Haman se Galg

7 May, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Haman se Galg

Ester 7:5-8:2

Ester laat die bom bars, dat daar iemand is wat beplan om haar en haar hele volk uit te roei. Koning Ahasveros hyg geskok: “Wie sou so ‘n verskriklike ding wou doen?” En dan wys Ester die vinger na Haman: “Hy is die een! Hy is daardie lae mens!”

Koning Ahasveros spring ontsteld op van skok en hardloop die nag in, na die paleistuin om eers tot verhaal te kom. “Hoe kón Haman so ‘n gemene ding doen? En dit nogal na alles wat ek vir die man gedoen het? Ek het hom dan vertrou! Ek het hom eerste minister gemaak! Ek het saam met hom aan tafel gesit en eet!”

Wanneer Ahasveros tot ‘n mate afgekoel het, kom hy weer die vertrek binne. Die toneel wat hy daar aantref, skok hom nog verder. Hy sien hoedat Haman hom neergevlei het langs sý beeldskone vrou! “En dan probeer jy háár ook nog aanrand!” Nou is Ahasveros éérs woedend!

Wat Ahasveros daar aangetref het, was eintlik onskuldig, al wat Haman wou doen, was om by Ester om genade te smeek. Hy het by haar gesoebat dat sy hom nie om die lewe sal bring nie. Vir Ahasveros lyk dit egter na iets héél anders, en as hy vir Haman so langs die koningin, sy pragtige Duifie, sien neerval. dan is die eerste gedagte dat Haman nou vir Ester wil bykom.

“Nogal hier in my eie paleis!” Ahasveros is histeries: “Wagte! Wagte!”

‘n Garnisoen gewapende wagte sak op Haman toe en sleep hom geblinddoek uit die vertrek uit. Ahasveros bewe van woede: “Hoe kon hy.........”

Wanneer alles so naastenby bedaar het en Koning Ahasveros met baie groot moeite gekalmeer is, kom drom sy amptenare en raadgewers om hom. “Ek het gehoor dat Haman beplan het om vanoggend vir ou Mordegai te laat teregstel.” vertel een van die manne.

“Is dit dieselfde ou Jood wat vanoggend op die koning se perd deur die strate gery het?”

“Ja, ek het by een van Haman se vriende gehoor dat hy ‘n verskriklike hoë galg gebou het vir die arme man. Hulle sê die ding is drie en twintig meter hoog! Dis genoeg om die man te laat sterf van hoogtevrees nog voordat hy gehang is!”

Almal lag vir sy grappie, maar Ahasveros luister nie eers nie, hy is te ontsteld.

“Majesteit....”

“Wat is dit Garbona?” Ahasveros voel nie lus vir praatjies nie.

“Majesteit, Haman het mos daardie galg gebou om Mordegai op te hang. Kom ons hang vir Haman nou aan sy eie galg op sodat hy kan boet vir die verskriklike ding wat hy teen die koningin beplan het.”

Ahasveros kry sommer weer ‘n vonkel in die oog: “Goeie idee, Garbona! Hang die hond! Hang hom aan sy eie galg! Dit sal hom leer!” En dan onthou Ahasveros skielik ‘n baie belangrike ding: “My ring! My seëlring! Daardie luis van ‘n Haman het nog die ring wat ek hom gegee het! Gaan kry dit onmiddellik by Hamman voordat julle die man hang!”

Skielik kry Koning Ahasveros weer ‘n lus vir die lewe: “En gaan haal Koningin Ester vir my, ek het ‘n ding om met haar te bespreek.” Ahasveros sit ‘n rukkie ingedagte, en dan roep hy een van die manne nader: “Gaan haal sommer vir ou Mordegai ook, ek het ‘n sakie om met hom af te handel.”

Vir die tweede keer op een dag word Mordegai ontbied, hierdie slag deur die koning persoonlik! Die eenvoudige ou Jood weet nie veel van paleis protokol af nie, en hy voel maar bitter skaam om met sy eenvoudige ou klere in hierdie weelde in te stap. Wanneer hy met knakkende knieë voor die glorieryke koning kom staan, buig hy diep uit eerbied vir die magtige man. Sy mond hang oop van verwondering vir die oordadige goue en marmer versierings. Eers dán merk hy op dat Ester ook daar is.

“Ester, my lieflike bruid,” koer Ahasveros. Sy woede van so flussies het totaal vermurwe by die blote teenwoordigheid van Ester. “Kom sit hier langs my. Ek het vir jou ‘n geskenkie. Van nou af behoort al Haman se fabelagtige rykdom aan jou.”

Dan wink Ahasveros vir Mordegai nader: “Hier, vat hierdie, my vriend.” Mordegai sien verstom hoedat die koning sy seëlring aan sy vinger sit. “Dit gee jou die mag om namens Koningin Ester al die eiendom te bestuur wat aan Haman behoort het.”

Mordegai kan nie glo wat hy hoor nie. “Dankie Here!” prewel hy deur sy deurmekaar baard, “Dankie, U is só goed vir my!”

Daardie nag is Mordegai te opgewonde om te slaap. Maar skielik sit hy regop: “My volk!” hyg hy, “My volk is steeds in gevaar om uitgeroei te word, want die koning het nie die bevel teruggetrek nie!” Maar dan gaan lê hy weer met ‘n glimlag op die gesig: “Maar die Here sal voorsien! Hy is getrou, Hy sál voorsien!”

Gebed:

Here, hoe wonderlik is dit noudat ek te alle tye kan weet dat ek op U kan vertrou - U voorsien op presies die regte tyd.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026