Gee met die Regte Gesindheid

7 April, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gee met die Regte Gesindheid

2 Korintiërs 9:1-15

VIDEO | SPOTIFY

Voel jy dalk ‘n bietjie ongelukkig oor die dagstukkie wat ek verlede week gestuur het oor die gee van offergawes aan die Here? Ongelukkig is dit só dat sommige kerke hulle lidmate “mislei” deur hulle te dwing om tiendes te gee. Dikwels word daar só met lidmate se emosies gesmokkel, dat hulle uit pure skuldgevoel meer gee as wat hulle werklik kan bekostig, en dat hulle dan sélf in die verknorsing beland. Mense gee dikwels met ‘n swaar hart.

En dan is daar die ander sy van die saak, waar gemeentes hulleself verryk en onnodige luukse bouwerk doen of hulle leraars in weelde leef terwyl die gemeente verarm. Die tiendes word dus misbruik. Daar is dikwels ook die gevoel dat jy liewer gladnie oor geld moet praat wanneer dit by geloof kom nie. Die gedagte is ook al teenoor my uitgespreek dat jy slegs uit jou oorvloed vir die kerk gee, en dat dit jou nie finansieel moet raak nie. Is die gee van “tiendes” nie dalk baie wetties nie?

Ek gaan my nie uitlaat oor al hierdie vrae en gedagtes nie. Maar ek wil tóg enkele opmerkings maak, en ek wil vra dat jy hierdie dinge sal oordink en die saak vir jouself sal uitmaak met die Here.

In die eerste plek wil ek dit benadruk dat ons besig is met ‘n reeks oor 2 Korintiërs. Paulus skryf sekere dinge met ‘n doel in hierdie brief, en as ons gaan besluit dat ons maar ‘n hoofstuk wil oorslaan omdat ons dit liewer nie wil hoor nie, dan is ek bevrees, lees ons slegs die dele in die Bybel wat ons pas, en die ander gooi ons weg. Die ganse Bybel is die Woord van God! Ons durf nie iets weglaat nie. Ja, óók die Ou Testament! Lees gerus weer wat in Openbaring 22:18,19 staan.

Dat die verpligte gee van tiendes wetties is, stem ek heelhartig oor saam. ‘n Gelowige gee nie omdat die wet van hom vereis om te gee nie. Jy gee aan die Here uit dankbaarheid vir wat Hy vir jou gedoen het. Hoeveel moet jy gee? Nee, dit kan ek nie vir jou sê nie - dit moet jy sélf besluit, en die saak met die Here uitmaak. En as jy met ‘n swaar hart gee, dan moet jy dit liewer uitlos, want die Here het nie behae daarin nie. Toe ek in die dagstukkie gesê het dat ‘n ware dankoffer eintlik behoort seer te maak, het ek nie bedoel dat jy moet gee terwyl jy eintlik gladnie wil gee nie, of terwyl jy dit gladnie kan bekostig nie. Dit kon eintlik maklik misverstaan word. Jy moet gee omdat jy júís vir die Here wíl gee. Maar soms kan dit wél jou sak baie diep raak!

Móét ek juis vir die kerk gee? Nee, nie noodwendig nie. Maar jy hét wel ‘n verpligting teenoor jou gemeente. Die gemeente is die kanaal waardeur sendingwerk, evangelisasie en hulp aan armes verleen word, en boonop is daar noodsaaklike administrasie wat ‘n gemeente aan die gang moet hou, en salarisse wat betaal moet word. As ‘n gemeente egter lidmate se bydraes misbruik, dan sou ek tweekeer dink voordat ek vir daardie gemeente gee! ‘n Gemeente het ‘n baie groot verantwoordelikheid en verpligting om die bydraes slegs te gebruik tot eer van die Here en tot uitbreiding van Sy Koninkryk.

Sommige gelowiges het egter ’n probleem daarmee om vir die kerk te gee want dit moet mos eerder vir die Here gegee word? Die kerk is egter die verteenwoordiger van die Here op aarde, en as jy vir die kerk gee, gee jy eintlik vir die Here! Mits daardie gemeente dit natuurlik nie misbruik nie. En natúúrlik kan ek ook ‘n deel van my dankoffer aan ander persone of instansies gee, soos wat die Here dit op my hart druk.

Die vrae wat na vore gekom het, sluit eintlik baie mooi aan by vandag se Skrifgedeelte, wat weereens praat oor ons bydraes. En nee, hierdie een gaan ek ook nie oorslaan nie! In die openings sin skryf Paulus: “Eintlik is dit oorbodig dat ek aan julle skryf oor die hulpverlening aan die gelowiges in Judea.” Dit behoort nie nodig te wees vir ‘n leraar om oor ons bydraes te preek nie, want dit is iets wat natúúrlik moet voortspruit uit jou lewe van liefde. ‘n Gelowige wat waarlik sy liefde uitleef, sal van nature ook ‘n oop hand en beursie hê, en die nood in ander raaksien en help.

Hierdie gemeente aan wie Paulus skryf, staan gereed. Hulle is opgewonde om te kan gee, want die bydraes wat hulle maak, gaan ‘n groot verskil maak aan die lewensgehalte van die mense van Judea, wat waarlik swaar gebuk gaan onder armoede.

Daar is natuurlik ook ‘n bonus vir diegene wat bereid is om vir die Here te gee. Ek sê dit eintlik met huiwering, want weereens kan dit maklik verkeerd verstaan word. “Wie karig saai sal karig oes; en wie volop saai sal volop oes”, skryf Paulus in 2 Kor 9:10. Om iets terug te kry vir dit wat ons gee, mag nooit óóit ‘n motief wees vir ons om te gee nie! Maar dikwels kry jy baie meer terug as wat jy gee. Dit mag dalk nie stoflik wees nie, maar geestelik doen dit wondere vir jou as jy bereid is om te gee.

Ten slotte: Vers 7 moet eintlik die norm wees vir ‘n gelowige om te gee: “Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief!

Gebed:

Here, gee my ‘n oop hand en beursie om vir U Koninkryk te gee, maar terselfdertyd ook blydskap in my hart wanneer ek gee!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026