Gee Sonder om te Vra

23 January, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gee Sonder om te Vra

Matteus 6:1-4

Ek het al so dikwels die toets van Matteus 6 met ‘n onderskeiding gedop! En keer-op-keer voel ek agterna soos ‘n wurm! Ek is al menigmaal deur ‘n bedelaar gekonfronteer, en elke keer het hy ‘n lang storie. Sondag het dit wéér gebeur, nogal rég voor die kerk! Hulle stories kan dikwels so outentiek raak dat hulle jou oortuig van die werklikheid van die situasie. Negentig persent van die tyd is dit egter ‘n opgemaakte storie, maar die vraag is, hoe weet ek of dit eg is of nie? Boonop, wie is ek om te oordeel? Wanneer ek die persoon met leë hande wegstuur, staan die letters in Matteus 6 skielik soos gloeiende woorde voor my, woorde wat my aankla van dieselfde skynheiligheid as die Fariseërs van ouds.

Ek het hierdie bedelaar-toets al sóveel keer in my lewe gedop. Boonop is ek al male sonder tal met ‘n slap riem gevang!

Vrydag is aalmoesdag,” vertel ‘n ou Moslem my eendag. “Op ‘n Vrydag mag jy nie ‘n bedelaar met leë hande laat weggaan nie!” In elke Moslem se winkel is daar dus Vrydae ‘n bakkie vol sente op die toonbank, en elke bedelaar wat verbykom kry ‘n paar muntstukkies. Sy wet sê dat hy dit móét doen, dus doen hy dit. Die wet sê ook nie hoeveel hy moet gee nie, dus gee hy die absolute minimum, niks meer as ’n paar waardelose stukkies koper nie. Hy help mos die armes! Sy gewete is nou mooi silwerskoon!

Op TV sien ek ‘n berig oor die een of ander groot organisasie wat geld geskenk het vir welsyn. Daar was ‘n groep mense met aangeplakte glimlagte wat feitlik reg rondom gaan, en ‘n reuse tjek van maklik twee meter lank, waarop natuurlik die maatskappy se embleem verskyn vir die wêreld om te sien. Die tjek word aan die sukkelende welsynsorganisasie oorhandig met oordrewe handdrukke. Baie indrukwekkend! Natuurlik is hierdie oorhandiging wat TV nuusdekking kry, ‘n uitstekende advertensie vir die maatskappy.

By ‘n ander geleentheid is daar ‘n beriggie op TV oor ‘n sopkombuis. Die persoon wat verskyn is totaal onbekend, maar vir jare reeds is sy besig om vir honger kinders kos te gee in ‘n brandarm woongebied. Al haar kapitaal is reeds opgebruik. Sy sukkel sélf om kop bo water te hou! Maar sy is stralend gelukkig. Niemand van die buitewêreld het ooit van haar geweet nie, totdat iemand haar eendag per toeval raakgesien het, en besluit het om ‘n video van haar te neem waar sy besig is met haar lewenstaak.

In die wandelgange van die kerk hoor ek iemand bitterlik kla: “Hier het ek my twee hande deurgewerk vir die kerkbasaar, en ek kry nie eers ‘n dankie daarvoor nie!”

Wat het al hierdie voorbeelde wat hier bo genoem word in gemeen? Die enkele woord: GESINDHEID. Die Moslems gee vir armes omdat die wet sê dat hulle moet. Daarom gee hulle net die absolute minimum, net om binne die perke van die wet te bly. Daar is geen liefde betrokke by hierdie handeling nie, of selfs enige simpatie of empatie teenoor die bedelaars waarvoor hulle gee nie. Die maatskappy met sy reuse tjek het net één ding in gedagte: om soveel nuusdekking deur sy handeling te kan kry as moontlik. Hy móét gesien word as iemand wat werklik omgee, want dan sal sy produk beter verkoop. Ja, ons wys baie maklik vinger na hulle, maar is dit nie maar presies dieselfde as iemand wat die een of ander groot skenking maak in die kerk, en dan verwag dat hy in die openbaar daarvoor bedank word nie? Ek het sélf al dikwels in hierdie strik getrap, dat wanneer ek die een of ander taak verrig, dat ek in afwagting sit dat die dominee my van die kansel af moet dankie sê vir my aandeel in die sukses van die kerk. ‘n Ou dominee word eenmaal vreeslik geprys vir sy preek na die erediens. Toe die lofsanger wegstap, sê die dominee vir my dat die duiwel hard gewerk het, want as iemand jou so prys dan moet jy weet dat daar groot fout was met jou preek!

Dit het alles te doen met jou gesindheid. Die vrou met haar sopkombuis in die townships se grootste plesier in die lewe is om die dankbare glimlaggies te sien van honger kindertjies wat kos kry. Sy weerkaats Jesus se liefde sonder om te vra vir erkenning. Wanneer ek en jy ons deel gee - wat is die gesindheid in ons harte? Gee ons sonder om iets terug te verwag? Of gee ons dalk in die hoop dat die gemeenskap ons op die een of ander manier hiervoor sal beloon of bedank? As ons tóg maar net erkenning kry vir ons goeie daad! Of is dit miskien dat ons van God ’n beloning verwag vir dit wat ons gedoen het? Inderdaad sal God diegene beloon wat met die regte gesindheid gee, maar die regte gesindheid is nie om te gee sodat God ons beloon nie, maar juis om slegs te gee uit liefde en dankbaarheid vir alles wat God alreeds vir ons gedoen het.

Gebed:

Here, gee asseblief vir my die regte hartsgesindheid, en empatie met diegene wat minder bevoorreg is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026