Judas:10-13
Ek het oor die jare sakkevol e-pos gekry waar iemand die een of ander obskure leerstelling wil verkondig. Om die punt te bewys dat hulle die “waarheid” het, en niemand anders nie, haal hulle selfs gedeeltes uit die Bybel aan, en jy begin dink: Hierdie ou het dalk ‘n punt beet! Maar as jy mooi gaan lees, dan sien jy dat die Bybelaanhalings totaal uit verband geruk is. Dikwels is hierdie geskrifte wat hulle opstel baie deeglik deurdink en lyk dit op die oog af of daar baie ure se werk en navorsing in gegaan het. So kry ek ‘n tyd gelede ‘n boekie in die pos wat gaan oor die Wit Afrikaner Volk van God (of iets dergeliks). Die boek is gerig aan die Swart bevolking, en daarin word dit baie duidelik vir hulle gestel dat slegs Witmense die hemel kan smaak. Dit is geheel en al buite perke vir Swartmense, en hulle word daarin aangemoedig om rustig voort te gaan met hulle voorvaderaanbidding, want die Evangelie is in elkgeval gladnie vir hulle beskore nie. Kan jy glo dat enigeen in die Naam van die Evangelie iemand kan aansê om die duiwel te aanbid! Sy stellings word natuurlik uit die Bybel aangehaal met gepaste Skrifgedeeltes!
Judas waarsku dat dwaalleraars dikwels voorgee dat hulle verskriklik belangrik is, en dat hulle ‘n baie hoë kennis het van die bonatuurlike, en selfs in hemelse kringe beweeg.
In ons vorige dagstukkie het ons juis gepraat oor engele en bose magte, en dat dit gevaarlike praktyk is om jou daarmee op te hou. Daar is egter ook ander uiters gevaarlike praktyke. Een daarvan is om te heul met die oproep van geeste oftewel afgestorwenes. ‘n Sogenaamde “medium” word gebruik om met die “geeste” te gesels en dan hulle “boodskap” aan jou oor te dra. Die Bybel draai geen doekies om oor hierdie dinge nie. Lees gerus maar in Deut 18:9-14 hoe God hieroor voel. Dit is een van die “afskuwelike praktyke” en God het 'n afsku in mense wat dit doen. Dit is om te heul met die duiwel en sy medewerkers! Jy kan nie God én Mammon dien nie!
Ongelukkig is dit nie net mense daar buite êrens wat die spoor so byster raak nie. Dikwels is dit kerkmense, gemeentelede wat ‘n totaal verdraaide siening het. Met ‘n vroom gesig sit hy in die kerk, maar sy optrede daar buite verklap sy ware kleure. Judas gebruik die voorbeeld van drie mense uit die geskiedenis om te wys wat die uiteinde is van mense wat dwaalleraars is. Kain is sy eerste voorbeeld: ons weet dat hierdie seun van Adam selfs offers aan die Here gebring het. Hy het God geken, want sy pa was immers ‘n diep gelowige wat saam met God gewandel het. Kain het afgedwaal en uiteindelik sy eie broer vermoor uit woede teenoor God. Sy lot was dat hy verban is. Hy het van die Here af weggegaan en sy nageslag was Goddeloos (Gen. 4). Bileam is omgekoop om teen God se wil in te praat. Hy het dit nie oorleef nie! (Num. 22 en 31). Korag het in opstand gekom teen God. Sy einde was verskriklik, toe die aarde hom lewendig ingesluk het (Num. 16).
Hiermee wil Judas vir die gemeente sê dat die gedrag van dwaalleraars anders is as dié van gelowiges, en hulle lot is ook anders. Hulle hoort nie in die gemeente nie, en hulle uiteindelike bestemming is ook elders!
Ongelukkig werk dit so dat die gedrag van hierdie mense dikwels ook gesien kan word in die lewe van gelowiges, mense wat net aan hulleself dink. Hulle gedra hulle dikwels uitspattig, en dit druis in teen die liefde van ware gelowiges. Liefde beteken dat gelowiges in ‘n eenheid saamgebind word, en die onselfsugtige en opofferende liefde van Christus word in hulle optrede weerspieël. In die ware gelowige se lewe is daar nie die egoïstiese soeke na eie voordeel nie, maar sy liefde word in sy dade teenoor sy medegelowige sigbaar.
Jy hoor dikwels dat iemand brom dat die kerk absoluut niks vir hom doen nie. Niemand doen by hom huisbesoek nie. Waak daarteen dat jy nie ‘n onvrugbare, selfsugtige lidmaat word wat net die heeltyd wil ontvang en bedien wil word nie. Kerk beteken nie dat jy net op die geloofstrein saamry en die rit geniet ten koste van die “personeel” wat in die gange op en af hardloop om jou rit aangenaam te maak nie. Kerk beteken ‘n onselfsugtige, opofferende diens aan God.
In die eerste kerk het mense bymekaargekom om te aanbid en om te leer, en dan het hulle uitmekaargespat en die Evangelie gaan verkondig aan elkeen wat ‘n oor het om te hoor. Hiermee wil ek nie sê dat elke lidmaat vandag die Woord moet verkondig nie. Maar elkeen van ons kan sy eie talente gebruik in diens van God om op ‘n praktiese manier die Koninkryk van God te bevorder. Sodoende maak jy nie alleen die liefde wat God aan jou bewys het prakties sigbaar nie, maar die bonus is dat jy geestelik ‘n ongekende groei beleef.
Gebed:
Here, vergewe my waar ek dikwels op my geestelike gemakstoel sit. Help my om prakties my geloof uit te leef.