Habakuk 3:3-7
Om hierdie dagstukkie met foto's van die staptog te sien - klik HIER
Dit is Desember 1967. Ek is baie opgewonde, want vir die eerste keer in my lewe durf ek die Drakensberge aan. Durban se KJV jongmense is ‘n energieke klomp, en Mont Aux Sources is ons eerste groot uitdaging. Tintelend van opgewondenheid parkeer ons die Motors waar die pad eindig anderkant Witsies Hoek. Ek hef my oë hemelwaarts. Bokant my troon ‘n massiewe rotssuil uit, een wat amper tot aan die hemel raak. “Sy naam is die Sentinel. Ons gaan klim tot amper regoor sy bopunt,” word ek ingelig. My hart krimp vir ’n oomblik ineen. Dis mos verskriklik hoog! Ek snak na my asem, “Wow! Dis manjifiek!”
Met dapper en stapper val ons in die pad. Die klim is gladnie so erg as wat ek verwag het nie. Maar plek-plek is die ou voetpaadjie bitter nou, en die afgrond hier reg langs jou is skrikwekkend. Wanneer middagete aanbreek, hou die paadjie skielik op. My hart slaan bollemakiesie as my oë stadig die loodregte krans voor my op volg. Dis nie hoog nie - dis vrék hoog!
“Moet ons hier op?” wil ek weet.
“Toemaar, dis maklik, ons klim teen die berugte kettingleer hier op.”
Wantrouig bekyk ek die ou geroeste leer wat so swaai-swaai in die wind. Nét daar besluit ek dat dit nogal pret kan wees. Een van die meisies sit eenkant - trane biggel saggies oor haar wange. Sy is doodsbleek. “Hoogtevrees,” fluister iemand. “Sy het dit nogal erg! Ek weet nie hoe sy dit gaan maak tot bo nie!”
Terwyl die meisies middagete aanmekaarslaan aan die voet van die kettingleer, pak die nuuskierigheid my. Bewend van opwinding pak ek die leer aan. Ek is jonk en propvol energie, en soos ‘n wafferse ribbok klouter ek teen die rotswand op. Bo gekom, kyk ek terug. Ek snak na my asem: O die uitsig! In verwondering staan ek daar, oopmond, as ek oor die landskap tuur. Die groen klowe en golwende heuwels wat strek tot in die ewigheid. Asemrowend mooi! Die majesteit van dit alles laat my spontaan sing tot eer van Hóm wat dit geskep het. Maar nou eers weer af ondertoe - ek is rasend van die honger!
Dit is nie vir almal so maklik om die kettingleer te klim nie. Vir die arme meisie met hoogtevrees is dit ‘n nagmerrie! Met haar oë styf toegeknyp, klim sy die leer uit terwyl iemand haar tree-vir-tree help om haar voete by die sporte te kry. ‘n Groepie meisies sit in ‘n kringetjie en bid vir krag om hierdie nagmerrie aan te durf. Iemand begin sing, en weldra sweef die engele-klanke van lofliedere oor die berge. Ek kry hoendervleis!
Bo gekom, slaan my asem weg van verwondering. Op die kruin van die berg is daar ‘n groot vlakte, oordek met kleurvolle irisse en sewejaartjies. ‘n Klein kabbelende stroompie kronkel oor die plato - “Die Tugelarivier,” lig iemand my in “Hierdie is sy oorsprong.”
Daardie nag was bitter koud en die grond hard en klipperig. Dit is eintlik ‘n verligting as iemand ons kom wakker maak: “Kom, ons gaan die sonsopkoms kyk!” Soos blits is ek uit my slaapsak, en in die half-donker kies ons koers in die rigting van die Tugela waterval. Snoesig sit ons styf teenmekaar teen ‘n rots om die ergste yswind af te weer. Stadig ontvou die prentjie voor my, ‘n oneindigheid van heuwels wat uitstrek tot waar dit te deinsig word om te sien.. Met ‘n reuse verfkwas word die hemelruim beskilder met ryk, betowerende kleure. Die rotspieke in die verte staan soos wagte afgeëts teen die rooi lug. My trane sit baie vlak. “Loof die Here!” sug iemand. Voor ons voete is die loodregte afgrond van rooi kranse, 'n volle kilometer regaf! “Is die Here se skepping nie ongelooflik nie!” Ons staan in verwondering oor die asemrowende skoonheid!
In Habakuk se loflied beskryf hy hoe die Here in Sy hemelse majesteit verskyn om Sy volk te red. Hy beskryf die Here as ‘n onstuitbare Krygsman voor Wie niks en niemand staande kan bly nie. “Berge verkrummel .... heuwels val inmekaar!” Habakuk is in totale verwondering! Ja, as ek terugdink aan jare gelede - selfs die majesteit van die Drakensberge is nietig voor die Here. Sal ek dan nie in verwondering voor Hom neerval in gebed nie? Hoe nietig en karig is my lofprysinge nie aan Hom wat groot is bo alles en almal. Durf ek ooit ophou om Hom te loof en prys vir al Sy wonderdade?
Ons het nie nodig om in die Drakensberge rond te klouter om Sy almag te aanskou nie. Ons vind dit elke dag hier rondom ons. Al wat nodig is, is dat ons net ons oë oopmaak om die heerlikheid van God te kan raaksien. Elke volmaakte blommetjie getuig van Sy handewerk, en elke voëltjie wat verbyvlieg. En die uiters komplekse mens! Die wonder is dat hierdie Almagtige God ook luister na my nietige gebed, én joune. Dat Hy persoonlik bemoeienis maak met elkeen van ons. Kom ons loof Hom!
Gebed:
Here, ek staan in volslae verwondering voor U almag. Here, al my lof gaan aan U alleen!