Openbaring 4
Johannes het die briewe aan die sewe gemeentes voltooi. Daar was mooi momente, maar ook dinge wat hy moes sê wat nie lekker is nie. Maar dan, wanneer hy klaar is, kom daar vir Johannes ‘n visioen wat sy asem wegslaan. Daar was ‘n deur. En ‘n stem, ‘n groot stem soos die geluid van ‘n trompet. Dan volg ‘n uitnodiging dat hy kon gaan kyk. En wat Johannes daar sien laat jou in volslae verwondering.
God gee ons die Goddelike voorreg om so ‘n klein kykie te kry in die asemrowende Hemelhof. Vir Johannes was dit ‘n reuse probleem om die dinge wat hy gesien het in mensetaal te probeer oordra, want hoe beskryf jy iets wat niemand nog ooit gesien het nie? Hoofstuk 4 en 5 van Openbaring is die aanloop tot die eindgebeure. Hoofstuk 4 beskryf God die Skepper, en hoofstuk 5 Jesus Christus. Dit loop oor van beeldspraak, en jy moet dus baie fyn luister wanneer jy hierdie gedeelte lees.
In die antieke tye het mense geglo dat daar ‘n hek of deur is waardeur jy moet gaan om in die hemel te kom. Vandag word daar steeds grappenderwys gepraat van die hemelpoorte waar Petrus as hekwag sit. Johannes sien die deur na die hemel egter bloot in die sin dat God die hemel oopgemaak het vir ‘n wyle sodat ons ‘n ietsie daarvan kan sien.
In ‘n Geesvervoering word Johannes die wonder van die troonkamer van God gewys. Wat hy daar sien probeer hy beskryf deur van bekende dinge gebruik te maak, want alles is so wonderlik en oorweldigend en anders. Hy sien daar vir God op die troon sit, vanwaar Hy regeer en regspraak lewer. Hy beskryf God nie direk nie, maar sê dat Sy voorkoms soos opaal en karneool was. Opaal is ‘n deursigtige edelsteen, soos diamant, en simboliseer suiwerheid. Karneool het ‘n rooi glans en simboliseer oordeel. Die reënboog met die glans van smarag rondom die troon is simbolies van God se genade en goedheid.
Dít wat Johannes rondom die troon sien, stem in ‘n groot mate ooreen met Esegiël se visioen, ‘n aangrypende gesig, en Johannes vind dit baie moeilik om te beskryf. Daar is die sirkels - vier lewende wesens wat die troon omsirkel, die reënboog wat God omsirkel, die 24 ouderlinge wat in ‘n sirkel sit, die engele wat almal die troon omsirkel. Dit alles beskryf dat God die middelpunt en sentrum van alles en almal is.
Die ouderlinge stel die kerk (gelowiges) voor. Hulle het wit klere aan, en dit sê dat hulle regverdig verklaar is om voor God te verskyn. Hulle het goue krone op, wat wys dat hulle regeer. Die getal 24 is simbool van die twaalf stamme van Israel en die twaalf apostels. Simbolies beteken dit dat dit die somtotaal van al die gelowiges is.
Dit wat Johannes ervaar gaan gepaard met oorweldigende natuurverskynsels soos weerlig, dreunings en donderslae. Sulke dramatiese natuurgebeure maak dat jy in aanbidding voor die grootheid en heerlikheid van God buig.
Die sewe Geeste van God is simbool van God se alomteenwoordigheid deur Sy Heilige Gees. Die see voor die troon kan ook vertaal word as die see van glas, en dit beskryf die onuitspreeklike heerlikheid van God.
Die vier lewende wesens is simbool van God se skepping. Hulle het oë voor en agter, wat sê dat niks hulle wakker aandag ontglip nie. Daar is ‘n leeu, volgens die Jode die sterkste van die wilde diere. Ook ‘n bul, sterkste van die mak diere, ‘n arend, sterkste van die voëls, en ‘n mens, magtigste van die hele skepping. Hulle verteenwoordig dus die ganse skepping. Die ses vlerke vol oë van elkeen versinnebeeld hulle wakker bereidwilligheid om met groot spoed God se bevele uit te voer. Die ganse skepping loof en prys God dag en nag: “Heilig, heilig, heilig is die Here!” Natúúrlik is God heilig! Hy is so totaal anders as Sy skepping, en daar is geen grens aan Sy mag en krag nie. Hy is die Almagtige, en Hy is tydloos. Van ewigheid af en tot in alle ewigheid.
Die ouderlinge kniel voor God, en sit hulle goue krone voor Hom neer wanneer hulle Hom lof betuig. Hiermee sê hulle dat hulle totaal afhanklik van God is, en dat hulle heerskappy slegs geleen is - dit behoort immers aan God! Dan dwing dit my en jou ook vanoggend om in aanbidding voor Hom neer te val en saam met die ganse skepping uit te roep: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom!”
As ek so deur my kantoorvenster na buite kyk, en ek sien die wonder van God se skepping in die blommetjies, die plante, die voëltjies, wat vrolik kwetter en baljaar, dan kan ek verstaan wat Johannes beleef het, want ons God is groot en goed en almagtig. Kom ons aanbid Hom met alles wat binne-in ons is.
Gebed:
Almagtige Vader, Skepper van die heelal, al my lof en dank en aanbidding gaan tot U alleen. Dankie ook dat U hierdie wonderlike visioen deur Johannes laat opteken het. Dankie dat ek vanoggend kan weet dat ek ‘n Lewende, Alomteenwoordige en Almagtige God kan aanbid.