Markus 12:35-44
Uiteindelik het die slim manne begin besef dat hulle Jesus nie kon vasvra nie, en hulle het Hom uitgelos. Jesus kry dus nou kans om Sy laaste paar dae te gebruik om die dissipels en ander aanhangers in die tempel te leer.
Jy sal nog onthou dat Jesus kort vantevore die blinde Bartimeus genees het? (Markus 10:46-52) Bartimeus het langs die pad gesit en tot almal se frustrasie aanhou skree: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” Hierdie mense wat nou rondom Jesus sit by die tempel, onthou sékerlik nog daardie insident, want hoe kan jy óóit so ‘n aangrypende genesing vergeet? Maar het hulle ooit werklik verstaan wat Bartimeus gesê het? En wat van Palmsondag, toe hulle Jesus al palmswaaiend toegesing het: “Prys die Seun van Dawid!” Het hulle toé verstaan? Boonop leer die Skrifgeleerdes die mense ook dat die Messias die Seun van Dawid is. Jesus wil nie dat hulle die verkeerde indruk kry oor daardie uitdrukking, dat Hy die Seun van Dawid is nie, dus verduidelik Hy dit vir hulle.
‘n Mens sou maklik verkeerd kon verstaan, dat die Messias as Seun van Dawid dalk ondergeskik sou wees aan Sy voorvader Dawid. Jesus verduidelik dus dat dit beslis nie die geval is nie. Hy haal aan uit Psalm 110:1 om vir hulle duidelik te maak waaroor dit gaan. Oorspronklik is die Psalm geskryf om te beskryf hoe die Here Dawid se Koninkryk op Sionsberg sou vestig. Maar later is dit óók verstaan, dat dit die finale oorwinning van die Messias sou beskryf. As dit die geval is, maak iets nie mooi sin nie. Dawid noem dan sy eie Seun “Here.” Die belangrike punt wat Jesus wil maak, is dat die Messias nie bloot ‘n baie besonderse koning is, soos meeste Jode geglo het nie, maar dat Hy in werklikheid die Seun van God is, en dat Hy baie groter as die groot koning Dawid is.
In die tweede gedeelte waarsku Jesus teen die skynheiligheid van die Skrifgeleerdes. Ons kry amper die indruk dat Jesus sy mes inhet vir hierdie skynheilige manne. Dis egter nie die geval nie. Hulle godsdiens het geensins die eer aan God gegee nie. Dit was selfgesentreerd en die klem het op hulle eie aansien geval. Almal moes hulle mooi klere raaksien, en hulle moes ereplekke kry by groot feeste en in die sinagoge. Hulle kon die mooiste, lang, indrukwekkende gebede opsê, en dít terwyl hulle die weduwees van hulle eiendom beroof het, wat ‘n gruwel is in God se oë is volgens Eksodus 22:22-24.
Wou Jesus hiermee slegs die mense waarsku om weg te bly van die Skrifgeleerdes af? Dit sou nie sin maak nie! Jesus wou mense waarsku om nie dieselfde paadjie te loop as daardie “wyse” manne nie. Vir ‘n gelowige is dit baie maklik om in dieselfde strik te trap as die Skrifgeleerdes, veral as jy al ‘n goeie ent gevorder het op die geloofspad. Jy ken die Bybel al redelik goed, en jy weet watter soort betekenis om te heg aan Skrifgedeeltes. Jou geloof staan sterk, en jy kry dit reg om die lastige sondes af te sweer. Jy het geleer om mooi te kan bid, veral in die openbaar. En nou begin jy ‘n geestelike hoogmoed kry!
Jy voel jammer vir die arme drommels wat nog sukkel met die basiese geloofsdinge, en jy begin neersien op hulle, jy het immers gevorder! Jy maak seker dat wanneer jy die dag vas, dat almal wat saakmaak daarvan sal weet. Dit is immers lekker om die aandag te kry! Jy sorg dat mense kennis neem dat jy jou volle tiende gee, en nie ’n sent minder nie, vir die kerk! En by elke geleentheid wat jy in die openbaar kan bid, bid jy sodat veral die arme klomp wat nog nie mooi leer bid het nie, kan kennis neem van hoe ‘n gebed nou éintlik behoort te klink.
Intussen knyp jy die kat in die donker, daar waar niemand wat jou ken, dit sal sien nie!
Dit klink verskriklik kras, maar dit is ‘n gevaar vir elke gelowige. Ons moet waak en bid om te alle tye Jesus se voorbeeld te volg en nederig te bly. Onthou: as ons iets goed doen, dan doen ons dit nie vir mense of ons eie selfbeeld nie, maar alleen vir God!
Dan gaan sit Jesus naby die offergawekis en Hy kyk hoe mense geld daar ingooi. Talle skatryk mense gooi groot bedrae geld in. Maar dan kom ‘n weduwee daar aan en gooi slegs twee klein muntstukkies in. Jesus roep die manne nader: “Sy het meer ingegooi as al die ander mense,” merk Jesus op.
“Meester, hoe kan Meester dan nou so ‘n ding sê?”
Dan verduidelik Jesus dat hierdie vrou uit haar hart alles wat sy gehad het vir die Here gegee het. Sy kon maklik een muntstukkie teruggehou het vir haarself, maar sy het nie. Sy is ‘n voorbeeld van ware toewyding aan God. Anders as die Skrifgeleerdes van wie Jesus so pas gepraat het, is haar toewyding waarlik opreg. Sy kon niemand beïndruk met haar twee muntstukkies nie. Wat sy gedoen het, het sy gedoen omdat sy geglo het dat dit vir die Here alleen is. Dalk het sy selfs skaam gekry dat iemand dalk sou sien hoe min sy ingooi. Sy het egter haar plig gedoen vir die Koninkryk van God!
Dit is wat die Here van ons vra: om ons álles vir Hom te gee sonder om daarvan ‘n ophef te maak.
Gebed:
Here, ek staan baie skuldig voor U, sien myself as beter of verder op die geloofspad gevorder as ander. Dan vergeet ek dat alles slegs genade is!