Handelinge 12:6-19
Petrus skrik wakker. Die swaar, koue kettings om sy gewrigte en enkels is bitter ongemaklik. Weerskante van hom lê die twee geharde soldate rustig en snork.
Dan sien Petrus dit: 'n lig wat in die sel skyn. Die eerste gedagte wat hom tref, is dat dit 'n visioen is, want waar kan daar tog nou 'n lig vandaan kom?
“Petrus, staan gou op!” Duidelik praat iemand met hom. Maar besef die persoon dan nie dat dit onmoontlik is nie? Wat van die kettings? Hulle pen hom aan die harde klipvloer vas! Hy kan nie beweeg nie!
Die volgende oomblik voel Petrus hoedat die boeie om sy arms losgaan. Hy lig sy arms op, en met 'n luide geklingel val die swaar kettings van sy gewrigte af. Skielik skiet die kettings om sy enkels los en val klaterend op die vloer. Deur al die lawaai slaap die twee wagte weerskante van hom rustig voort!
Petrus spring met 'n kloppende hart op. Dan sien hy die engel voor hom staan. Hy skrik hom boeglam - is dit dalk die doodsengel wat vir hom die tyding van sy teregstelling kom bring?
Dan praat die engel weer met Petrus: “Trek vinnig aan en kom saam met my!"
Petrus glimlag: “O wat 'n wonderlike visioen! Maar sulke dinge gebeur mos nie regtig nie? dis maar net 'n heerlike visioen!” Vas onder die indruk dat hy meegevoer is in 'n heerlike droom, speel Petrus maar saam en hy trek sy klere en skoene aan.
“Kom saam,” nooi die engel hom en dan swaai die swaar ysterdeur voor sy sel sommer vanself oop. Weerskante van die deur staan die twee soldate paraat op hulle pos. Hulle kom blykbaar gladnie eers agter dat die deur oopgegaan het nie.
Op sy tone loop Petrus agter die engel aan tussen die twee wagte deur sonder dat hulle hom sien. Nou is Petrus oortuig dat dit beslis 'n droom is! “Hoe is dit moontlik dat die manne nie die lawaai van die deur gehoor het nie?” wonder hy verbaas, “hulle het ons nie eers raakgesien nie, so asof hulle blind geword het!”
'n Entjie verder af in die gang tref hulle die twee ander wagte aan waar ook hulle op hulle pos is. Hulle stap ongehinderd by die soldate verby sonder dat die twee bewus word van hulle teenwoordigheid. En dan kom hulle by die buitedeur van die tronk. Die reuse ysterdeur se swaar slot knars oorverdowend en dan swaai die deur vanself met 'n gekraak van die skarniere oop. Twee swaargewapende wagte staan weerskante van die deur. Asof in 'n waas, loop Petrus ook tussen hulle deur sonder dat hulle dit eers agterkom.
Petrus voel die ysige windjie in sy gesig. Vervaard kyk hy rond – die engel het verdwyn en hy staan stoksielalleen in die nou straatjie. Dan dring die besef tot Petrus deur dat dit g'n droom was nie. Hierdie is die werklikheid!
Hy hardloop so vinnig hy kan na Maria, die moeder van Johannes Markus se huis toe. Dringend hamer hy aan die deur.
Toe Petrus in hegtenis geneem is, het 'n klompie gelowiges by Maria se huis bymekaar gekom om vir hom te bid, want die volgende oggend sou hy verhoor word en waarskynlik sou hy tereggestel word. En terwyl hulle nou in ernstige gebed verkeer, weerklink die gehamer aan die deur.
'n Jong diensmeisie, Rhodé gaan hoor wie daar is. “Dis ek, Petrus! Maak asseblief oop!” pleit hy.
Opgewonde hardloop sy na die ander toe, sonder om die deur oop te sluit: “Dis Petrus! Dis Petrus!”
“Jy's mal,” word sy toegsnou.
“Is nie! Ek het hom hoor praat, en hy klop aan die deur!”
“Dalk is dit net sy gees.....”
En buite in die koue staan 'n benoude Petrus steeds aan die deur en hamer: “Asseblief, maak vir my oop.....”
Baie versigtig maak hulle die deur op 'n skrefie oop. Voor die deur staan Petrus springlewendig voor hulle verbaasde oë. Opgewonde vertel hy vir hulle van sy asemrowende ondervinding in die tronk.
Dan vertrek Petrus inderhaas na Caesarea want solank as wat daardie Herodus in Jerusalem is, is dit vir hom nie meer 'n veilige plek nie - Herodus soek sy bloed! Hier moet hy dringend wegkom! Iewers sal hy wél 'n blyplek kry by een van die gelowiges.
Eers wanneer die dag breek, kom die ontstelde soldate agter dat hulle gevangene verdwyn het. Hoe verduidelik jy dit dan nou vir 'n omgesukkelde man soos Herodus?
'n Reuse soektog word van stapel gestuur om Petrus te kry, maar dit is vrugteloos, want teen daardie tyd is Petrus reeds baie ver van die groot stad af.
Herodus is woedend! Dis natuurlik deur die wagte se nalatigheid dat Petrus ontsnap het. Hulle word verhoor en skuldig bevind. Al sestien soldate word tereggestel!
Ons kan eintlik maar net in volslae verwondering luister na hierdie ongelooflike verhaal. Wanneer dinge op hulle ergste lyk, moet ons besef dat God sélf Sy kerk in stand hou. Deur al die wrede aanslae oor die eeue, het die kerk geblom, en vandag is die kerk steeds springlewendig. Alle eer aan God alleen!
Gebed:
Here, dankie dat ons vandag rustig kan wees met die wete dat U nog steeds U kerk bewaar!