Markus 12:1-12
Die “wyse” manne het nog steeds daar rondgestaan en redeneer oor hoe hulle nou eintlik hierdie Jesus kon vastrek ná hulle vorige nederlaag teen Hom, toe Jesus hulle nader wink. Hy wou ‘n storie met hulle deel! Rondom Jesus het alweer ‘n groot klomp nuuskierige mense gestaan.
Toe al die ou wyses, dis nou die leierpriesters, skrifkenners en die familiehoofde by was, het Jesus sy storie vertel, wat gegaan het oor ‘n boer wat ‘n wingerd aangeplant het.
Hierdie boer het baie moeite gedoen om die wingerd spesiaal te maak. Hy het ‘n klipmuur om dit gebou en groot moeite gedoen om ‘n parskuip uit te kap sodat die oes verwerk kon word. Hy het selfs vir die sekuriteit gesorg en ‘n wagtoring laat oprig sodat hulle kon uitkyk vir skelms wat hulle oes wou steel. In plaas daarvan om self sy belegging te benut, verhuur hy dit aan ‘n klompie boere, met die verstandhouding dat hy elke jaar ‘n deel van die oes kon kry.
Maar dis toe nou nét hier waar al die moeilikheid begin, want toe hy ná die oes ‘n slaaf stuur om sy afgespreekte deel te gaan haal, word hy afgeransel en met leë hande teruggestuur. Hy stuur ‘n tweede slaaf, en dié word oor die kop geslaan. Die derde slaaf word doodgemaak!
Die boer was moedeloos! Toe besluit hy om sy geliefde seun te stuur om die situasie te gaan beredder. Daardie boere het egter sy seun gegryp, vermoor en hom uit die wingerd uitgegooi. Hulle het gedink dat hulle die wingerd toe maar vir hulleself kon hou, want die erfgenaam was uit die weg geruim. Hulle het egter nie met die boer rekening gehou nie. Hy het gekom en hulle tereggestel en die wingerd vir iemand anders gegee.
Die geleerde manne het stil staan en luister na Jesus se storie. Hulle het maar ál te duidelik besef dat Jesus op húlle gesinspeel het met die verhaal. Hulle was bitter! Hierdie Jesus moes so gou moontlik uit die weg geruim word! Onder mekaar het hulle gewonder: “Hoe gaan ons Hom vastrek?” Min het hulle geweet dat hulle kans baie gouer sou kom as wat hulle besef het en dat daardie einste Jesus slegs drie dae later aan ‘n kruishout sou hang.
Daar was nou ‘n dringendheid onder die kerkleiers om Jesus agter tralies te kry. Aan die ander kant was daar by Jesus óók ‘n dringendheid om alles betyds afgehandel te kry voor daardie verskriklike Vrydag. Daar was nog só baie wat Hy vir die dissipels en al die ander mense wou sê, maar die tyd was só min.
Die groot vraag is: waarom het hierdie storie die kerkleiers so omgekrap? Wat presies wou Jesus vir hulle sê?
Die boer in hierdie verhaal is natuurlik God. Hy het groot moeite gedoen met die wingerd, die muur, parskuip én die wagtoring. Dit sinspeel op die volk Israel. Van die vroegste tye af het die Here gebou aan daardie volk. Dit het begin by die stoere ou pilaar van geloof, Abraham. Die Here het gesorg dat daar in Abraham iemand was na wie die volk met deernis en trots kon verwys as die voorvader van die volk. Jare later het die Here die volk, wat toe al in hulle miljoene getel het, gelei na die land wat Hy alreeds aan Abraham belowe het. Hy het hulle gevestig en gepamperlang en sterk gemaak. Hy het vir hulle konings gegee soos Dawid, asook profete om hulle te lei. Hy het vir hulle voorspoed gegee en hulle eksklusief gemaak. Hulle was immers die volk van God!
Maar wat maak hulle? Die profete wat God hulle gegee het om hulle op die regte pad te lei, word mishandel, verwerp, geslaan. Die arme Elia moes in die woestyn gaan wegkruip om uit die kloue van die koningin, Isebel te bly. Ander profete was minder gelukkig! Die laaste profeet, Johannes, is sonder sy kop die ewigheid in, nadat hy eers in die tronk vasgeketting was, en dít bloot omdat hy die waarheid gepraat het!
Jesus vertel hierdie storie spesifiek vir die leierpriesters, skrifkenners en die familiehoofde. Uiteraard was hulle die mense wat die volk van God geestelik moes lei. Hulle was dus die verteenwoordigers van Israel, en dit was binne hulle mag om nie alleen namens die volk besluite te neem nie, maar ook om die volk te beïnvloed in hulle denke en handelinge. As die volk ten gronde sou gaan, was dit hierdie leiers se skuld! Dis dan presies ook hierdie mense wat direk vir Jesus se kruisiging verantwoordelik was!
Met hierdie storie wou Jesus dan ook beklemtoon hoe ondankbaar God se volk was. Met die aanbou van die wingerd het Hy aan absoluut álles gedink, en vir hulle die héél beste gegee. Hoe het God nie deur die eeue ook vir Israel oorlaai met goedheid en genade nie! Maar keer op keer het hulle Hom verwerp. Maar God se geduld is nie onbeperk nie, en uiteindelik sou Hy diegene straf wat Sy genade bly vertrap het. Dit geld vir Israel, en dit geld óók vir ons vandag.
Die gelykenis sluit egter af deur Jesus in ‘n besonderse posisie te plaas. Ja, hulle het Hom verwerp. En ja, hulle het Hom selfs doodgemaak. Maar juis in hierdie verwerping kom God op ‘n verrassende manier en gebruik dit om verlossing te bewerkstellig vir elkeen wat in Hom glo. Die Klip wat deur almal verwerp is, word juis die Hoeksteen waarop die ganse gebou van God se Kerk gevestig word.
Gebed:
Here, ek kan vanoggend net weereens in groot verwondering dink aan U genade wat geen einde ken nie - dat U selfs die verwerping van U geliefde Seun gebruik om mense te verlos uit die ellende!