Habakuk 3:1-2
Jare gelede, voordat die finansiële krisis die mat onder ons uitgeruk het, het ons 'n boshuisie gehad in die wonderlike vakansiedorp, Marloth Park. By een geleentheid het die Laeveld gebuk gegaan onder ‘n knellende droogte. Lentetyd kon ek en Mosbolletjie ons verlange na die Bos net nie meer hou nie, en ons skakel vir Dirkie om ons boshuisie vir ons gereed te kry vir ’n kuiertjie. “Hoe gaan dit?” vra ek sommer uit gewoonte. Ek moes seker nie gevra het nie, want toe bars sy sommer in trane uit. Sy snik jammerlik oor die verskrikking van die droogte, en hoe die diere so verskriklik swaarkry. Daar is niks kos in die veld oor nie, en die diere is besig om op strepe te vrek van die honger. Die veldwagter het al gedreig om ál die rooibokke uit te skiet, want so kon dit nie aangaan nie.
“En waarom moet hulle dan so ly oor ons mense sondig lewe?” wou sy weet. "Dis alles óns skuld dat die Here die hemel toehou en dat die reën nie wil kom nie! Kyk na ons land, en al die verskriklike dinge wat hier gebeur. Kyk net hoe lewe ons - hoe kan ons ooit verwag dat die Here weer vir ons reën sal stuur? Ons verdien dit nie. Maar die arme onskuldige diere........"
Maar g’n droogte hou my uit die Bos uit nie, en ons vat die pad. Ek skrik as ons die Laeveld sien! Ek het nooit besef hoe erg die droogte kan wees nie. Ek stap verwese deur die barre veld. Klippe knars luidrugtig onder my skoensole. Nêrens is daar ‘n enkele grassie te bespeur nie, net die kaal, klipperige grond. ‘n Verskriklike stank tref my. ‘n Naar kol op my maag dreig om my te oorweldig as ek op ‘n rooibok se karkas afkom. Dis lente, maar selfs aan die bome is daar nog nie ‘n stukkie groenigheid te bespeur nie. Die spookgeraamte van ‘n rooibokram skarrel halfhartig weg, sy oë dof en leeg.
“Hoe lank nog, Here, hoe lank nog moet ons so ly?” bid ek. Ek gaan sit teen die skurwe stam van ‘n knoppiesdoring. “Hoe kan daar óóit weer lewe voortkom uit hierdie kliphardgebakte, morsdooie grond?” Ek voel moedeloos, en ek dink: “Menslik gesproke is dit totaal onmoontlik!”
Die volgende oggend steek daar 'n Salatiwind op. ‘n Vuurwarm Noordewind wat alles wat nog effens lewe het, totaal verskroei. Ek word beroof van my asem. My longe brand. Kan hierdie dorre veld dit nog langer verdra? Sal hier na dese ooit nog énige lewe oor wees?
Laatmiddag is daar skielik ‘n windstilte. Dit is asof die geraamtes van die bome in afwagting stilstaan en luister. Daar is nêrens 'n sweempie van ‘n beweging nie. ‘n Ongemaklike, doodsheid hang oor die hele Laeveld. Dan sien ek in die Suid-ooste, eers net 'n klein wolkie, en dan bou ‘n swart wolkbank op. Dit maal en kook in die hemel, en die wind begin stadig draai. Oral word die lug gevul met wolkies wat saamkoek om reuse massas swaar-swanger wolkskepe te vorm wat verwoed voortstorm op die hemelgolwe. Die lugruim is swaar gelaai met elektrisiteit, en dit rammel en dreun sodat jy dit hier diep in jou binneste kan voel. Stelselmatig bou die spanning op totdat swaar donderslae oorverdowend deur die bosse weergalm, oor en oor en oor. En dan val die eerste swaar reëndruppels op die dorre aarde. Stof spat op as die water die dooie aarde tref. Skielik word die sluise vol oopgetrek en in strome kom die watermassas uit die hemel gestroom.
Die volgende dag reën dit weer, én die dag daarna, totdat die eens-dorre aarde deurdrenk is met lewe-gewende water. Slegs enkele dae na die eerste reëns kry die barre grond ‘n groen skynsel, en tien dae later is die ganse veld getooi in ‘n lowergroen tapyt. Die aaklige droë deurmekaartakke van die Mopaniegranaatbosse bars oop in ‘n vrolike geel massa blomme. Die rooibokke huppel en spring oor die splinternuwe veld, en daar is ‘n lied in my hart!
Habakuk begin sy boek met ‘n swaar versugting: “Hoe lank nog moet ek om hulp roep voor U hoor, Here?” En skielik verander hierdie klaaglied in ‘n loflied. Vir langer as ‘n week het ons geworstel met neerdrukkende dinge wat Habakuk vir ons beskryf. Maar nou sien ons die ander kant, die jubelkant daarvan. Habakuk se wanhoop verander in hoop, en hy gaan die toekoms tegemoet met ‘n lied in die hart. Habakuk het die geheim van die nogtans-geloof ontdek. Hy besef dat God getrou is. Hy het gister gesorg vir my, vandag doen Hy dit en verséker sal Hy more steeds vir my sorg!
Hoofstuk 3 is ‘n gebed wat hy sing, ‘n lofsang vir die Here. Dit is egter nie ‘n eenman-lied net vir homself nie, maar hy betrek ook die koorleier en daar kom “snarespel” saam met die lied. Dus word hierdie loflied 'n gemeentelied.
Inderdaad sing ons vandag nog steeds hierdie wonderlike lied in die kerk: “Al sou dan ook die vyeboom nie bot nie..... Dan sal ek juig, my Redder en my God! Hoe gróót is U!”
Wanneer Habakuk hierdie lofliedlied sing, word hy vervul met ontsag oor al die dade van die Here. Nou beskuldig hy nie meer die Here dat Hy nie luister nie, maar hy val in aanbidding voor die Almagtige neer. En terwyl hy bid, onthou hy die Here se groot verlossingsdade. Habakuk wil hê dat almal saam met hom die grootheid en almag van God gedenk.
Gebed:
Here, saam met Habakuk wil ek voor U neerval in aanbidding en my hande ophef tot U, want U is groot en almagtig!