Gewaarborgde Oorwinning

18 September, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gewaarborgde Oorwinning

Gewaarborgde Oorwinning

Daniël 12:8-13

VIDEO | LUISTER

Willie Hanekom skryf ‘n paar jaar gelede uit Perth in Australië vir my dat dit wel waar is dat slegs 4% van die Aussies Christene is, maar dat die kerk in Australië aan die brand is. Daar gebeur gereeld baie groot dinge, met manne- en vrouekampe en hulle is uiters positief oor die dinge wat daar besig is om te gebeur. Ons kla dikwels so oor Suid-Afrikaners wat emigreer na Australië, Engeland, Frankryk ens. Dit wil vir my egter lyk asof die Suid-Afrikaanse immigrante ‘n baie positiewe uitwerking op al hierdie lande het en dat ons hulle juis as ons sendelinge in die buiteland kan sien!

Ons het nou gekom aan die einde van die boek Daniël. Ek was aanvanklik baie bang om dit aan te pak, want die profetiese deel van die boek is vir die oningeligte (en dit sluit myself in!) maar baie duister en dikwels totaal onverstaanbaar. Die uitstaande navorsing van Ds. Ten Haaf wat die boekie “Gewaarborgde Oorwinning” geskryf het, het egter vir my ‘n totaal nuwe wêreld laat oopgaan.

Terloops, die boek kan van die Internet afgelaai word by hierdie skakel: GEWAARBORGDE OORWINNING

Daniël het wel gehoor het wat die engel gesê het maar hy verstaan dit gladnie: “Waarop gaan alles uitloop?” wil hy weet. Ons het die afgelope paar maande ‘n swetterjoel inligting gekry oor die agtergrond van Daniël se profesieë en die boodskap wat ons daaruit kon kry. Ek skaar my egter nog steeds vanoggend by Daniël en sy onkunde, want baie van die dinge wat hy geskryf het maak steeds nie mooi sin nie. Moontlik word my frustrasie hieroor saamgevat in die engel se woorde in vers 9: “die woorde is verseël en word geheim gehou tot die eindtyd toe.”

Daar is al baie bespiegel oor die ware uitleg van Daniël se profesieë, en daar sal nog baie boeke daaroor geskryf word. Ons kon dalk ‘n baie groter studie oor die boek gedoen het, en gepraat het oor al die verskillende menings. Ons wil tog só graag alles wat God in Sy Woord geopenbaar het ten volle verstaan. Dikwels probeer ons dinge sien in ’n onverstaanbare stukkie wat nie daar is nie, en dan forseer jy ’n verklaring. Ek troos my daaraan dat selfs die hoogsgeleerde Daniël nie alles verstaan het nie. Ja, hy wou ook graag ‘n volledige uitleg hê oor presies wat sou gebeur tot met die eindtyd! Dikwels probeer ons self ook delf om die antwoorde te kry, maar soos vir Daniël is dit beter om te berus by die tekens wat ons sien, en dat ons kennis neem dat God die geskiedenis in Sy wonderbare hande het, en dat alles sal gebeur op Sy tyd!

Ek wil daarom volstaan met wat ek geskryf het, want die doel was nooit om ‘n volledige Bybelstudie van die boek te maak nie, maar suiwer om God se persoonlike boodskap vir ons uit elke gedeelte te kry.

Aan die einde van hierdie boek moet ons onsself die vraag afvra, wat die boek Daniël dan nou eintlik vir ons beteken het?

Die ongelowige – dikwels selfs ook ongelowige kerkmense lees Daniël, en sien daarin ‘n paar mooi stories oor Sadrag, Mesag en Abednego in die vuuroond en Daniël in die leeukuil - klassieke verhale wat almal ken. Die res van die boek is ‘n warboel ontstellende en onbegryplike gedagtes wat jy liewer nie eers wil lees nie. “Nie een van die goddeloses sal verstaan nie”, sê die engel vir Daniël in vers 10.

Vir die gelowige is die boek Daniël egter ‘n reuse troos, want ons kan in al die verdrukking, gruwel, geweld en korrupsie wat ons vandag moet aanskou die wonderlike wete hê dat alles reeds voorspel is en dat God ten volle in beheer is! Op God alleen kan ons vertrou! Dit herinner ons aan die woorde van die ou beryming van Psalm 146:



 

Salig hy wat in die lewe,

sonder hulp en sonder raad,

as hom alles wil begewe,

vlug tot God, sy toeverlaat;

en ook in die swartste nag

op die HERE alleen bly wag!

Die boek Daniël sluit af met die grootste troos van almal, wanneer die ou profeet ‘n laaste persoonlike woordjie van die engel kry in vers 13: “Maar hou jy aan tot die einde toe. Jy sal te ruste gelê word maar weer opstaan en jou bestemde deel ontvang in die eindtyd.” Hierin is die boodskap ook vir jou en my dat ons moet aanhou met ons werk in die koninkryk van God. Ons moenie moedeloos raak nie, selfs al lyk dit soms of daar nie vrugte is op ons arbeid nie. Ja, inderdaad wag die dood op ons - dit is die paadjie wat die mens mos maar loop. Maar die wonderlike verwagting gee ons moed, dat die dood nie die einde is nie, maar die begin van ‘n wonderlike, splinternuwe lewe van verheerliking saam met God!

Gebed:

Here, ek loof en prys U vir die wonderlike troos wat ons die afgelope tyd uit Daniël kon put!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026