2 Tessalonisense 3:6-18
Ons sluit vandag die reeks oor Paulus se briewe aan die Tessalonisense af, met Paulus se opdrag om hard te werk. Dit was nie om dowe neute dat Paulus so ‘n ding geskryf het nie: Party van die gelowiges in Tessalonika het van die standpunt uitgegaan dat, aangesien Jesus se wederkoms enige dag kon plaasvind, dit nodig was dat al die gelowiges hulle werk moes los. Boonop kon hulle maar al hulle verantwoordelikhede eenkant toe skuif. Toekomsbeplanning was mos nou totaal oorbodig. Al wat hulle moes doen was om passief te wag dat Jesus se wederkoms moes plaasvind! Hulle het letterlik vir die wolke sit en kyk in afwagting op Jesus se koms!
“Ledigheid is die duiwel se oorkussing!” So lui die bekende spreekwoord, en dit is juis hiér waar die papaja die waaier se lem tref, want in plaas daarvan dat hulle op Jesus gekonsentreer het, het hierdie leeglêers net ‘n oorlas van hulleself gemaak. Hulle het hulle met ander mense se sake bemoei, en hulle het ‘n las vir die gemeente begin word omdat hulle nie meer in hulle eie behoeftes kon voorsien nie. Ander gelowiges en familielede moes vir hulle sorg!
Ek dink nou terug aan ‘n besoekie, jare gelede, op die plaas van ‘n ou Fransman, Charlie de Charmois. Hy was ‘n jong man toe hy uit Mauritius in die land aangekom het en as ‘n arbeider op ‘n suikerplaas begin werk het. Deur bloedsweet het hy uiteindelik sy eie plasie gekoop. Toe ek hom ontmoet het, was ou Charlie al in sy tagtigs en hy het nie die einde van sy skatte geken nie. Sy plase het van horison tot horison gestrek. Wat my egter opgeval het, was dat hy my baie opgewonde gewys het waar hy tóé ‘n boord baie spesiale bome aangeplant het. Hy sou hierdie bome binne twintig jaar die wonderlikste vrugte sien dra. Natuurlik sou ou Charlie teen daardie tyd láánkal kissies wees, maar hy was steeds opgewonde oor sy beplanning. Charlie het elke dag voluit gelewe asof hy vir nóg tagtig jaar sou leef!
Die geheim is om te beplan asof jy 120 jaar oud gaan word, en so te lewe asof jy môre gaan sterf.
Paulus het nie doekies omgedraai oor die leeglêers nie. Op gesag van Christus gebied hy hulle om moue op te rol en hulle eie brood te verdien. Om met ‘n Jesus-verwagting te leef, beteken júis dat jy jou lewe inrig soos wat Jesus dit wil hê. Dat jy skouer aan die wiel sit en nie laat slaplê nie en ook nie moeg word om goed te doen aan ander nie. Dit is ook die manier wat jy jou werk behoort te benader, sodat dit wys dat jy waarlik aan Jesus behoort.
Die vraag wat dadelik by ons opkom, is of dit dan verkeerd is om vakansie te hou of om te ontspan. Die feit is dat daar ‘n baie groot verskil is tussen ontspanning en om leeg te lê. Ontspanning is om te rus, en dit is veral in ons gejaagde samelewing ‘n uiters noodsaaklike ding om balans in jou lewe te bring. ‘n Mens kan egter net ontspan as jy alreeds hard gewerk het. Dit is jou verantwoordelikheid om jou tyd en jou vermoëns so goed moontlik te benut om voorsiening te maak vir jouself sowel as diégene wat van jou afhanklik is.
Natuurlik is daar vandag die bittere kwessie van werkloosheid. ‘n Mens kan tog nie werk as jy nie werk kan kry nie. Ongelukkig is daar mense wat skuil agter die werkloosheid-kwessie, en baie hard bid dat hulle tog nóóit sal werk kry nie!
Die ander saak wat Paulus noem, wat gepaardgaan met leeglêery, is diegene wat hulle met ander se sake bemoei. Dit is niks anders nie as om te skinder! Dis lekker as jy oor “geklassifiseerde inligting” beskik, en jy kan dit met groot smaak met ander deel. Dis opwindend, en laat jou belangrik voel. Skinderstories breek egter mense af en kan baie skade berokken. As jy jou met sulke dinge besig hou, beteken dit dikwels dat jy te veel vrye tyd op hande het! Gebruik liewers daardie tyd positief om Koninkrykswerk te doen! Pak dan daardie taak met ywer en volle oorgawe aan.
Hoe hanteer ons leeglêers? Paulus sê: “wie nie werk nie sal nie eet nie”. Natuurlik moet jy armes help, maar ons moet baie versigtig wees dat ons nie leeglêers in hulle kwaad sterk nie. En met leeglêers bedoel ek iemand wat net te lui is om te werk. Luiheid mag nooit beloon word nie! Ongelukkig is dit dikwels baie moeilik om te onderskei tussen luiheid en ware nood. Is die bedelaar werklik iemand met nood, of bedel hy bloot omdat hy te lui is om te werk? Hiervoor moet ons altyd biddend ‘n besluit neem.
Ek wil hierdie kort reeks afsluit met Paulus se woorde: “Mag die Here van vrede self, te alle tye en op elke manier, vir julle vrede gee. Die Here bly met julle almal!” (Vers 16). Maak hierdie seënwens jou eie.
Gebed:
Maak my asseblief vandag bereid om hard te werk, Here, en bewaar my daarvan, dat ek nie sal skinder nie!