Daniël 10:10-17
Die gordyn word vir ons vanoggend so op ‘n skrefie oopgetrek sodat ons kan loer na wat aangaan in die geesteswêreld. Ons dink dat dit slegs hier op vleeslike vlak is waar al die oorloë aangaan. Die bloedige oorlog tussen Israel en Hamas het nou al duisende lewens geëis en derduisende staar ‘n hongerdood in die gesig. In Suid-Soedan is daar reeds honderdduisende dooies, miljoene ontheemdes en hongersnood. Die Rusland–Oekraïne oorlog se einde is nog baie ver weg. Dan is daar die Midde-Ooste krisis. En so kan ons aangaan. Maar daar heers ook oorloë in die hemel tussen die engelemagte en die magte van die bose.
Toe hierdie engel na Daniël aangestap kom, het die arme man hom buite weste geskrik, en die engel moes hom kom ophelp. Nadat hy darem weer bewend en wankelrig op sy voete kon kom, praat die engel met hom. Hy noem Daniël op die naam, en die eerste ding wat hy sê is dat Daniël nie moet bang wees nie, en dat God hom liefhet. Wat ‘n wonderlike vertroosting: God is nie ‘n God van straf nie, maar van liefde. En dan antwoord die engel een van ons kwelvrae - of God ooit ons gebede hoor: Die oomblik toe Daniël begin bid en vas en verootmoedig, is sy gebed reeds in die hemel gehoor. Vir my en jou beteken dit vandag dat, al voel dit vir jou asof jou gebed nêrens heen gaan nie, hoor God onmiddellik as die gelowige Hom in gebed aanroep. Daar is absoluut niks van ons vrae, sugte of blydskap wat God nie onmiddellik hoor nie!
Maar dan kom daar ‘n baie interessante stertjie by, wat ‘n mens eintlik verbaas laat. Daniël se gebedsverhoring moes eers wag vir ‘n volle drie weke, want daar was ‘n saak van lewensbelang wat afgehandel moes word. Vir drie weke lank was die engel verhinder om sy werk te doen, want die “engel van die Persiese ryk” het teen hom geveg. Onmiddellik wil ‘n mens vra: Maar waarom veg engele dan teen mekaar? Hiervoor moet ons eers ‘n bietjie teruggaan in die geskiedenis. Die duiwel was eens een van die magtige engele van God. Hy het egter teen God in opstand gekom, want hy wou self die groot heerser wees. Hy het ‘n magdom engele teen God opgesweep, maar toe word hy uit die hemel gesmyt, en saam met hom al sy volgelinge. Wanneer hier dus gepraat word van die “vors (of engel) van die koninkryk van Persië”, dan is hy g’n engeltjie nie, maar ‘n magtige gees uit die hel - met ander woorde, ‘n bose engel. Hierdie geveg tussen die bose engel en God se boodskapper was so geweldig, dat die hulp van een van die magtigste engelvorste, Migael, ingeroep moes word om te kon oorwin.
Die geveg was egter nie net ‘n hemelse geveg nie. Ons kan aflei uit vers 13 dat hierdie bose engel die Persiese koning wou aanhits om die Joodse volk te vervolg, maar dat hierdie engel by Daniël deur sy optrede kon ingryp in die situasie. Eers nadat die situasie beredder was, kon die engel sy aandag aan Daniël gee. Ons moet onthou dat engele wel hemelse wesens is, maar nie goddelik nie. Alleen God is alomteenwoordig - engele is skepsele, nes ek en jy, en kan net op een plek op ‘n keer wees.
Die engel sê vir Daniël dat hy gekom het om hom in te lig oor wat met die Joodse volk sou gebeur in die toekoms, “aan die einde van die dae” (v. 14). Hier moet ons verstaan dat dit nie handel oor die einde van die wêreld nie, maar aan die einde van die Ou Testamentiese geskiedenis - dáár waar die Ou Bedeling tot ‘n end kom en alles nuut beding word vir die mensdom met die koms van die Messias. Hy skep met ander woorde vir Daniël ‘n Kersverwagting.
Daniël is sprakeloos - letterlik en figuurlik. Dit is nie van skok of angs nie, maar uit eerbied teenoor hierdie magtige engel. Sy voorkoms alleen was so oorweldigend, en Daniël het maar bitter klein gevoel in die geselskap van hierdie indrukwekkende bode van God. Sy knieë was lam, en hy was kortasem. Met ‘n aanraking van die engel herwin Daniël weer sy kragte, en eers dán kan hy ‘n paar woorde uitkry. Hy vertel vir die engel hoe verskriklik ontsteld hy is oor die visioen.
Die eindtye waarvan die engel vir Daniël kom vertel het, was vir my en jou die begintye. Ons het nie meer nodig om in vrees en bewing neer te val wanneer God met ons praat nie, want Jesus het die gordyn tussen ons vernietig. Watter wonderlike voorreg het ons nie vandag nie, om nie nodig te hê om deur ‘n boodskapper met God te kommunikeer nie, maar dat die Kneg van God, Jesus, persoonlik by ons is. Ons kan te enige tyd met Hom gesels sonder om in vrees neer te slaan. Anders as die engel, wat net op een plek kan wees, is Jesus waarlik God, en is Hy dus alomteenwoordig. Dit maak nie saak waar ons is op aarde of selfs in die ruimte nie - Hy is altyd daar, oral gelyk. Dit is gans te veel vir ons klein, beperkte menslike verstandjie om dit te begryp. Ons kan nie eers ‘n engel begryp nie - wat nog van God! Hy vra egter slegs vir ons om te glo - ons het nie nodig om te verstaan nie! Ons moet besef hoe groot die voorreg is wat ons het, en ons moet die geleentheid om met Hom te kan praat dankbaar aangryp en gebruik!
Gebed:
Here, dankie dat U elke oomblik van die dag beskikbaar is vir my. Help my om meer met u te praat!