Gered uit die Vuur

8 August, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gered uit die Vuur

Daniël 3:19-30

VIDEO | LUISTER

Gister het ons die verhaal gelees van koning Nebukadnesar se reuse goue afgodsbeeld en van die drie Judese manne, Sadrag, Mesag en Abednego wat geweier het om voor die beeld te buig. Selfs toe Nebukadnesar gedreig het om hulle te laat verbrand, was hulle antwoord: “Ons durf dit nie doen nie, en God sal ons beskerm as jy ons wil straf. Maar selfs al beskerm Hy ons nie, sal ons steeds aan Hom gehoorsaam bly!”

Nebukadnesar het wit geword van woede: “Hoe durf hulle! Sulke uitdagende woorde beseël hulle lot!” Hy gee opdrag dat die vuuroond sewe maal so warm gestook word, en die drie manne word vasgebind. Die spanning van die verhaal loop hoog: Gaan God hulle red? Gaan Hy ‘n wonderwerk laat gebeur sodat hulle nie in die vuur beland nie? ‘n Mens is half teleurgesteld as dit nie gebeur nie en die drie tóg in die vuur geslinger word. In die proses verbrand die wagte wat hulle ingooi. Dit moes ‘n verskriklike hitte gewees het. Ek het al ‘n paar gróót kampvure in my lewe gemaak, en ‘n hele paar keer al my hare geskroei by die hitte. Hierdie een was sommer báie groter en warmer!

Dis egter nie waar hierdie verhaal op ‘n tragiese noot eindig nie. Daar gebeur iets eienaardig: Nebukadnesar spring skielik regop - spierwit geskrik. Hy beduie na die oond: “Kyk!” stotter hy. “Ek het drie Jode ingegooi en nou is daar vier! En hulle is steeds lewendig!”

Wie is hierdie vierde persoon? Waar het hy vandaan gekom? Eintlik verskaf Nebukadnesar sommer self die antwoord: “Dis ‘n hemelse wese!” Hierdie arrogante, selfversekerde koning is nou skielik doodsbenoud!

Ja, Sadrag, Mesag en Abednego was nie van die vuuroond gered nie, maar God het hulle ín die oond bewaar. Só goed is hulle bewaar, dat toe Nebukadnesar hulle roep om uit te kom, is hulle hare nie eers geskroei nie! Selfs hulle klere het nie eers na rook geruik nie!

Die vraag wat onmiddellik by ons opkom, is die vraag oor God se almag en beskerming. Sal God alle gelowiges wat sulke wreedhede op die lyf loop beskerm as hulle Hom daarvoor bid? Die antwoord is: miskien, maar miskien ook nie! Ek het al talle verhale gehoor van gelowiges wat op die mees wonderbaarlike, bonatuurlike wyse gered is wanneer hulle in groot gevaar verkeer het. Aan die ander kant is daar talle grusame verhale van gelowiges wat wreedaardig omgekom het. Vat maar byvoorbeeld die slagting onder gelowiges onder die regering van Nero. Een van my eie voorouers is op die brandstapel verbrand tydens die reformasie. Terwyl hy gebrand het, het hy steeds aanhou preek totdat hulle ‘n brandende stomp in sy mond gedruk het om hom stil te kry!

Hierdie verhaal wil nie vir ons sê dat alle gelowiges op só ‘n wyse beskerm sal word nie. DieNebukadnesar drie manne het dit ook wel dééglik besef, want hulle woorde aan Nebukadnesar was, dat al sou God hulle nie beskerm nie, sou hulle Hom steeds dien!

Die drie Jode se verhaal sluit af met erkenning deur die koning: Daar is ‘n God wat Sy dienaars uit Nebukadnesar se mag kan red. Maar Nebukadnesar het ook baie groot respek gekry vir hierdie manne wat bereid was om hulle lewens op te offer vir hulle God. Hulle word beloon vir hulle geloof.

Wat hierdie drie manne gedoen het was nie maklik nie. As dit ek of jy was wat in daardie posisie was - wat sou ons gedoen het? Sou ons geswig het voor die druk? Dikwels word ons getoets en gelouter om ons geloof sterker te maak en dan kan dit gebeur dat sulke dinge op ons pad kom. Dit kan begin met klein dingetjies, soos druk van vriende om saam te gaan na ‘n rowwe partytjie. Sal ons nee sê en vir onsself die spot op die hals haal? Later, wanneer jou geloof gegroei het, kan die toetse dalk selfs erger word. Daar is talle grusame verhale van gelowiges wat gemartel is in tronke in Rusland. Die wonderlike verhale van hierdie mense wat staande gebly het en steeds bly vasklou het aan hulle geloof ten spyte van die verskriklike dinge wat aan hulle gedoen is, laat ‘n mens jou hande saamslaan in verwondering. Die ironie van die saak is dat die gelowiges in daardie skrikwekkende verdrukking dikwels laat weet het hoe bitter jammer hulle ons gelowiges in die vrye wêreld kry, omdat ons geloof dikwels so oppervlakkig is.

Hier is ook ‘n ander, baie belangrike punt wat na vore kom: gelowiges wat sulke verdrukking deurstaan, gryp die verbeelding van ongelowiges aan. Talle mense het al tot bekering gekom as gevolg van gelowiges wat staande kon bly. Die verhale van geharde Kommunistiese tronkbewaarders wat gelowig geword het as gevolg van hulle slagoffers, is legio. God is baie groter as enige verdrukking!

Gebed:

Here, hou my asseblief staande wanneer ek moet ly vir U Naam. Help my dat ek nie sal swig voor die druk nie!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Diensbaarheid
14 October, 2026
Jesus Word Verheerlik
13 October, 2026
Om Op Water Te Loop
12 October, 2026
Kos vir ‘n Reuse Skare
9 October, 2026
Vervolging
8 October, 2026