Matteus 3:1-12
In vanoggend se Skrifgedeelte kom die woordjie “Liefde” nie eers een keer voor nie. Ons lees net van Johannes die Doper wat swael en vuur preek. Hy beklemtoon die gedagte van bekering. Nou wat het dit dan met liefde te doen? Dit het alles te make met ‘n hartsgesindheid, en dit is presies wat liefde is, ‘n spesifieke hartsgesindheid.
Johannes was ‘n baie reguit man, en hy het gesê presies wat hy gedink het, sonder om doekies om te draai. Dit sou hom uiteindelik sy lewe kos! Johannes was egter só ernstig oor sy boodskap, en sy liefde vir die Here was só groot dat hy nie vir ‘n oomblik geskroom het om dít wat op sy hart was uit te blaker nie. Selfs nie eers teenoor die geskokte koning of die kerkleiers nie! Ten spyte van sy pynlike reguit boodskap, het die Jode na hom toe gestroom, en in groot getalle het mense tot bekering gekom.
Waarom was daar so baie mense wat agter Johannes aangestroom het? Daar was sékerlik die honger na ware, onafgewaterde Godsdiens. Johannes het vir hulle iets gebied wat die Skrifgeleerdes nie kon bied nie.
Hy het iewers in die woestyn gepreek, en sy voorkoms was rof. Sy klere was van growwe kameelhaar en daar was ‘n indrukwekkende leergordel om sy heupe. Die ergste was egter dat hy van sprinkane en veldheuning geleef het! Dit moes hulle sékerlik laat dink het aan die prentjie wat hulle in hulle gedagtes saamgedra het van Elia, ‘n profeet wat óók ‘n lang tyd in die woestyn deurgebring het. Hier was nou ‘n wáre man van God! Angus Buchan?
Johannes het die mense só aangegryp dat daar selfs van die kerkleiers, Fariseërs en Sadduseërs gekom het om hulle deur hom te laat doop. Johannes het egter dwarsdeur hulle motiewe gesien, en vir hulle presies gesê wat hy van hulle gedink het: “Addergeslag!” het hy hulle uitgekryt. Hulle wou maar net gedoop word om vroom te lyk. Was hulle ooit rêrag bereid om reg te maak wat verkeerd was in hulle lewens? Wanneer Jesus in jou lewe kom, moet jy met jou lewenswyse wys dat Hy waarlik deel van jou lewe geword het. As jou dade van liefde teenoor God en jou medemens nie sigbaar word nie, dan beteken dit dat jy nie ernstig was toe jy jou hart aan Hom gegee het nie.
Ek was eenmaal ernstig oor die vingers getik omdat ek geskryf het dat dit slegs nodig is om Jesus aan te neem om die ewige lewe te verwerf, en dat jy gladnie die wet hoef te onderhou nie. Die persoon was hoogs ontsteld, en het gevra of dit dan reg is dat ’n mens dan maar kan gaan sonde doen soos jy lus voel? Inderdaad was sy héétemal reg! Maar laat my eers toe om my stelling te kwalifiseer: Geen wetsonderhouding sal ooit vir jou saligheid besorg nie! Alleen die kosbare bloed van Jesus, met ander woorde om in Jesus te glo, kan jou in die hemel bring. MAAR, wanneer Jesus die dag in jou lewe ingekom het, moet daar ‘n radikale hartsverandering in jou kom. Nou gaan jy ophou om sonde te doen, en jou lewe gaan mooi word, nie omdat dit jou die saligheid kan verdien nie, want Jesus het mos alreeds die saligheid namens jou verdien! Jy doen dit uit dankbaarheid vir God se groot genade oor jou. Jou lewe moet wys dat jy werklik ernstig was oor jou besluit om Jesus te volg. Dit mag nie maar net ‘n besluit wees wat jy moes neem omdat mense dit van jou verwag het nie. Jakobus het dit so mooi gestel: “Wat help dit as iemand glo, maar sy dade bevestig dit nie?” Jakobus 2:14
Dit is presies wat Johannes vir die kerkleiers gesê het: hulle het hulle laat doop net vir die skyn, en hulle lewens het gladnie gewys dat hulle ernstig was nie. Inderdaad is die wet nie belangrik vir jou saligheid nie, maar die wet is uiters belangrik in die oë van God, en Hy wil hê dat ons die wet moet onderhou. Daar is egter ‘n reuse klemverskuiwing in die wet: dit is nou nie meer ‘n lang lys van moets en moenies wat jy slaafs moet navolg nie. Dit moet ‘n gesindheid wees wat in jou hart geskryf is.
Jesus het die hele wet opgesom deur te sê dat dit gaan oor liefde. Eerstens liefde vir God maar terselfdertyd ook liefde vir jou medemens. As jy werklik vir God lief is, dan sál jy mos Sy Naam eer en die afgode in jou lewe uitsmyt. Dan is dit nie meer ‘n wet nie, maar ‘n gesindheid. As jy lief is vir jou medemens, sal jy hom mos op geen manier wil seermaak nie! Of dit dan nou sy besittings betref, sy goeie naam of op wátter manier ookal. Om die waarheid te sê, as jy werklik vir jou medemens omgee, sal jy uit jou pad uit gaan om hom met liefde te oorlaai en met vriendelikheid, omgee, gasvryheid en nog baie meer. Dan is dit mos nie meer ‘n wet nie, maar ‘n lewenswyse! Dit is presies wat Johannes bedoel het. Vir die kerkleiers van daardie tyd het dit net gegaan om die onderhouding van wette ten alle koste en nie oor die regte hartsgesindheid en lewenswyse nie. Ten spyte van die feit dat hulle hulle laat doop het, was hulle later briesend kwaad vir Jesus, en het hulle Hom uiteindelik laat vermoor. Hulle het Hom onskuldig aan die kruis laat vasspyker!
Is dit liefde?
Wat is my hartsgesindheid? Om watter rede gaan ek kerk toe en doen ek goed aan andere? Is dit om beter te lyk vir die wêreld? Of is dit waarlik ‘n lewe van dankbaarheid wat diep uit my hart uit borrel? As daardie hartsgesindheid van Jesus se liefde deel van my lewe is, sal ek waarlik my liefde prakties uitleef, nie uit pligsbesef nie, maar omdat dit ‘n integrale deel van my lewe is!
Gebed:
Here, kweek asseblief in my hart die regte gesindheid teenoor U en my medemens, een van ware liefde en deernis.