Matteus 23:1-12
Daar was eenmaal ‘n haan op ‘n plaaswerf, ‘n rooie met goue haailaaits wat sy blink veredos ékstra laat skitter het in die oggendson. Op sy kop het ‘n kroon gepryk, ‘n trotse bloedrooi kam wat windmakerig kiertsregop gestaan het. As Haan oor die werf gestap het, het almal geweet: hier kom díé Haan! Sy een groot taak in die lewe was om te sorg dat die son elke oggend opkom. Kort voor dagbreek het hy tot héél bo-op die stellasie geklim, sy vere reggeruk en diep asemgehaal. Dan het hy ‘n reuse kraai gegee wat die biesies laat bewe en weergalm het oor die werf. Trots het hy dan na die horison gekyk, want op daardie oomblik sou die son sy kop daar uitsteek. Selfvoldaan het die hoenderhaan dan gedink: “Daar hét jy dit! Wanneer ék kraai, dan gehoorsaam die son! Is ek nou goed, of is ek GOED?!” Al die diere op die werf het met groot agting en ontsag toegekyk hoedat Haan dag-vir-dag die son uit die grasveld laat verrys.
Op ‘n mooi dag verjaar vark, en hy gooi ‘n groot partytjie. Tot laatnag het dit gerinkink, en natuurlik was Haan weer die voordanser. Maar toe gebeur die tragiese ding in Haan se lewe: die volgende oggend verslaap hy totaal! Toe Haan die slaap uit sy benewelde oë vryf, sien hy tot sy ontsteltenis dat die son alrééds hoog sit! Haan het só groot geskrik dat hy bo van die stellasie afgeval het. Tot sy groot skok moes hy uitvind dat dit toe nóóit hý was wat die son laat opkom nie. Haan was verslae...…!
Ons tref Jesus aan, waarskynlik in die tempel waar Hy die vyfde en laaste van Sy groot preke lewer. Die Fariseërs en Skrifgeleerdes word geroskam. Die afgelope paar dae het hulle uit hulle pad gegaan om Jesus te probeer vastrek. Nou is dit Sý beurt om die dissipels en die skare nuuskieriges te waarsku teen die leer van hierdie hoogmoedige kerkleiers.
Jesus misken nie hulle gesag nie, net soos wat Hy by ‘n vorige geleentheid ook gewys het dat jy die regering se gesag moet erken, selfs al is dit ‘n heidense, onderdrukkende, onregverdige gesag. Inderdaad het hierdie mense se geleerdheid aan hulle groot koppe besorg. Hulle wou hiet en gebied en hulle het allerhande soort voorskrifte gemaak wat die gewone mense net eenvoudig MÓÉS gehoorsaam. Maar in hulle slimmigheid het hulle vir hulleself skuiwergate gelos sodat hulle hulle eie wette kon vryspring wanneer dit hulle pas. Om 'n voorbeeld te noem: Die Sabbat was een van hulle groot kopsere, en daarom het hulle 'n klomp wette rondom die Sabbat gemaak sodat iemand nie dalk per ongeluk die groot Sabbatswet sou oortree nie. Een van die Sabbatswette handel oor hoe ver jy mag reis op 'n Sabbat. Dit is vasgestel op 2000 El of omtrent 880m. Die enigste uitsondering wat gemaak kon word, was wanneer jy op die water, oftewel 'n skip was en jy uiteraard nie die afstand wat die skip beweeg kon beheer nie. Hulle het toe 'n ent verder gegaan met hierdie wet en gesê, dat as jy nou 'n sak vol water op 'n wa sou plaas en jy sit daarop, dan is jy mos op water en dan kan jy so ver ry as wat jy wil!
Ongelukkig het dit vir hierdie mense nie alleen gegaan oor die wette waarop hulle so gesteld was nie, maar ook oor hulle eie aansien. Hulle moes aangespreek word op die regte manier om hulle status te vereer, en hulle het altyd die beste sitplekke gekry. Hulle het hulleself baie vroom voorgedoen, maar hulle het hulle vroomheidspraktyke sorgvuldig uitgekies sodat dit maklik sou wees om uit te voer. Hulle kleredrag, gebedsbande en tossels het hulle onderskei as “hoogheilige” mense en hulle wou dit vir die wêreld wys deur die bande en tossels uitermate groot en opsigtelik te maak.
Jesus het die gevaar sien kom vir die dissipels, want hulle sou die toekomstige leiers van die kerk wees. Hulle moes baie versigtig wees om nie in dieselfde strik as die Fariseërs te trap nie! Dit sou so maklik wees om jouself te sien as iemand wat groot dinge in die lewe bereik het. Nederigheid is van uiterste belang, want in die kerk is ons almal immers gelyk! Leiers is daar om rigting te gee aan die kerk se werksaamhede en nie vir eer of status nie. Om byvoorbeeld leierouderling te wees, beteken nie dat jy nou ‘n trappie hoër is as die res van die gemeente nie. Dit beteken bloot dat jy ‘n spesifieke taak het om te verrig. Dieselfde geld vir die leraar en selfs die moderator, of watter pos jy ookal vul. “Julle is almal broers,” het Jesus gesê. Nederigheid, is die groot wagwoord. Het Jesus nie júís hierdie dinge so prakties uitgeleef nie? Kyk maar hoedat Hy die manne se vuil voete gewas het en hoe Hy saam met die uitgeworpenes partytjie gehou het!
Die verhaal word vertel van iemand wat ‘n besoek gebring het aan die groot teoloog, dr. John Broadus. Daardie aand sê dr. Broadus vir hom om sy skoene voor sy deur te los. Die volgende oggend kry hy sy skoene blinkgepoets. Na ‘n paar dae gaan loer hy om te sien watter bediende so fluks is, sodat hy hom ’n fooitjie kon gee, en tot sy verbasing kry hy dr. Broadus sélf voor sy deur, besig om skoene blink te vryf. Géén taak, hoe nederig ookal was benede hierdie groot teoloog nie. Christenskap gaan nie daaroor om gedien te word nie, maar om sélf nederig te dien.
Gebed:
Here, genees my asseblief vandag van my hoogmoed, en maak my nederig en diensbaar in U Koninkryk!