vermoënde man, en hy kan bekostig om sommer groot makitie te hou.

Nege maande was skaars verby, toe breek die tyd aan dat Rut en Boas se eersteling gebore moet word. Die skrywer van die Rut-verhaal stel dit duidelik en onomwonde: “Die Here het vir Rut swanger laat word.” Sulke dinge gebeur nie sommer net nie! Die hand van God word duidelik hierin erken. En weereens is die hele Betlehem natuurlik in rep en roer. Die manne steur hulle nou nie juis aan sulke bog soos babas nie, maar onder die vroue gons dit behóórlik. “Gaan dit ‘n seuntjie wees?” Soos ‘n swerm bye koek hulle saam om die huis.

En dan kom die mooiste geluid wat die mens sekerlik nog ooit gehoor het - ‘n baba wat skreeu. “Dis ‘n seun!” skree die vroedvrou opgewonde vir die omstanders. “Dis ‘n gesonde seuntjie! Prys die grote Naam van die Here!”

Alle lof aan die Here,” sê een van die vroue vir Naomi, wat wil bars van trots, “want Hy het vandag vir jou ‘n losser gegee.”

Ja,” beaam ‘n ander vrou, “mag die losser se naam bekend wees in Israel.”

En mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg!” voeg ‘n ander haar stem by terwyl sy ‘n paar vrolike danspassies uitvoer.

Naomi, daardie skoondogter van jou mag dalk ‘n Moabiet wees, maar sy is vir jou meer werd as sewe seuns. Ons kan mos almal sien hoe lief sy jou het.” Naomi is baie aangedaan oor al hierdie aandag!

Terwyl Rut rus na die bevalling, bring die vroedvrou die klein bondeltjie vreugde vir Naomi, ten aanskoue van broeis vroue wat “Oeee” en Aaaah”. Trane van blydskap stroom oor haar wange as sy die brose baba op haar skoot neem. “Vandag neem ek jou aan as my eie kind!” hoor die vroue haar sê.

Obed, so moet jy hom noem Naomi, Obed. ‘n Seun is vir Naomi gebore.” Die buurvroue het gespreek, en Naomi was tevrede.

En so kom die verhaal van Rut en Naomi tot ‘n einde. Maar tussen die begin en einde van hierdie kort verhaal, lê daar baie dinge opgesluit. Ons het gesien hoedat Naomi en Rut nie gaan stilsit het toe die ongeluk hulle tref nie. Ons het gesien hoe kreatief hulle te werk gegaan het en alles in die stryd gewerp het om die saak te beredder. Ons het gesien dat hulle selfs bereid was om groot risiko’s te loop. En wanneer Boas in die prentjie kom, tree hy nét so kreatief op.

Maar tussen alles deur sien ons dat dit eintlik God is wat die oplossings gee en uiteindelik ook die nageslag gee. Regdeur die verhaal sien ons die hand van God.

Maar Rut se verhaal eindig eintlik gladnie hier nie. In ‘n naskrif sien ons ‘n kort geslagsregister. Klein Obed word jare later die pa van Isai. Isai se seun, Dawid word die grootste koning wat Israel ooit gehad het. Maar belangriker nog: 1200 jaar later word daar in dieselfde dorp waar klein Obed gebore is, Betlehem, wéér ’n Baba gebore. Hy is uit die nageslag van Dawid - Jesus die Messias! ‘n Moabitiese meisie uit ’n heidense land, wat nie deel van God se volk is nie, en wat eens deur die inwoners verwerp is, word opgeneem in die geslagslyn van Jesus. Rut se verhaal is dus waarlik die Huwelik uit die Hemel!

Vandag is die wonder dat ek en jy ook deel kan wees van Jesus se familie. Alles, alles is genade!

Gebed:

Here, dankie vir hierdie wonderlike verhaal van Rut en Naomi en van U groot genade.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024
Onverskrokke
14 May, 2024
Vuur uit die Hemel
13 May, 2024
Om te Wag op die Gees
10 May, 2024