Die Here is die Regter

5 August, 2026

Habakuk 2:9-20

Alles lyk so bitter onregverdig! Die goddelose baljaar in die skatte wat hy vir hom bymekaar gemaak het. Hy het sy rykdom gekry deur op ander mense te trap! Hy het skatryk geword omdat hy niks vir enige ander mens gun nie en nét aan homself dink. Korrupsie is deel van sy lewe! Wéét dan vandag: Ellende wag op hom! Só het die Here vir Habakuk gesê, en só sê Hy vandag stééds vir ons.

Ek het al so dikwels die sug gehoor van gelowiges wat kla oor hoe onregverdig dit is dat die goddelose skynbaar alles in die lewe kry. Dit is húlle wat in die groot paleise woon en dit is húlle wat op luukse vakansies kan gaan. Dit is húlle wat die luukse motors en huise kan bekostig, en dit lyk asof daar absoluut níks kortkom in hulle lewens nie!

Dit lyk vir ons só onregverdig! Veral as daardie mense hulle rykdom op ‘n oneerlike manier bekom het. Kyk maar byvoorbeeld net in watter luuksheid die dwelmbase leef. Hulle is onaantasbaar en hulle rykdom ken géén einde nie. En dit terwyl duisende lewens in die proses verwoes word, lewens van onskuldige kinders wat in hulle kloue beland het!

Elke dag sien ons op TV en in die koerante van korrupsie wat asemrowende rykdom vir iemand gebring het, maar in die proses het duisende mense groot skade gely. Daagliks sien ons hoedat iemand wat in die politiek betrokke is, sy mag misbruik om groot skatte bymekaar te maak ten koste van ander. En dikwels kom hulle skotvry daarvan af omdat hulle die beste regslui kan bekostig, of omdat getuies vir hulle lewens vrees of selfs vermoor word. Dit voel net eenvoudig nie regverdig nie!

Wee hom!” skreeu Habakuk in Hab. 2:9. “Ellende!” Maar hy sê dit nie uit moedeloosheid nie. “Wee hom wat onregverdige wins maak vir sy huis, om sy nes in die hoogte te bou en homself van die mag van onheil te red.” Daardeur het hy nie alleen ‘n ramp gebring oor homself nie, maar ook oor sy familie! Habakuk sê dat daardie man gesien het dat daar ‘n ramp op pad was, en toe bou hy vir hom ‘n hoë nes om dit vry te spring. Maar alles vergeefs! Selfs die klippe en die balke in sy vesting het teen hom getuig. Hy het natuurlik hierdie vesting gebou met die bloedsweet van ander mense - sy slagoffers. Dit het uitgeskreeu dat hy skuldig is. Ja, ellende wag op hom!

Ons het die afgelope paar jaar ‘n paar opspraakwekkende hofsake gehad van mense wat hierdie soort lewe geleef het. Soms het dit vir ons gevoel asof reg nie waarlik geskied het nie, en dat die straf wat hierdie boewe opgelê is nie eers naastenby betaal vir die onreg wat hulle ander mense aangedoen het nie. Dan is daar ook die hofsake van etlike misdadigers wat nou al vir baie jare uitgerek word. Dit wil lyk asof dit nooit tot ‘n einde kom nie! Maar hulle straf sal hulle uiteindelik wél kry! Die afgelope paar maande moes ons daagliks hoor van hooggeplaasde polisiehoofde, ministers en hoë staatslui wat hulle mag misbruik het en groot korrupsie gepleeg het. Sal hulle ooit gestraf word?

“Ellende! Ellende!” skreeu Habakuk verder in vers 12: “Wee hom wat stede bou met bloed, en dorpe vestig met onreg!” Hy sal uiteindelik tóg sy rieme styfloop!

Ons wil dikwels vra: “Hoe kom mense weg met al die gruwels wat hulle aanvang?” Vir ons lyk hulle baie keer totaal onaantasbaar agter die ontoeganklike skanse wat hulle vir hulleself bou. Maar Habakuk sê dat so ‘n persoon nie rekening hou met die feit dat hy met die Almagtige God te doene het nie. In vers 14 sê hy: “Ja, die aarde sal gevul word met die kennis van die heerlikheid van die Here soos water die see oordek.

By ons as mense en by die gereg sal hulle dalk nog verby kan kom, maar by die Here sal hulle nóóit verbykom nie, want oral waar hulle kyk, is die Here! Uiteindelik sal hulle ook hulle verdiende straf kry, en geregtigheid sal beslis geskied!

“Ellende wag op hulle,” sê Habakuk. Waarom sal ons dan bang wees, en waarom sal ons moedeloos raak?

‘n Derde keer sê Habakuk “Wee hom….” (Ellende wag op hom!) Magsmisbruik kan dalk net ‘n dodelike boemerang word. Iemand wat sy mag misbruik om diegene in sy mag van hulle waardigheid te stroop - om hulle naak voor die wêreld te laat staan, kan dalk in presies dieselfde bootjie beland. Sy grootheid en aanskoulikheid gaan eendag teen hom draai, en dan sal hy sélf daar staan, al sy skande ontbloot! Magsmisbruik boemerang! Wees gewaarsku!

Maar waaroor gaan dit alles? Wat is die grondoorsaak van al hierdie magsmisbruik? En wat veroorsaak uiteindelik hulle ondergang? Afgode! Jy dien ‘n afgod wanneer jy op enige ander ding vertrou, en nie ál jou vertroue in God plaas nie! Na die wee- of ellende-uitsprake kom Habakuk tot die slotsom dat dit nie die gelowige (regverdige) is wat sinloos ly nie, maar juis die goddelose wat sinloos lééf. Dalk geniet hy nou sy voorspoed. Sy einde is egter onafwendbaar! In teenstelling wag daar op die gelowige ‘n ewige lewe van glorie en blydskap. Dit is dan ook nét gepas dat Habakuk afsluit met hierdie lofbetuiging in vers 20: “Maar die Here is in sy heilige tempel – wees stil voor Hom, o ganse aarde!

Gebed:

Almagtige God, ek loof en prys U grote Naam. Dankie dat ek die reg in U bekwame hande kan laat!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026