1 Tessalonisense 3:6-13
Daar lê vanoggend so ‘n diep verlange in my hart, ‘n verlange om te kan gesels met elke persoon met wie ek die afgelope jare die evangelieboodskap gedeel het. Ek is baie diep besorg oor jou, liewe vriend, liewe vriendin, want dit voel vir my asof daar ‘n stukkie van my eie lewe na jou toe uitgegaan het. Skryf asseblieftog vir my, en laat my weet hoe dit met jou gaan. Wat ondervind jy? Is dit borrelend in jou van vreugde oor die nuwe lewe wat Jesus jou gegee het? Binne in my bruis en borrel dit van opgewondenheid, want elke nuwe siel vir Jesus laat die engelekore in die hemel uitbars in ‘n jubelende simfonie van blydskap en vreugde!
Ek is so opgewonde soos ‘n klein vlakvarkie wat ‘n lappie groen gras ontdek het, elke keer as iemand vir my skryf en vra hoe hy of sy te werk moet gaan om Jesus te ontmoet of hoe om die Evangelie met iemand te deel. By die skakel: http://bit.ly/VertelEv is 'n pamfletjie wat alles verduidelik. Dit is ook in Engels by: http://bit.ly/TellEng en in Zoeloe by: http://bit.ly/VertelZul Dit is seker die hoofrede waarom ek die afgelope agtien jaar elke dag die dagstukkies skryf:- om siele te wen vir Jesus. Is dit nie júís een van ons grootste take as gelowige nie? En beslis die heerlikste! Iemand skryf eenmaal vir my dat ons as gelowiges eintlik maar net die saaiers is in God se Koninkryk, en dat dit die Heilige Gees is wat die saadjies wat ons saai lewe gee en laat ontkiem en groei. Dit is baie waar, en is dit nie die heerlikste gevoel op aarde as jy in verwondering sien hoedat daardie eerste blaartjies van geloof die aardkors breek nie? Daardie sprankelende groen blaartjies is dan nog so broos, maar binne slegs ‘n paar dae spruit hulle uit tot volwaardige plante. Nuwe geloof maak my verskriklik opgewonde!
Paulus het presies dieselfde ervaar met die Tessalonisense. Hy is so haastig daar weg, dat hy nie eers kon ervaar hoedat hulle nuwe geloof begin blom nie. Soos jy reeds weet, het hy later vir Timoteus gestuur om te gaan kyk wat daar in Tessalonika aangaan. En toe begin Paulus seker rondtrippel van ongeduld, want hy kan net eenvoudig nie wág om nuus te kry nie. Waar draai Timoteus dan so lank? Het hy probleme opgetel? Het hulle dalk weer in sonde verval? “Tóé Timoteus - roer jou litte!!!”
En uiteindelik daag Timoteus op. Paulus het hom seker al van ver af staan en dophou terwyl hy op en af spring van opgewondenheid. “Tóé Timoteus - vertel!!! Vertel!!!” Paulus suig elke woordjie uit Timoteus uit, want hy stel intens belang in elke enkele mens in Tessalonika. Hulle is sy geestelike kinders, en hy gee opreg om vir elkeen, al ken hy hulle skaars. In die drie ou kort wekies wat hy in Tessalonika was het hy innig lief geword vir elkeen van daardie gelowiges.
Paulus was waarskynlik moeg van die ver reis en al die ontberinge wat hy moes deurmaak. Dis nie lekker om soos ‘n sleg hond uit ‘n dorp weggejaag te word nie, en dit knak beslis jou gemoed. Nou kom Timoteus met hierdie kraakvars nuus uit Tessalonika, en dit is vir Paulus soos ‘n heerlike lawende watertjie in ‘n dor woestyn. Skielik het die ou man sommer weer nuwe lus vir die lewe. Hierdie ou brose jong plantjies wat nog skaars hulle eerste blaartjies bo die grond uitgestoot het, beteken vir Paulus soveel dat hy innerlik versterk is en jubel in die Here. Wat doen hy? Raas hy met hulle oor dinge wat nog skeef is? Nee, hy komplimenteer hulle opreg oor die mooi dinge wat hy sien gebeur.
Opregte dankbetuigings, komplimente en ondersteuning het vir ‘n jong gelowige wat nog wankel in die geloof dikwels ‘n baie groter effek as om met so ‘n persoon te raas oor dinge in sy lewe wat nie reg is nie. Inderdaad sou Paulus seker baie stof kon kry om oor te baklei, maar hy verkies om te fokus op die goeie. Selfs wanneer hy by die slegte dinge kom, praat hy op ‘n positiewe manier daaroor. In 3:9 noem Paulus byvoorbeeld dat hy God dank vir al die blydskap wat hy oor hulle het. As gelowige moet ek met ‘n opregte hart vir my medegelowige kan sê dat ek vir God dankie sê vir al die vreugde wat daardie persoon in my lewe veroorsaak. As jy werklik bedoel wat jy sê, bring dit ‘n nuwe dimensie in jou verhouding met medegelowiges wat veel verder gaan as ‘n blote vriendskap. Jou verhouding word dan gedra deur God se liefde. Ek kry talle briefies, soms net ‘n enkele lyntjie, van mense wat hulle waardering uitspreek oor die dagstukkies, en wat dit vir hulle beteken. Ek waardeer elkeen van daardie briefies inniglik, want dit gee my nuwe lus om aan te gaan en my héél beste te lewer as ek skryf, want hulle laat my besef dat my arbeid ‘n verskil maak in mense se lewens.
Ons as gelowiges het mekaar baie nodig. Géén gelowige kan op sy eie aangaan nie. Dit is soos om ‘n kooltjie uit die vuur te haal en eenkant neer te sit. Dit vat nie lank voor daardie kooltjie morsdood is nie. Maar sit hom terug by die ander kole waar hy deel is van die warmte, en weldra gloei hy helderrooi!
Gebed:
Here, hou my asseblief gloeiend saam met my medegelowiges, en help my om ander gelowiges opreg te waardeer en dit vir hulle te sê.