Genade en Vrede!

14 January, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Genade en Vrede!

1 Korintiërs 1:1-3

VIDEO | LUISTER

Lentebloeisels tooi die wêreld in ‘n lieflike kleurewonder terwyl Paulus by die venster uitkyk oor die hawestad Efese waar hy al die afgelope jaar of twee besig is om ‘n gemeente te vestig. Maar selfs die lentekleure is nie genoeg om Paulus se donker gemoed te verlig nie. Hy is ‘n baie bekommerde man! Oorkant die Egeïese see, in die hawestad Korinte is dinge nie lekker in daardie gemeente nie.

Dit is die jaar 54nC. Paulus se sekretaris sit in afwagting gereed om die groot sendeling se brief aan die gemeente in Korinte te skryf. Paulus het die afgelope ruk allerhande kommerwekkende berigte ontvang uit Korinte en die tyd het nou aangebreek om baie ernstig met hulle praat. Dit kan net eenvoudig nie so aangaan nie!

Van Paulus,” begin hy bekommerd dikteer. Die sekretaris doop sy skerpgemaakte gansveer in die potjie ink en begin pynlik netjies die woorde in sierskrif neerskryf. “deur die wil van God 'n geroepe apostel van Christus Jesus.”

Slegs die krap-krap van die gansveer is hoorbaar, as Paulus se gedagtes terugdwaal na daardie dag buite Damaskus, dié dag toe hy die Opgestane Jesus ontmoet het. Watter onbeskryflike invloed het daardie traumatiese dag nie gehad op sy lewe nie! Jesus het hom persoonlik aangeraak en hom ‘n uitgestuurde, ‘n apostel gemaak.

“Ons moenie van Sostenes vergeet nie”, sê Paulus vir die sekretaris, “hy het immers saam met my gedink oor hierdie brief! Voeg by dat die brief ook van die broer Sostenes kom.”

“Presies hoe moet ek die brief bewoord? Dis ‘n sensitiewe situasie, en mag nie die nuwe gelowiges van Korinte wegdryf van die Evangelie af deur onsensitief te skryf nie. Maar die afskuwelike dinge wat in daardie gemeente gebeur, durf ek nie maar net daar laat nie!”

‘n Koue rilling gaan langs sy ruggraat af by die blote gedagte aan van die dinge wat sy ore bereik het! “Maar daardie gemeente behoort steeds aan God!”

“Skryf: Aan die gemeente van God in Korinte,

Die sekretaris kyk Paulus vraend aan as hy nie dadelik aangaan nie. Hy merk dat die ou man diep ingedagte is.

wat in Christus Jesus geheilig is deur God – geroepe heiliges,

“Dink net,” gesels Paulus met sy sekretaris, “is dit nie heerlik om te weet dat ek en jy en óók die gemeente in Korinte vir ons Meester afgesonder is nie? Ons is heilig! Hy het ons Sélf, Persoonlik uit die sondige wêreld uitgehaal en ons heilig gemaak! En dit ten spyte van al ons sonde! Maar die dinge wat nou aangaan in Korinte het eenmaal té erg geword. Baie van hulle heul met gnostisisme. Dis 'n verfoeilike ding! Daardie misteriekultus is besig om ál die werk wat ons daar gedoen het, ongedaan te maak. Kan jy glo dat hulle werklik sou dink dat jy onsterflikheid kan kry deur die een of ander inlywingsrite?” Paulus is sommer omgekrap. “Ons moet dit baie duidelik uitspel dat hierdie sogenaamde ‘pneomatikos’ waarvan hulle praat, suiwer onsin is. Hulle wil sowaar beweer dat jy met jou liggaam kan doen nét wat jy wil, solank jy ’n ‘pneomatikos’, ’n geestelik verligte mens is, en bevry is van die liggaamlike. In kort beteken dit mos dat solank jy ’n gelowige is, dit nie saakmaak hóé erg jy in sonde leef nie. Nee, dit werk nie so nie! Ons móét mos heilig lewe!”

“Ek dink jy moet vir my nog ’n sinnetjie invoeg by die aanhef: “saam met almal wat op elke plek die Naam van ons Here Jesus Christus aanroep, hulle Here en ons Here.” Paulus sien die vraagteken op die sekretaris se voorkop. “Hierdie brief gaan opslae maak! Dalk lees baie meer mense dit as net die gemeente in Korinte!”

Paulus glimlag: “Ek wonder tóg hoeveel mense ooit hierdie brief sal lees? Sal dit nie wonderlik wees as ‘n paar honderd dit onder oë kan kry nie! Dit sal my ‘n baie gelukkige man maak! Wie weet, dalk doen hierdie brief vir die volgende jaar of drie nog steeds sy rondtes onder gemeentes. Inderdaad kan ál die gemeentes iets leer hieruit!”

Ja, min het Paulus geweet dat hierdie brief vir die volgende tweeduisend jaar nog steeds sy rondtes sal doen en baie miljoene mense dit sou lees en daaruit leer. Daardie paar honderd wat hy dalk in gedagte gehad het, het sy stoutste verwagtinge oortref! Sou hy dalk die brief anders bewoord het as hy dit geweet het? Ek twyfel!

“Kom ons sluit die aanhef af met ‘n seënwens: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus!”

Paulus peins diep en dan sug hy swaar: “Ek voel so jammer vir daardie arme mense wat so mislei word. Die morele verval in Korinte is skokkend! Dan is daar boonop die verskriklike verdeeldheid. Daar is selfs hofsake tussen gemeentelede! Dit mag mos nie? Hoe bitter nodig het hulle nie juis nóú hierdie seënwens nie. Hoe verskriklik nodig het die arme mense nie die vrede van God nie. En natuurlik Sy heerlike genade! Dit is my innige gebed dat hulle dit werklik sal ervaar, en dat al die ander mense wat hierdie brief lees dit óók sal ervaar!”

Gebed:

Here, my hart loop oor van dankbaarheid dat hierdie brief van Paulus vandag vir ons bewaar gebly het, en dat ons steeds vandag daaruit krag en wysheid kan put!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Nog ‘n Grote Val
16 February, 2026
Is Sakramente Genoeg?
13 February, 2026
Lewenswedloop
12 February, 2026
Verantwoordelike Vryheid
11 February, 2026
Onderhoud met Paulus
10 February, 2026