Openbaring 1
Dit is al geruime tyd dat hy hierdie “gewaarwordinge” kry, amper soos drome, maar net baie helderder, en dan onthou hy elke detail klokhelder wanneer hy wakker word. Dit is sedert hy na die eiland Patmos verban is dat hierdie drome kom. Hy is mos na Patmos geneem omdat hulle nie meer wou hoor wanneer hy van die Here praat nie. Maar stilkry sal hulle níé vir hom wat Johannes is nie. Baie beslis nie!
Baie gou begin die besef tot Johannes deurdring dat hy weereens die pen moet opneem. Na sy lywige boek oor Jesus, het hy die gansveer maar rustig laat eenkant lê. Net ‘n brief of wat geskryf, maar dis mos nou nie juis wat jy ware skryfwerk noem nie. Dalk wil die Here juis hê dat hy nou weer ‘n groot geskrif aanpak.
“Here, wat wil U hê moet ek doen?” bid hy ernstig.
En dan is dit asof hy die stem van God iewers in sy binneste hoor: “Johannes, Ek wil hê dat jy die openbaring wat Ek jou gee sal neerskryf en vir die mense gee.”
Een oggend vroeg word Johannes wakker na nóg een van sy helder drome. En dan wéét hy: Dis nou die tyd! Haastig staan hy op en gaan sit by sy tafeltjie. Hy doop die gansveer in die inkpotjie, en dan begin hy skryf: “Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar.”
Johannes maak sy oë toe en bid: “Here, lê asseblief elke woord in my gedagtes, sodat ek slegs sal skryf wat U wil hê dat ek moet skryf. Hierdie is nie my boek nie, maar U boek, Here my God!”
Johannes is oortuig daarvan dat die drome van die afgelope ruk waarlik ‘n openbaring van die Here was, en hy neem ‘n besluit dat hy slegs gaan skryf wat die Here aan hom openbaar. Hy onderneem om niks van sy eie kommentaar hier in te skryf nie. Maar waar begin ‘n mens met só ‘n boek?
“Kyk, Hy kom op die wolke, en al die mense sal Hom sien,” skryf Johannes, terwyl hy met ‘n glimlag om sy mond weer dink aan daardie asemrowende dag. Hy en ‘n klompie ander dissipels was daar op die berg bymekaar, toe Jesus op die wolke weggevaar het. En toe sê die engel vir hulle dat Jesus weer presies nét so gaan terugkom. Almal sal Hom sien, nie net hulle, die gelowiges nie, maar ook die ongelowiges. Ja, selfs diegene wat Jesus gekruisig het!
“Al die volke sal oor Hom in selfverwyt weeklaag. Ja, dit is seker!” Johannes skryf hierdie woorde neer sodat elkeen moet weet dat as hulle saak met die Here nie reg is nie, dan sal hulle dit berou op daardie dag!
Johannes weet verseker dat hierdie nie sy eie mening is nie, maar dat dit God Almagtig is wat aan die woord is, daarom skryf hy met bewing: “Ek is die Alfa en die Omega, sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.”
Met hierdie inleidende woorde wil Johannes dit baie, baie duidelik maak van hoe ontsettend belangrik die inhoud van hierdie boek is. Nee, dit is nie sy boek, dat hy daarop kan roem nie. Hierdie is die Here God se boek!
Johannes besluit om vir die lesers te verduidelik waarom hy hierdie boek skryf en waar hierdie gedagtes wat hy neerpen vandaan kom.
“Ek, Johannes, is julle medegelowige, en deur ons verbondenheid met Jesus het ek saam met julle deel aan die verdrukking en aan die koninkryk en aan die volharding.” Ja, die mense moet darem seker weet dat dit hy is wat hierdie dinge neerskryf, en dat hulle hom daarom kan vertrou as ‘n betroubare getuie, en dat hy nie sommer dinge uit sy duim suig nie.
Miskien moet hy ook ‘n bietjie agtergrond gee oor waar hy aan die gedgates kom: “Ek was op die eiland Patmos, waarheen ek verban was omdat ek die woord van God en die getuienis van Jesus verkondig het. Op die dag van die Here is ek deur die Gees meegevoer en ek het agter my, so hard soos die geluid van 'n trompet, 'n stem hoor sê: “Skrywe wat jy sien in 'n boek op en stuur dit vir die sewe gemeentes: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.”
Johannes maak sy oë toe, en dan sien hy helder en duidelik voor hom, elke klein detail van die droom, visioen, vervoering - noem dit wat jy wil – wat hy gehad het. Hy sien weer die sewe goue staanlampe toe hy omgedraai het om te kyk waar die geluid van die trompet vandaan kom. En tussen die lampe het Hy gestaan, Jesus! Hy het ‘n lang kleed aangehad en daar was ‘n goue band om Sy bors. Johannes het in vervoering voor Jesus se voete neergeval! En toe vat Jesus aan hom, en Hy sê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek!”
En daar gee Jesus hom die opdrag om te skryf.
Gebed:
O Here, vandag is ek só dankbaar dat U daardie dag vir Johannes die opdrag gegee het om hierdie wonderlike troosboek vir ons te skryf.