Miga 6:1-8
Ons het nou gekom by die tweede hoofgedeelte van Miga. Die eerste deel het begin met ‘n hofsaak, en nou begin die tweede deel weereens met ‘n hofsaak. In ‘n hofsaak word daar dikwels beskuldigings heen en weer geslinger en vuil wasgoed gewas. Liefdeloosheid en haat is dikwels ‘n integrale deel van so ‘n geleentheid. Hierdie een is egter baie anders, want omdat die Here die Regverdige en Liefdevolle Regter is kan ons ‘n regverdige hofsaak verwag.
Miga begin deur die getuies te roep: die berge en heuwels. Hulle was maar al die eeue daar, en hulle het gesien hoe die volk daar aangekom het en wat hulle deur die eeue gedoen het. En hulle het gesien wat die Here alles vir die volk gedoen het. Hulle sou dus kon instaan vir die waarheid van die getuienis wat die Aanklaer teen die volk gaan lei.
Die aanklag van die Here teen die volk begin op ‘n verrassende wyse. Hy hou nie ‘n klagstaat voor en begin met verdoemende getuienis nie, soos wat ons sou verwag nie. Hy begin deur te vra of die Here nie dalk iets verkeerd gedoen het in die verhouding tussen Hom en Sy volk nie. ‘n Verdere verrassing is dat Hy nie die volk aanspreek as “die beskuldigde” nie, maar as “My volk”. Hy het steeds nie die verbond tussen Hom en Sy volk opgehef nie, ten spyte van hulle afvalligheid. Hy hou steeds nie op om Sy volk innig lief te hê nie, al het hulle ook so ver afgedwaal. “My volk, wat het Ek aan jou gedoen en hoe het Ek jou vermoei? Antwoord My!” vra die Here.
Maar die volk het absoluut niks wat hy hierop kan sê nie.
Dan gaan die Here voort en Hy haal aan uit die geskiedenis, want dit is immers die geheue van die volk. Natuurlik sal hulle nog onthou hoe die Here hulle op wonderbaarlike wyse gered het uit Egipte, daar waar hulle slawe was van die Farao, en waar hulle gedryf was tot op hulle uiterste. Die Here se ontsaglike daad van verlossing daar was, om die minste te sê, asemrowend, verstommend! Die logistieke wonder van God se voorsiening van kos en water aan miljoene Israeliete in hulle tog deur die woestyn, is in vandag se terme haas onmoontlik. Dit sou jare se noukeurige beplanning neem om dit te doen wat binne ‘n paar weke afgehandel is. Die deurtog deur die Rietsee laat vandag nog die groot militêre leiers kopskud in ongeloof.
Nie alleen het die Here hier voorsien nie, Hy het ook die regte leiers op die regte tyd gegee, Moses, Aäron, Josua. En dan gebruik Hy selfs heidene soos Bileam. Wanneer Balak vir Bileam huur om die Israeliete te vervloek, seën Bileam hulle eerder toe die Here hom aanspreek. Die Here haal die plekke Sittem en Gilgal aan, want watter Israeliet sal nie hierdie name onthou nie! Sittem was die laaste plek waar die Israeliete was voordat hulle triomfantlik deur die Jordaan getrek het om die Beloofde Land te beset. En Gilgal was die eerste plek wat hulle teëgekom het in hierdie nuwe land wat die Here aan hulle gegee het.
Ons word ook gedurig herinner aan ons eie verlede, aan die wonderbaarlike manier wat die Here ons volk gelei en bewaar het. Die wonderwerke uit ons eie geskiedenis is legio. Maar dit is nie net ons volk se geskiedenis nie - dink maar terug aan jou eie lewe, hoe die Here liefdevol voorsien het, dikwels op tye wanneer ons dit die minste verdien het. Ek kan boeke vol skryf oor die Here se voorsiening in my lewe! Die afgelope paar jaar alleen was vir my gekenmerk deur wonderwerk op wonderwerk, en liefde en genade in oorvloed. Selfs deur fisies moeilike tye, kon ek ondervind hoe Hy my gedra het, en steeds dra. Maar die grootste genade nóg was die dag toe Hy my gered het uit die slawerny van die duiwel, daardie dag toe Jesus in my lewe gekom het. Daardie was enige tyd net so groot soos die verlossing uit Egipte.
Uiteindelik kry die volk ‘n kans om te antwoord (vers 6). Hulle besef maar al te goed hoe verkeerd hulle opgetree het teen die Here, en dan wil hulle die saak probeer regstel. Allerhande soorte offerandes word oorweeg, selfs in groot getalle soos duisende ramme en duisende offers van olie. Hulle oorweeg dit selfs om so ver te gaan om hulle eie kinders, hulle eersgeborenes aan God te offer!
Dit is egter nie wat die Here wil hê nie. Hy vra dat hulle harte verander moet word. As jou hart verander, verander jou lewenswyse ook. Dit wat jy doen is ‘n bewys van wat jy in jou hart omdra. Jesus het dit later opgesom, dat dit beteken om jou medemens lief te hê. Oor hierdie onderwerp, van wat dit presies beteken om liefde uit te leef is reeds baie geskryf. Paulus het dit onder andere in 1 Kor. 13 duidelik uitgespel. Maar dit beteken ook dat ons liefde vir God moet uitleef. Voordat jy kan begin om dit te doen, moet daar eerstens ‘n lewende verhouding met Hom wees. En dit is presies wat Jesus van my en jou vandag vra, ‘n lewende verhouding met Hom.
Gebed:
Here, vandag besef ek net weereens hoe baie U vir my gedoen het, en hoe oneindig lief U my het. Help my asseblief om ‘n lewende verhouding van liefde met U uit te leef.