Groete

12 July, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Groete

Galasiërs 6:11-18

Video

Oudio

Skryf jy nog briewe? Nee, dalk verstaan jy verkeerd, ek praat nie van ‘n brief tik op ‘n rekenaar om te e-pos of met Whatsapp wegstuur nie. Ek praat van ‘n regte, egte brief wat met die hand geskryf is, toegeplak is in ‘n koevert en met ‘n seël op in die posbus gegooi is. Dit het totaal uit die mode geraak! As so ‘n brief vandag in jou posbus sou opdaag, sal jy hom raam want dis ‘n kunswerk!

Harde werk, om ‘n brief met die hand te skryf, want jy mag nie foute maak nie. As jou hand gly, moet jy die hele ding oorskryf! Maar so ‘n brief is só persoonlik! Daar is ‘n stukkie van jouself in daardie brief. Ek onthou nog die dae toe ek weermagdiens gedoen het, ver van my Mosbolletjie af. Saans het ek daar in my tentjie in die veld my hele hart uitgestort in my briewe wat ek vir haar geskryf het. Sommer so plat op die grond gesit en skryf. Daar het ‘n stukkie van my in daardie brief ingegaan.. 

En soggens, as die pos-jeep van die dorp af aangery kom, dan het ek met bonsende hart gestaan en trippel, want ek het gewéét dat daar vir my ‘n brief sou wees. In afwagting het ons almal daar gestaan. My naam klink op, en my hart mis ‘n slag. Ek maak my brief versigtig oop en dan lees ek dit oor en oor. Elke lettertjie was met haar eie hand geskryf, só persoonlik! Om haar so naby my te voel, die geur van haar parfuum wat aan die blaaie kleef te kon indrink!

Ai toggie!

Paulus kon nie juis skryf nie - waarskynlik as gevolg van probleme met sy oë. Maar dit het hom geensins gekeer om sy gedagtes op skrif te stel nie. Dit was algemene praktyk om gebruik te maak van ‘n professionele sekretaris om jou briewe te skryf, iemand wat gewoonlik opgelei was in die kuns om mooi te skryf. Paulus het dan sy brief aan die sekretaris gedikteer, en nie net onderteken soos vandag die mode is nie, maar die laaste paar reëls self geskryf om te wys dat die brief eg is.

In Galasiërs se briefslot doen Paulus dan ook weer so, en dan skryf hy: “Kyk net die groot letters!” Was dit om sy skrif met die netjiese handskrif van die sekretaris te vergelyk? Of dalk omdat hy nie mooi kon sien nie? ‘n Derde rede klink vir ons meer logies: Hy het die laaste sinne in groot letters geskryf om die belangrikheid van die gedagtes by die lesers tuis te bring!

Normaalweg dra Paulus in sy slot groete oor aan die een en ander. In hierdie brief is Paulus egter so ontsteld oor die dinge wat besig was om te gebeur in Galasië, dat hy die hele slot wy aan ‘n opsomming van die dinge wat hy vir hulle geskryf het. Daardie dinge is vandag vir ons van nét soveel belang as wat dit vir die Galasiërs was. Ons kan dit so opsom:

Dit is totaal onmoontlik om vryspraak van ons skuld en sondes te kry op grond van ons prestasies - hulle is van géén waarde!

Die enigste manier om vryspraak te kry is deur geloof in Jesus. Ons beste pogings is nutteloos! Slegs Jesus se groot offer aan die kruis kan vir ons vryspraak gee.

Wanneer ons hierdie waarheid begryp, kom ons tot die besef dat om oor allerhande prestasies te stry totaal nutteloos is. Die heel belangrikste saak is dat ons in Jesus glo, en dat ons nuut gemaak is in Jesus.

As ons in Jesus glo, is ons deel van die nuwe volk van God. Ons is met ander woorde die nuwe, ware Israel. Jy het nie nodig om ‘n Jood te wees om deel van hierdie volk te word nie. Daar is maar net een vereiste: Die geloof dat jou ou mens saam met Christus aan die kruis gesterf het, en dat dit nou nie meer jy is wat lewe nie, maar Christus wat in jou lewe.

Paulus het inderdaad ‘n lang en harde pad gestap voordat hy hierdie brief geskryf het. Hierdie pad was besaai met duwweltjies en dorings en hy dra die littekens daarvan aan sy liggaam. Hy het baie pyn en ontberings verduur om hierdie evangelieboodskap aan die wêreld te kon bring, selfs by tye die dood in die oë gestaar. Lees gerus 2 Korintiërs 11:23-27, waar hy vertel van waardeur hy alles was. Dit laat jou hare regop staan, dat één man soveel ontberings kon deurmaak! En dít omdat hy vas geglo het in wat hy verkondig het. Is dit nie klaar genoeg rede vir my en jou om ag te slaan op wat hy vir ons deur die Galasiërbrief leer nie? Neem dit dus ter harte!

Paulus sluit af met ‘n seëngroet, soos sy gewoonte was. Hy beklemtoon daarin weereens God se genade. My gebed vir jou is dat jy daardie genade elke dag sal beleef, en dat Hy jou so sal lei dat jy nooit die wonder van Sy groot, groot genade sal miskyk nie, of dalk só gewoond daaraan raak dat jy nie meer verwonderd daaroor sal wees nie.

Gebed:

Here, ek bid vanoggend dat U genade sal skyn oor elkeen wat hierdie dagstukkie lees!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026