Genesis 22:8-19
Die gryse ou Abraham klim met swaar treë die berg op, die berg wat die Here aan hom uitgewys het waar hy sy seuntjie moet gaan offer. Elke tree is vir hom ‘n pyniging. Nee, nie oor sy hoë ouderdom nie, maar oor die vooruitsig om sy enigste lieflingseun daar op die altaar te sien, oopgespalk en geslag. Trane loop oor sy wange. “Here, God Almagtig, moet ek dit werklik doen?” Maar die Stem van God is stil. Voor hom huppel klein Isak oor die klippe met die swaar drag hout op sy rug, opgewonde oor die nuwe avontuur wat voorlê, min wetende wat wérklik op hom wag!
Meer as 37 jaar tevore het God ‘n belofte aan Abraham gemaak, dat Hy hom ‘n groot nageslag sou gee. In hierdie tydperk ervaar Abraham telkens God se genade en vergifnis, selfs wanneer hy struikel. God se belofte het egter lank getalm en eers gestalte gekry toe Abraham al 100 jaar oud was en Sara 90. Dit was ‘n heuglike dag! Twaalf jaar later kry Abraham egter die opdrag om klein Isak te gaan offer! Abraham was verpletter! Nogtans het hy God gehoorsaam en Isak na die offerplek geneem.
Uiteindelik is hulle bo, en met alle erns begin hulle om ‘n altaar van klippe te bou. Die twaalfjarige Isak begin wonder oor die lam wat geoffer moet word. Pa vat mos altyd ‘n offerlam saam van die huis af, maar vandag het hy niks by hom nie. “Pa?” Daar is ‘n groot vraagteken in Isak se stem. “Pa, ons het die hout, en ons het die vuur en die altaar en alles, maar waar gaan ons ‘n offerlam kry?” Ja, hy het al vroëer daardie vraag gevra, maar Pa het nie vir hom ‘n bevredigende antwoord gegee nie. En waarom kyk Pa hom dan nou so snaaks aan? En waarom huil Pa dan so baie vanoggend?
Die altaar is die mooiste wat Abraham nog óóit gebou het. Hy maak veral seker dat die oppervlak bo gelyk is, en dat daar nie ongemaklike skerp punte uitsteek nie. ‘n Mens moet gemaklik daarop kan lê. Die hout word versigtig op die altaar gepak, net groot genoeg vir ‘n jong seun om op te lê. Isak voel aan dat iets nie baie lekker is nie. Pa se gesig word al langer en stroewer, en hy sien sommer dat daar iets baie swaar op sy hart druk.
“Kom hier my seun.” Die ou man snik nou behóórlik, en hy begin om die protesterende seuntjie vas te bind. Met groot deernis lê hy sy enigste seun op die altaar neer. Dan begin klein Isak besef dat dit hý is wat geoffer gaan word! Hy het al gehoor dat die heidene dit doen. Hulle offer dikwels hulle kinders aan die gode. Pa sê dat dit verskriklik verkeerd is, maar hier doen hy nou presies dieselfde ding! Met afgryse sien hy hoedat Pa die groot mes optel. Die trane stroom van sy pa se gesig af en klein Isak gaan histeries aan die huil. “Pa gaan my slag!” Sy klein verstandjie kan dit net eenvoudig nie verwerk nie.
Op daardie oomblik weerklink ‘n vreemde stem uit die hemel: “Abraham, Abraham!”
Pa kyk verwilderd op: “Hier is ek!”
Eers baie later, toe klein Isak al ‘n groot man geword het, het hy verstaan Wie se stem hierdie was. “Die Engel van die Here,” het Pa aan hom verduidelik, maar eintlik was dit God Sélf! Só belangrik was hierdie gebeurtenis dat God Persoonlik uit die hemel gekom het om Abraham te keer en by hom te wees. Daardie oggend het Hy geweet dat Hy Sélf tweeduisend jaar later ook soos klein Isak geoffer sou word - aan ‘n kruis-altaar sou hang. En daar sou niemand wees om te keer dat die offer sou voortgaan nie.
“Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en moenie enigiets aan hom doen nie! Want nou weet Ek dat jy vir God ontsag het. Jy het nie jou seun, jou enigste, van My teruggehou nie.” Die Stem van God weerklink uit die hemel. Eers dán sien Abraham die skaapram wat agter hom teen die bos staan, sy horings verstrengel in die takke. Abraham lag en huil, alles deurmekaar as hy die baie verligte klein Isak losmaak en van die brandstapel afhaal. “Dink jy óóit dat God sou toelaat dat ek jou rêrag offer my seun?” Abraham druk sy seuntjie styf teen sy bors vas. Die skaap word in Isak se plek geoffer. “Die Here het voorsien!” Abraham se hele wese jubel as hy met oorgawe die skaapram offer. “Die Here het voorsien! Sy genade is só groot!”
Die skaapram is geslag en geoffer in die plek van Abraham se enigste seun, sodat hy kon lewe. God se enigste Seun is geslag en geoffer in die plek van jou en my, sodat ons kan lewe!
Word ons soms deur God beproef of getoets? Ek glo nie, want Jak. 1:13 sê: “God kan nie deur kwaad versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.” Jakobus wil dus sê dat die toets van ons geloof nie van God af kom nie, maar dat God dit positief kan gebruik om ons geloof te versterk. Jesus het immers gesê: “As julle wat sleg is weet om goeie dinge vir julle kinders te doen, hoeveel te meer sal ons hemelse Vader dit doen!”
Ons moet weereens net besef hoe onmeetlik groot God se liefde en genade is! Hy kan selfs die negatiewe omswaai om dit positief vir ons te laat uitwerk!
Gebed:
O Here, hierdie aangrypende verhaal ruk my aan die hart. Hoeveel is ek bereid om op te offer ter wille van U? Vanoggend laat ek my kop in skaamte sak. Vergewe my asseblief, Here!