Haman Loop sy Rieme Styf

6 May, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Haman Loop sy Rieme Styf

Ester 6:10-7:6

Haman se mond val oop as hy hoor dat dit Mordegai is wat vereer moet word, en nie hý nie. “Vat dadelik my koninklike kleed en my persoonlike perd en maak presies soos jy voorgestel het met die Jood Mordegai. Jy moet niks nalaat van wat jy voorgestel het nie!” Koning Ahasveros babbel opgewonde voort terwyl Haman voel hy kan skree van frustrasie! Maar hy durf niks wys nie. Hy mag ook nie eers teëstribbel nie, want hy móét in die koning se goeie boekies bly!

Die grootste vernedering van almal lê egter nog vir hom voor. Haman stoom die paleis uit reguit na Mordegai toe. Mordegai skrik hom byna in ‘n ander geloof in wanneer hierdie baie belangrike man reguit op hom afpeil. “My laaste dag het aangebreek!” wil Mordegai kerm, maar dan, tot sy grootste verbasing kom Haman en hy plaas ‘n koninklike kleed op Mordegai se skouers, nogal Koning Ahasveros se eie persoonlike kleed!

“Klim op!” beveel Haman nors, en dan eers sien Mordegai die perd hier langs hom staan, versier met ‘n pragtige drapering. So mooi het hy nog nooit in sy lewe gesien nie. Die perd trippel trots as Mordegai opklim. Hy voel bitter ongemaklik op hierdie pragtige koninklike pronkstuk, Ahasveros se eie perd!

“Here, wat het ek gedoen om dit te verdien?” huil Mordegai dankbaar terwyl hy met groot fanfare deur die strate van Susan begelei word. “Here God, ek verstaan nie! Eers wil Haman my doodmaak, en nou is hy die voorloper om my te besing voor die hele stad. Ek verstaan gladnie Here!”

Wanneer hulle uiteindelik terug is by die paleis, klim Mordegai van die perd af. “Dankie Haman, ek het werklik nie verdien dat jy.....” Maar Haman draai nors die rug op Mordegai en stap woedend weg sonder om te antwoord of te groet. Nou verstaan Mordegai nog minder. “Wat gaan aan?”

Haman stoom sy huis binne. Almal kan sien dat iets hom verskriklik ontstel het, hy bewe eintlik van woede. “Wat’s fout ou man?” Vroulief Seres probeer paai, maar Haman is soos ‘n beer met ‘n seer kop.

“So was ek nog nooit in my lewe verneder nie!” brul hy, sy oë twee vuurpoele.

“Wees kalm en kom vertel ons wat gebeur het.” Sy vriende probeer hom kalmeer, sonder sukses.

Dan gaan sit Haman en vertel hulle die hele storie, van hoe hy nog op pad was na die koning om te reël vir Mordegai se teregstelling, toe die koning hom in die rede val en hom aansê om daardie einste Jood, Mordegai te gaan vereer!

“Sulke vermetelheid!” Sy vriende is geskok tot in hulle fondamente toe. “Maar nou het jy ‘n probleem my ou vriend, ‘n baie groot probleem!” Hulle redeneer dat as die koning vir Mordegai so opgehemel het, dan gaan Haman beslis die onderspit delf. Dit is ‘n baie donker prentjie wat hulle vir Haman skilder, nie juis wat hy op hierdie oomblik nodig het nie!

Maar hulle kry nie veel tyd om die tragedie te oordink nie, want op daardie oomblik daag die paleisbeamptes op om Haman te kom haal vir die groot onthaal wat Koningin Ester gereël het. “Nou moet ek maar weer my ou vrolike gesig opsit, al voel ek dat ek wil moor!”

Koning Ahasveros is vandag weer in ‘n uitbundige bui. Saam met Haman stap hulle Ester se kwartiere binne. Sy het baie spesiale moeite gedoen om alles perfek te maak, en haar asemrowende skoonheid slaan weereens Ahasveros se voete skoon onder hom uit. “Wat kan ek vir jou doen my pragtige bruid? Sê maar net wat jy wil hê, en jy sal dit kry, al is dit ook die helfte van my koninkryk!” Teen hierdie tyd het Ahasveros sy koninkryk al talle kere weggegee!

“Al wat ek vra is dat ek en my volk toegelaat word om te bly lewe. Dit is my wens en my versoek.” ‘n Geskokte stilte sak oor die banketsaal toe. Koning Ahasveros se mond hang oop as hy hierdie skokkende versoek hoor. Wie sal nou sy pragtige bruid wil doodmaak?

“Ek vra dit, want ons, ek en my volk, is verkoop om voor die voet uitgeroei te word.” gaan Ester voort, “Was ons maar net as slawe en slavinne verkoop, sou ek stilgebly het, want dan sou die ramp nie soveel skade aan die koning se belange veroorsaak het nie.”

“Wie beplan so ‘n skokkende ding?”

Haman is spierwit geskrik as Ester hom reguit in die oë kyk en haar vinger na hom wys.

Wat jy saai, sal jy maai! Haman het haat gesaai, en skielik het dit nou alles teen hom gedraai, en hy is in die grootste nood! Jesus het ons egter geleer om liefde te saai. En nee, dit is nie maar net ‘n wet nie, maar dit moet ‘n lewenswyse wees. Nie alleen leef jy dan volgens God se wil nie, maar vir jouself maak jy die lewe ‘n lied! Dit doen wondere vir jou gemoedstoestand. Boonop ervaar en aanvaar mense jou totaal anders. Die beloning om liefde te leef is baie groot!

Gebed:

Here, ek wil borrelend van liefde en vreugde wees. Dankie dat U dit alles vir my moontlik maak.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026