1 Timoteus 1:1,2
'n Paar jaar gelede kry ek eendag 'n uitnodiging van die Sinode van KZN se NG Kerk om opleiding te ontvang as prediker. Ek was sommer baie opgewonde, want dit was nog altyd vir my 'n passie om ook die Woord te kon bedien, maar daardie voorreg was slegs vir geordende dominees beskore.
So kry 'n dertigtal "doodgewone" ouderlinge toe opleiding deur 'n hele span predikante in al die fynere kunsies van Woordverkondiging, die skryf van 'n preek en hoe om 'n erediens te lei. Met groot deernis, geduld en liefde het hulle ons binne 'n paar weke gevorm tot predikers. Sedertdien het ek die wonderlike voorreg gehad om in talle klein dorpies regdeur Natal die Woord te kon verkondig, en boonop weekliks 'n boodskap te bring vir 'n gemeente van entoesiastiese, Woord-honger Zoeloes.
In die aanhef van Paulus se brief lees ons ‘n paar baie interessante dinge, en jy kry onmiddellik die gevoel van waaroor die res van die brief gaan handel. Op die oog af is dit net ‘n mooi groet, maar daar steek veel meer in as net ‘n “Goeie môre!” Ons lees daarin van gesag, liefde, roeping, genade en hoop.
Dalk moet ons net eers ‘n ietsie sê oor die man aan wie Paulus die brief geskryf het. Tydens Paulus se tweede sendingreis het hy by Listra aangedoen, en daar ontmoet hy hierdie jong man. Sy ma was ‘n Jodin wat tot bekering gekom het, en sy pa ‘n Griek. Timoteus was toe ook reeds ‘n gelowige, en Paulus het sommer dadelik gesien dat hierdie man baie potensiaal het as ‘n evangelis. Daar was egter ‘n klein probleempie: Omdat Timoteus deels ‘n Jood was, maar nooit besny nie, kon daar dalk probleme kom as hulle Joodse sinagoges besoek. Timoteus moes maar oë toeknyp en die operasietjie ondergaan. Toe begin sy onderrig onder leiding van die groot meester, Paulus. Wat ‘n wonderlike voorreg! Vir Paulus was Timoteus van onskatbare waarde op sy sendingreise, en hy was ook onder andere die leraar in Efese.
In die briefaanhef sien ons ‘n pragtige balans tussen gesag aan die een kant en liefde aan die ander kant. Paulus beskryf homself as iemand met groot gesag, gesag wat God hom gegee het in Jesus Christus. In dieselfde asem praat hy van Timoteus as sy “eie kind,” en lees ons in sy woorde van ‘n intieme, sorgende en liefdevolle verhouding tussen hom en Timoteus. Hier sien ons dus ‘n gesagvolle dog liefdevolle pa-kind-verhouding.
Vandag aanvaar ons nie sommer gesag nie, en veral nie absolute gesag nie, want dit word so dikwels misbruik. Ons het dit byvoorbeeld so prominent gesien in hierdie “swartmotor, bloulig konfooie” waar motoriste wat nie onmiddellik padgee nie gedreig word en selfs op geskiet word. Ek het sélf al ‘n slag deurgeloop onder so ‘n konfooi. Gesag beteken dikwels dat die persoon wat dit het, homself selfsugtig verryk en diegene onder hom uitbuit. Uit Paulus se voorbeeld leer ons dat jy jou gesag onbaatsugtig en met groot deernis en liefde moet uitoefen, en dat jy jouself moet onderwerp aan dieselfde Bybelse voorskrifte as wat jy van diegene onder jou gesag verwag. En as jy onder iemand se gesag staan, dan moet jy altyd onthou wat Paulus aan die Romeine geskryf het: “Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie.” (Rom. 13:1)
Iets wat hand-aan-hand gaan met gesag, is ‘n roeping. Leierskap is ‘n opdrag van God, so sien ons baie duidelik in vers 1. Jy moet ook goed verstaan, dat as God jou roep, durf jy dit nie weier nie. Vra maar vir Jona! Hy wou mos weier om God se opdrag uit te voer! Daar is baie verskillende maniere waarop ‘n gelowige leiding kan neem, en baie terreine in die lewe waar jy dit kan uitleef. As ouers het jy ‘n opdrag om leiding te neem oor jou kinders. In die kerk kan jy leiding neem as predikant, ouderling, selgroepleier, diensaksie-leier, jeugleier - die moontlikhede is legio. Elke vorm van leierskap kom egter as ‘n opdrag van God.
Die vraag is: hoe weet ek dat dit werklik God is wat my geroep het? Sekerlik die belangrikste element is biddende selfondersoek. Die blote feit dat jy ‘n leemte raaksien, kan beteken dat dit God is wat jou ‘n saak op die hart lê. Saam daarmee gee God jou die nodige gawes en toerusting om die taak uit te voer. Mede-Christene se erkenning en bemoediging sal sekerheid van God se roeping versterk.
Leierskap kom egter nie uit jou eie krag nie, maar dit is suiwer genade. God het die inisiatief geneem met jou verlossing, en op dieselfde manier neem Hy die inisiatief met ‘n roeping tot leierskap. Jy moet te alle tye besef dat jy slegs deur genade ‘n leier is, en dat dit niks met jou goeie hoedanighede, gewildheid of vaardighede te make het nie. Bid dus elke keer om God se genade wanneer jy as leier optree.
Laastens moet jou leierskap HOOP uitbeeld. In jou leierskap moet ander mense altyd vir Jesus kan sien. Jesus se leierskap moet dien as die rolmodel vir jou eie leierskap, en daarmee moet jy vir ander mense die hoop en verwagting skep vir Jesus se wederkoms.
Gebed:
Here Jesus, dankie vir die groot genade dat ek in U diens mag staan. Leer my asseblief om my leierskap in liefde uit te leef volgens U wil.