Hoogmoed en Nederigheid
Matteus 23:1-12
Daar was eenmaal ‘n haan op ‘n plaaswerf, ‘n rooie met goue haailaaits wat sy blink veredos ékstra laat skitter in die oggendson. Op sy kop het ‘n kroon gepryk, ‘n trotse bloedrooi kam wat windmakerig kiertsregop staan. As Haan oor die werf stap, weet almal: hier kom die baas! Haan se een groot taak in die lewe was om te sorg dat die son elke oggend opkom. Kort voor dagbreek klim hy tot héél bo op die stellasie. Hy skud sy vere reg, haal diep asem, en dan kraai hy ‘n reuse kraai wat die biesies laat bewe en weergalm oor die werf. Trots kyk hy dan na die horison, want op daardie oomblik steek die son sy kop daar uit. Selfvoldaan dink die hoenderhaan: “Is ek nou goed, of wat? Wanneer ék kraai, dan gehoorsaam die son! Is ek nou goed, of is ek GOED!” Al die diere op die werf het met groot agting en ontsag toegekyk hoedat Haan dag-vir-dag die son uit die grasveld laat verrys.
Op ‘n mooi dag verjaar vark, en hy gooi ‘n groot partytjie. Tot laatnag het dit gerinkink, en natuurlik was Haan weer die voordanser. Maar toe gebeur die tragiese ding in Haan se lewe: die volgende oggend verslaap hy totaal. Toe Haan die slaap uit sy benewelde oë vryf, sien hy tot sy ontsteltenis dat die son alrééds hoog sit! Haan skrik so groot dat hy bo van die stellasie afval. Tot sy groot skok moes hy uitvind dat dit toe nóóit hy wat Haan is wat die son laat opkom nie. Haan was verslae......
Ons tref Jesus aan, waarskynlik in die tempel, waar Hy die vyfde en laaste van Sy groot preke lewer. Die Fariseërs en Skrifgeleerdes word geroskam. Die afgelope paar dae het hulle uit hulle pad gegaan om Jesus te probeer vastrek. Nou is dit Sý beurt om die dissipels en die skare nuuskieriges te waarsku teen die leer van hierdie hoogmoedige kerkleiers.
Jesus misken nie hulle gesag nie, net soos wat Hy by ‘n vorige geleentheid ook gewys het dat ‘n mens die regering se gesag moet erken, selfs al is dit ‘n heidense, onderdrukkende, onregverdige gesag. Inderdaad het hierdie mense se geleerdheid aan hulle groot koppe besorg. Hulle wou hiet en gebied, en hulle het allerhande soort voorskrifte gemaak wat die gewone mense net eenvoudig MOES gehoorsaam. Maar in hulle slimmigheid het hulle vir hulleself skuiwergate gelos, sodat hulle hulle eie wette kon vryspring wanneer dit hulle pas. Om 'n voorbeeld te noem: Die Sabbat was een van hulle groot kopsere, en daarom het hulle 'n klomp wette rondom die Sabbat gemaak sodat iemand nie dalk per ongeluk die groot Sabbatswet oortree nie. Een van die Sabbatswette handel oor hoe ver jy mag reis op 'n Sabbat. Dit is vasgestel op 2000 El of omtrent 880m. Die enigste uitsondering wat gemaak kan word, is wanneer jy op die water ('n skip) is, en jy uiteraard nie die afstand wat die skip beweeg kan beheer nie. Hulle het toe 'n ent verder gegaan met hierdie wet, en gesê, dat as jy nou 'n sak vol water op 'n wa sou sit, en jy sit daarop, dan is jy mos op water, en dan kan jy so ver ry as wat jy wil!
Ongelukkig het dit vir hierdie mense nie alleen gegaan oor die wette waarop hulle so gesteld was nie, maar ook oor hulle eie aansien. Hulle moes aangespreek word op die regte manier, om hulle status te vereer, en hulle het altyd die beste sitplekke gekry. Hulle het hulleself baie vroom voorgedoen, maar hulle het hulle vroomheidspraktyke sorgvuldig uitgekies sodat dit maklik was om uit te voer. Hulle kleredrag en gebedsbande en tossels het hulle onderskei as “hoogheilige” mense, en hulle wou dit vir die wêreld wys deur die bande en tossels uitermate groot en opsigtelik te maak.
Jesus het die gevaar sien kom vir die dissipels, wat die toekomstige leiers van die kerk sou wees. Hulle moes versigtig wees om nie in dieselfde strik as die Fariseërs te trap nie. Dit sou so maklik wees om jouself te sien as iemand wat groot dinge in die lewe bereik het. Nederigheid is die antwoord. In die kerk is ons almal gelyk. Leiers is daar om rigting te gee aan die kerk se werksaamhede, en nie vir eer en status nie. Om byvoorbeeld Leierouderling te wees, beteken nie dat jy nou ‘n trappie hoër as die res van die gemeente is nie. Dit beteken bloot dat jy ‘n spesifieke taak het om te verrig. Dieselfde geld vir die Leraar en selfs die moderator, of watter pos jy ookal vul. “Julle is almal broers,” het Jesus gesê. Nederigheid, is die groot wagwoord. Het Jesus nie hierdie dinge so prakties uitgeleef nie? Kyk maar hoedat Hy die manne se vuil voete gewas het, en hoe Hy saam met die uitgeworpenes partytjie gehou het.
‘n Kêrel vertel eenmaal van ‘n besoek wat hy gebring het aan ‘n groot teoloog, Dr. John Broadus. Daardie aand sê Dr. Broadus vir hom om sy skoene voor sy deur te los. Die volgende oggend kry hy sy skoene blinkgepoets. Na ‘n paar dae gaan loer hy om te sien watter bediende so fluks is, sodat hy hom ’n fooitjie kon gee, en tot sy verbasing kry hy Dr. Broadus sélf voor sy deur, besig om skoene blink te vryf. Geen taak, hoe nederig ookal, was benede hierdie groot teoloog nie. Christenskap gaan nie daaroor om gedien te word nie, maar om sélf nederig te dien.
Gebed:
Here, genees my asseblief vandag van my hoogmoed, en maak my nederig en diensbaar in U Koninkryk.