Hemel en Hel

19 June, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hemel en Hel

Openbaring 14:6-13

Is die Hemel ooit ‘n werklikheid? Maar natúúrlik! Watter soort vraag is dit? Elke gelowige glo dit met volle oorgawe. Die meeste gelowiges is ook doodseker dat hulle daarheen sal gaan wanneer hulle die dag te sterwe kom. O ja, daar is wél sommige gelowiges wat twyfel oor hierdie feit, en nie seker is of hulle wél in die Hemel toegelaat sal word nie, maar die Woord is baie duidelik hieroor.

Wanneer daar egter oor die Hel gepraat word, dan is daar nie soveel eenstemmigheid nie. Daar is selfs baie gelowiges (en beslis nog báie meer ongelowiges!) wat dit betwyfel of daar so ‘n plek soos die Hel is. Sommige gelowiges voer aan dat God tog liefde is, en dat Hy nóóit so ‘n wrede ding sou doen om mense in die Hel te smyt nie. Ongelowiges sal maar net ‘n tweede dood sterf.

O ek kan baie goed verstaan waarom baie mense so wil glo: wanneer ‘n geliefde van jou ‘n onverskillige lewe gelei het, en ongelowig dood is, dan wil jy baie graag glo dat hy die ewige straf gespaar sal word. Wat ‘n pynlike gedagte om mee saam te leef, as jou geliefde ongelowig sterf!

Die afgelope paar jaar het ek verskeie begrafnisse bygewoon van gelowiges, en keer-op-keer was dit eintlik ‘n baie mooi en heilsame geleentheid. ‘n Skare van vriende en familie wat hulle geliefde kom vaarwel sê op sy laaste reis. Dikwels was dit op ’n manier eerder ‘n heugelike as ‘n droewige geleentheid. O ja, daar word trane gestort, maar nie van hooploosheid nie, want almal weet presies waarheen hulle geliefde is. Die trane was daar omdat hulle die geliefde sou mis tot eendag se weersiens, amper soos om iemand te groet wat oorsee vertrek vir ‘n onbepaalde tyd.

Johannes vertel van drie engele wat dringende boodskappe van oordeel kom aankondig. Die eerste engel bring ‘n goeie boodskap, dat die Skepper gedien en aanbid moet word, want sy oordeelsvoltrekking het aangebreek. Inderdaad is daar nog steeds genadetyd, en die goddelose kry steeds ‘n geleentheid om tot bekering te kom. God straf nie om te vernietig nie, maar om mense te oorreed om te glo.

Die tweede engel vertel van die val van Babilon, wat bekend gestaan het as die goddelose hoofstad van Mesopotamië. Hier word egter verwys na Rome, waar Christene wreed vervolg is, en waar die bose, afgodiese keiserkultus hoogty gevier het.

Die derde engel beskryf die pyniging wat die aanbidders van die dier sal verduur. God se oordeel sal nie meer verdun word met genade nie. Dit sal onverdun uitgegiet word oor almal wat die offer van Jesus geminag het. Die helse straf sal wees soos wat met Sodom en Gomorra gebeur het, toe hulle met swael en vuur vergaan het. Dit sal egter nie maar net ‘n eenmalige doodbrand wees nie, hierdie straf sal aanhou en aanhou en aanhou!

Ek onthou, toe ek ‘n jong seuntjie was, toe ons eenmaal ‘n weghol veldbrand moes keer. Dit was al laatnag, toe spook en spartel ons steeds om die vlamme onder beheer te kry. Daardie versengende hitte, die verstikkende rook, die verskriklike dors! Jou armpies is lam geslaan, maar jy durf nie vir een oomblik ophou om die vlamme dood te slaan nie, anders verswelg dit absoluut alles. Jy voel moedeloos en broos wanneer die helse vuur skielik net weer van nêrens af opvlam, en dan begin jy weer van vooraf! Ek stel my die Hel so voor, net nog baie erger as enige aardse wegholbrand. En daar is geen einde daaraan nie!

Daarteenoor skryf Johannes die wonderlike, bemoedigende woorde in vers 13, wat die gelowige soos ‘n koel, helder waterstroompie verkwik. “Geseënd is dié wat in die Here sterwe …… hulle sal rus vind.” Al die vervolging, verdrukking en swaarkry is dan verby, en die wonderlike rus saam met Jesus wag daar.”

Jare gelede klim ek en ‘n klompie ander jongmense die Drakensberge uit. Vir vier dae lank beleef ons onbeskryflike mooi tonele met asemrowende hoogtepunte. Maar die swaarkry en pyn van daardie ondervinding sal my ook vir altyd bybly. Die blase op ons voete, pynlike spiere, deurgeskaafte skouers, bitter ondraaglike koue en die son wat ons blase gebrand het, sal ek nie vergeet nie. Die laaste dag was die ergste, want die aftog teen die steil hellings was ‘n pyniging op my kuitspiere, totdat hulle naderhand gevoel het asof hulle uit my bene geskeur is. Maar ek moes aanhou, vorentoe. En toe, op die einde, toe ek neerval op die heerlike, sagte grasperk, en my seer voete en bene en skouers ontspan en rus - o hoe salig! Elke pynlike tree wat ek gegee het was die moeite werd!

Net so is die lewe ook ‘n pynlike ervaring. Maar as jy, aan die einde van die dag daardie wonderlike ewige rus ingaan, en jy kan terugkyk op jou lewenspad, dan sal jy ook kan sê dat elke pynlike tree die moeite werd was.

Gebed:

Dankie vir daardie wonderlike vooruitsig van die ewige rus, Here. Help my asseblief oor hierdie laaste pynlike bergpas.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026