Habakuk 2:1-4
‘n Paar jaar gelede het ek deur ‘n baie groot krisis in my lewe gegaan. Alles wat kon verkeerd gaan hét verkeerd geloop. Eers was dit my gesondheid wat ‘n groot slaggat tref: die diagnose was kanker. Allerhande ander komplikasies duik op en ek land drie keer in die hospitaal. ‘n Baie groter krisis het egter op my gewag, toe ons finansies totaal in duie stort. Dit het vir my gevoel asof die ganse wêreld op my twee ou skouertjies sy sit kom kry het. Die las was gans te veel om te dra. Ek het gehuil, gekerm, my lot voor die Here uitgestort en gesmeek om uitkoms. Die lewe het gladnie meer vir my sin gemaak nie. Vir die wêreld daar buite het ek ‘n dapper gesig opgesit en probeer maak asof alles nog goed gaan, maar binne was dit ‘n verwarde en bitter bekommerde mens. Vir my was daar nie eers die vaagste ou sweempie van lig in die lang, pikdonker tonnel nie. Ek het by my breekpunt gekom…..
Een ding waaraan ek egter krampagtig vasgeklou het, is die geloof wat die Here my gegee het. Dit is die mees kosbare ding wat Hy my ooit kon gee. En dan was daar die wonderlike ding: die Here het my nie maar aan my eie genade oorgelaat nie. Hy het mense op my pad gestuur om my oë oop te maak deur hierdie groot krisis, sodat ek die lig kon sien. Dikwels het hierdie mense nie eers geweet van my krisis nie, maar hulle het net presies die regte ding op die regte tyd gesê om my hoop te gee. Daar was diegene wat ook in hulle lewe deur ‘n soortgelyke krisis was, en my vertel het hoe die Here hulle daardeur gedra het. Stadigaan het die Here my gewys hoe om die krisis te hanteer en op Hom te vertrou. Glo my: dit is nie maklik nie! Dit kos ‘n wilsbesluit van jou kant af om nie te gaan lê nie. Vir selfbejammering is daar absoluut géén plek nie!
Intussen het my mond behoorlik oopgehang, want van oral oor het mense hulp aangebied. Ek wou nog soek vir blyplek, toe bied iemand my ‘n woonstelletjie aan vir solank dit nodig is. Ons is oorlaai met liefde en hulp, en skielik kom ek agter dat ek baie meer vriende het as wat ek ooit van kon droom!
Nee, die krisis het nie dadelik soos mis voor die son verdwyn nie. Maar in die proses het ek geleer om baie nader aan die Here te leef en in baie groter afhanklikheid van Hom. Ek het ook geleer om alléén in vertroue in Hom te leef. Vandag is ek rustig en borrelend gelukkig, en die lewe het nou méér sin as óóit tevore, ten spyte van daardie krisis, asook 'n hele paar baie grotes wat daarna nog sou volg.
Habakuk moes ook ervaar, dat wanneer jy die dag by ‘n breekpunt in jou lewe gekom het, dan bewerkstellig die Here ‘n keerpunt in jou lewe. Die Here se antwoord aan Habakuk het nie die probleem laat verdamp nie. Hy het nie maar ‘n woord gespreek, en skielik was al die probleme weg nie. Habakuk moes ervaar dat hierdie soort worsteling jou perspektief op die lewe verander. Dit verander van jou nood af na God toe. Dit verander van wanhoop af na vertroue. Dit verander van dood af na lewe. Vandag wéét ek dat in hierdie verskriklike krisisse wat ek beleef het, die Here elke oomblik langs my gestaan het. Hy dra my deur my nood. Maar nóg meer, wanneer ek terugkyk, sien ek baie duidelik God se hand daarin om Sy groter plan tot uitvoer te bring!
Wat het Habakuk gedoen toe die krisis hom tref? Het hy in ‘n donker gat gaan wegkruip? Het hy in sak en as gaan sit? Het hy sy hande in die lug gegooi en gesug: “Alles is verby!?" Nee! Hy hardloop die trappies teen sy wagtoring so twee-twee op, en hy gaan kyk of hy iets kan sien. Wat wil hy sien? Of die vyand al op hom is? Beslis nie! Hy wil sien wat die Here se antwoord is! Hy wil gaan verneem wat die Here vir hom wil sê.
Dink jy dat Habakuk die antwoord gekry het wat hy graag sou wou hê? Nee! Die antwoord van die Here is ‘n groot verrassing: Habakuk moet die woorde wat die Here hom sou gee in groot letters op kleitablette gaan skryf en uitstal sodat almal dit kan lees. In vandag se terme sou dit op Facebook uitgeskree wees! Dan moet hy net geduldig gaan wag tot verdere kennis. Die boodskap wat Habakuk op sy “plakkate” moes skryf, het gelui dat diegene wat ‘n verkeerde gesindheid het, hulle straf sal kry. Dié wat egter die regte gesindheid het, sal die lewe kry! Dit herinner ons aan die eenvoudige preek wat Jona moes lewer in Nineve. Dáár het die boodskap ‘n oorweldigende reaksie gehad. Sou dit dieselfde geval hier in Israel wees? Habakuk moes maar net geduldig wag en sien - dalk gebeur dit - dalk nie…...
Sit jy dalk vandag met ‘n groot krisis in jou lewe?
● Aanvaar in die eerste plek dat jy ‘n krisis beleef, en dat dit dalk nie soos mis voor die son gaan verdwyn nie.
● Besef ook dat die Here dalk juis hierdie krisis gebruik om ‘n baie besonderse doel in jou lewe te bereik.
● Moenie wegdryf van die enigste Een wat jou deur die krisis kan dra nie, maar klou krampagtig vas aan Hom.
● Moenie in ‘n hoekie gaan sit nie, maar leef voluit, borrelend!
● Neem die wilsbesluit om ten spyte van die probleme ‘n lewe gevul met blydskap te lewe.
Dit werk! Ek het dit sélf ondervind! Nee, maklik is dit beslis nie, maar dit is wél baie moontlik!
Gebed:
Here, dankie dat U my dra deur my krisis, en my boonop nog blydskap ook gee. Dankie dat U my ‘n oorvloedige lewe gee ten spyte van my krisis!