God is Genadig

27 January, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie God is Genadig

Miga 7:8-20

Video - Oudio

Het jy al ooit swaarkry beleef in jou lewe? Ek glo nie dat een van ons “nee” kan antwoord op hierdie vraag nie. Sommige van ons lesers het weliswaar al baie swaar gehad in hulle lewens - dit is ons almal se lot. In die slotgedeelte van Miga se boek praat hy dan juis met diegene wat hard geval het, en wat moontlik nou in groot donkerte sit. As dit jou lot is - daar is hoop! Jy kan weer positief die lewe ingaan!

Luister maar net wat sê Miga in vers 8: “Moet jou nie oor my verlustig nie, my vyand. Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in die donker, die Here is vir my 'n lig.” En dan gaan Miga voort: hy vertel dat die volk opreg besef het dat hulle gesondig het en dat hulle dus skuldig is. Nou kan hulle maar net opkyk na die Here, want in die duisternis is Hy die enigste Lig. Die volk het ook besef dat hierdie verskriklike dinge wat hulle getref het, bloot die gevolg is van hulle eie sonde. Hulle is bereid om die straf daarvoor te dra.

Wanneer daar sonde in jou lewe is, is daar eintlik maar net een uitweg wat sin maak - bely dit! Jesus het Sy dissipels later presies dieselfde geleer: bely jou sondes en erken dat dinge nie reg is in jou lewe nie! Jy sal dan uitvind dat God getrou is, en dat Hy jou vergewe. Hierdie volk kon daarna uitsien dat die Here weer vir hulle lig sou bring en hulle weer sou ophef uit hulle ellende. Ek en jy kan presies net so uitsien na die lig wat alreeds skyn - God se lig, en dat Hy ons uit ons swaarkry sal uitlig.

Miga is baie opgewonde as hy sien hoedat die volk herstel word en die stad se mure herbou word. Die volke wat neergesien het op Israel, sal dan na Israel toe stroom. Sy vyande sal verslaan wees en Israel sal weer outonoom staan, trots om die volk van God te kan wees.

Ek en jy staan ook dalk nou verslae, net soos Job van ouds wat alles in sy lewe verloor het. Maar kyk net hoe het God hom weer opgehef. Inderdaad kan ek en jy ook weer eendag trots ons koppe lig en mense in die oë kyk, trots om kinders van God te kan wees en te weet dat Hy ons vergewe het en opgehef het!

Verse 14 tot 17 is eintlik ‘n gebed. “Pas u volk op met u staf, die kleinvee wat u eiendom is, wat eensaam woon in 'n bos in die middel van 'n vrugbare gebied. Laat hulle in Basan en Gilead wei, soos in die ou tyd.” Hiermee is Miga se gebed dan dat die Here weereens soos in die ou dae die volk se Herder sal wees, soos wat Dawid in sy pragtige Psalm 23 geskryf het: “Die Here is my Herder - ek sal niks kortkom nie”. Daar is ‘n hegte band tussen ‘n herder en sy skape. Hy leef saam met hulle in die veld en ken elkeen persoonlik by die naam. Hy weet presies wat elkeen se geite en skete is, en hy gesels met hulle en maak hulle rustig as daar ‘n ondier in die omgewing is.

Wat ‘n pragtige beeld, want net so is die Here. Hy is nie iewers daar bo in die hemel nie, maar Hy is hier saam met ons, Sy kudde, Sy skape. Hy wil net die beste vir ons hê, en daarom sal Hy ons lei na die beste weivelde. Hy ken elkeen van ons by die naam - ken ons deur en deur. Hy gee intens om vir ons. Ja, dikwels moet Hy die kierie, die herderstaf gebruik wanneer ons wil wegbreek en ons eie pad volg. Dit kan dalk seermaak, maar dit is nodig vir ons eie heil.

Toe ons die eerste verse van die boek Miga gelees het was dit dalk met angs wat ons harte omklem het, want die boek begin met die intrapslag met ‘n hofsaak. Maar nou eindig Miga (verse 18-20) met ’n heerlike loflied oor God. Inderdaad is Hy genadig en Hy vergewe. Daar is absoluut niemand soos God nie - Hy is uniek! Hy kan nie vergelyk word met enigiemand anders nie. “Wie is ‘n God soos U? U is 'n God wat skuld vergewe!” jubel Miga dit uit. Ons het hier bo gesê dat ons ons sondes moet bely. Dit is egter nie die waarborg dat die sondes vergewe sal word nie. Die waarborg lê by God alleen, want Hy is die Een wat genadig is. Sy liefde en trou maak dat Hy sondes vergewe. Maar dit word nie alleen vergewe nie - dit word ook totaal weggeneem, sodat God nooit weer daaroor dink nie. Vergelyk gerus maar Jesaja 1:18. Jy hoef nie oor en oor vergifnis te vra vir ‘n sonde wat jy gedoen het nie. As God dit eenmaal vergewe het, is dit verby, so anders as ons mense wat dikwels ‘n sekere oortreding keer op keer teen iemand se kop gooi, al het dit soms al jare terug gebeur.

Dat God sondes vergewe is nie sommer ‘n goedkoop sakie nie. Hy was so ernstig daaroor dat Hy Sy enigste Seun, Jesus laat mens word het, laat verneder het en uiteindelik die hoogste prys laat betaal om my en jou los te koop van ons sondes. Dit was die enigste voorwaarde wat vir God aanvaarbaar kon wees. Vandag is dit die finale waarborg dat ons sondes vergewe is.

In die Ou Testament word dit dikwels vir ons voorgehou dat God ‘n wrede God is wat straf. In Miga het ons die teenoorgestelde gesien. Al het die mens ook hoé laag gedaal, is God steeds bereid om hom op te tel en uit genade te vergewe en weer op te hef.

Gebed:

Here, dankie vir Miga wat ons net weereens laat besef het hoe groot U genade en liefde vir ons is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026