Rut 4:13-22
Boas het met Rut getrou. Kort en kragtig gee die skrywer van die Rut-verhaal slegs die héél belangrikste feite. Maar moenie glo dat dit so eenvoudig gebeur het nie!
Rut was ‘n Moabitiese meisie. In Moab het sy met Kiljon, een van Naomi se seuns getrou. Nadat ‘n tragedie hulle getref het en Rut se skoonpa sowel as haar man dood is, besluit Naomi om terug te gaan na Judea, haar geboorteland. Rut besluit egter om saam te gaan. Naomi het haar probeer oorreed om in Moab agter te bly, maar Rut het geweier. Toe sê Rut, ‘n heidense meisie hierdie treffende woorde: “Waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê 'n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”
Dit was nie maklik terug in Betlehem in Judea nie, en die twee weduwees het gesukkel om kop bo water te hou. Dit was veral moeilik vir Rut omdat sy ‘n Moabiet was en nie aanvaar was deur die Israeliete nie. Maar God se genade is baie groter as mense se verwerping, en só voorsien Hy dat ‘n sekere man met die naam Boas haar onder sy vlerk neem, deur haar toe te laat om are op te tel waar hy besig was om te oes. Sodoende kon hulle genoeg kry om van te lewe. Lui die naam Boas dalk ‘n klokkie? Natúúrlik! Hy was die seun van Ragab, die prostituut van wie ons gister gehoor het!
Om ‘n lang storie kort te maak, is Rut en Boas getroud na baie intriges en drama.
Nege maande was skaars verby, toe breek die tyd aan dat Rut en Boas se eersteling gebore moet word. Die skrywer van die Rut-verhaal stel dit duidelik en onomwonde: “Die Here het vir Rut swanger laat word.” Sulke dinge gebeur nie sommer net nie! Die hand van God word duidelik hierin herken. En weereens is die hele Betlehem natuurlik in rep en roer. Die manne steur hulle nou nie juis aan sulke bog soos babas nie, maar onder die vroue gons dit behóórlik. “Gaan dit ‘n seuntjie wees?” Soos ‘n swerm bye koek hulle saam om die huis.
En dan kom die mooiste geluid wat die mens sekerlik nog ooit gehoor het, ‘n pasgebore baba wat skreeu. “Dis ‘n seun!” skree die vroedvrou opgewonde vir die omstanders. “Dis ‘n gesonde seuntjie! Prys die grote Naam van die Here!”
“Alle lof aan die Here,” sê een van die vroue vir Naomi, wat wil bars van trots, “want Hy het vandag vir jou ‘n losser gegee.”
“Ja,” beaam ‘n ander vrou, “mag die losser se naam bekend wees in Israel.”
“En mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg!” voeg ‘n ander haar stem by terwyl sy ‘n paar vrolike danspassies uitvoer.
“Naomi, daardie skoondogter van jou mag dalk ‘n Moabiet wees, maar sy is vir jou meer werd as sewe seuns. Ons kan mos almal sien hoe lief sy jou het.” Naomi is baie aangedaan oor al hierdie aandag!
Terwyl Rut rus na die bevalling, bring die vroedvrou die klein bondeltjie vreugde vir Naomi, ten aanskoue van broeis vroue wat “Oeee” en Aaaah”. Trane van blydskap stroom oor haar wange as sy die brose baba op haar skoot neem. “Vandag neem ek jou aan as my eie kind!” hoor die vroue haar sê.
“Obed, so moet jy hom noem Naomi, Obed. ‘n Seun is vir Naomi gebore.” Die buurvroue het gespreek, en Naomi was tevrede.
En so kom die verhaal van Rut en Naomi tot ‘n einde. Maar tussen die begin en einde van hierdie kort verhaal, lê daar baie dinge opgesluit. As jy die aangrypende verhaal lees, sien jy hoedat Naomi en Rut nie gaan stilsit het toe die ongeluk hulle tref nie, en hoe kreatief hulle te werk gegaan het en alles in die stryd gewerp het om die saak te beredder. Hulle was selfs bereid om groot risiko’s te loop. En toe Boas in die prentjie kom, het hy nét so kreatief opgetree.
Tussen alles deur sien ons egter dat dit eintlik God was wat die oplossings gegee het en uiteindelik ook die nageslag gegee het. Regdeur die verhaal sien ons die hand van God.
Maar Rut se verhaal eindig eintlik gladnie hier nie. In ‘n naskrif sien ons ‘n kort geslagsregister. Klein Obed word jare later die pa van Isai. Isai se seun, Dawid word die grootste koning wat Israel ooit gehad het. Maar belangriker nog: 1200 jaar later word daar in dieselfde dorp waar klein Obed gebore was, Betlehem, wéér ’n Baba gebore. Hy is uit die nageslag van Dawid - Jesus die Messias! ‘n Moabitiese meisie uit ’n heidense land, wat nie deel van God se volk was nie, en wat eens deur die inwoners verwerp was, word opgeneem in die geslagslyn van Jesus. Rut se verhaal is dus waarlik die Huwelik uit die Hemel!
Vandag is die wonder dat ek en jy ook deel kan wees van Jesus se familie. Alles, álles is genade!
Lees gerus die volle wonderlike verhaal van Rut by die skakeltjie hier onder.
http://bit.ly/ebRutAfr (Afrikaans)
http://bit.ly/ebRuth (English)
Gebed:
Here, dankie vir hierdie wonderlike verhaal van Rut en Naomi en van U groot genade!