Lukas 18:1-14
Jesus vertel twee gelykenisse oor gebed. In die eerste wil Hy sê dat gebed vrugte afwerp, en dat jy moet aanhou bid. In die tweede maak Hy duidelik met watter gesindheid ons moet bid.
Ek het oor die jare talle hartseer briewe gehad van mense wat vertel dat hulle aanhou bid en bid vir ‘n sekere saak, maar dat dit voel asof die Here nie die gebed hoor nie. Ander vertel weer dat dit voel asof hulle teen ‘n plafon vasbid, en dat hulle die Here gladnie bereik deur die gebed nie. My eie, baie edel gebed, was dat die Here my as predikant in ‘n gemeente sou laat dien. Ek moes toekyk hoedat my droom deur my vingers glip. Die Here het nie my gebed toegestaan nie, en ek kon nooit verstaan waarom nie - dit was dan so ‘n eerlike en edel versoek. Eers baie jare later het my oë oopgegaan toe die Here my die geleentheid gee om deur die internet daagliks duisende mense met die evangelie te bedien.
Wanneer Jesus die gelykenis vertel, begin Hy deur ‘n regter te beskryf. Van iemand in só ‘n amp, sou ons deernis en regverdigheid verwag. Hierdie regter het egter die vrou se versoek totaal geïgnoreer. Dan hoor ons dat hierdie man in die eerste plek géén respek gehad het vir God nie, en dat hy hom boonop gladnie aan mense gesteur het nie. Al waaraan hy gedink het, was sy eie selfbeeld. Toe die vrou aanhou neul het dat hy haar saak behartig, het hy uiteindelik ingegee, bloot om sy selfbeeld te beskerm. Die vrou se optrede was volgens sosiale norme van die tyd skaamteloos. Maar sy was desperaat en boonop vasberade!
Jesus het kommentaar gelewer op die storie met ‘n vergelyking tussen die onregverdige regter en God. Hieruit leer ons dat God soveel meer regverdig is as hierdie man wat net aan homself gedink het. Daardie regter het niks vir mense omgegee nie, maar die Here het oneindig baie deernis vir Sy kinders! Op talle plekke in die Bybel lees ons van Sy wonderbare, onbegryplike liefde vir ons, en hoe Hy Hom oor ons ontferm. Ons lees dat Hy omgee vir elke gelowige. Ons mag dus maar na Hom gaan in gebed en vir Hom dinge vra. Al voel dit dikwels vir jou asof Hy nie jou gebed hoor nie, kan jy vanoggend verséker weet: Hy luister na jou smeking!
Waarom word my eerlike gebed dan dikwels nie toegestaan nie? Die probleem is dat ek en jy maar bitter klein dink en redeneer. Ons verstandjies is kleiner as mosterdsaadjies in vergelyking met God, en daarom sien ons dikwels net die klein huidige kolletjie rondom ons raak. God sien ‘n baie, baie groter prentjie. Hy sien boonop nie alleen die huidige en verlede wat ons sien nie, maar ook die toekoms! Hy het immers reeds lankal die toekoms ontwerp! Daarom gee Hy dikwels baie anders en baie beter as wat ons vra. Ek weet - ek het eerstehandse ondervinding daarvan! Ek kan maar net met groot lof verkondig dat Hy groot en goed en alwetend is, en soveel groter dink as ek, nietige mensie. Die groot geheim is dat Hy wil hê dat ons moet aanhou bid om sodoende onder meer ons totale afhanklikheid aan Hom te verklaar!
Die tweede gelykenis wat Jesus vertel oor gebed, handel oor ons gesindheid. Ons sien die hoogdrawende Fariseër waar hy in die tempel staan en eintlik sy eie lof besing voor die Here. Hy vertel vir God, en veral almal wat na hom luister hoe ‘n goeie mens hy nou éintlik is, en wat hy alles vir die kerk doen.
Waaroor gaan dit in gebed nou eintlik? Gebed is ‘n eerlike gesprek met God waar dit in die eerste plek gaan oor die belangrikste Gespreksgenoot. Kom ons neem ‘n voorbeeld: as jy die geleentheid sou kry om met ‘n wêreldberoemde ikoon, sê nou maar die koningin van Engeland te gaan gesels, wat sou jou gesprek behels? Jy sal só opgewonde wees, dat jy vir eers gladnie aan jouself sal dink nie! Jy sal vir haar vertel hoe jy haar bewonder, en haar bedank vir die wonderlike voorreg wat sy jou gegee het. Omdat sy groot mag het, sal jy haar dalk versoek om van haar ongelooflike rykdom te deel met die mense in Suid-Afrika wat in groot nood verkeer. Die geleentheid is só groot, dat jy skoon van jouself vergeet.
Wanneer ons met God gesels dan is dit met Iemand soveel groter! Die blote gedagte laat ‘n mens bewerasies kry van opgewondenheid! Het ons ooit nog daardie respek en bewondering vir Hom? Voel ons nog klein en nietig en magteloos voor die Koning van alle konings? Wil ons nog uitbars in ‘n jubelende, opgewonde lofprysing vir Hom, elke keer wanneer ons die geleentheid kry om met Hom ‘n gesprek te voer? Wanneer ons met Hom praat, dan behoort ons gedagtes so groot te wees, dat ons nie onsself en ons nietige behoeftetjies raaksien nie, maar die groter prentjie van duisende en miljoene ander wat soveel slegter af is as onsself. Ag, en natúúrlik mag ons maar ons eie behoeftes ook voor Sy voete lê. Hy is immers ons liefdevolle Vader en ons is so afhanklik van Hom!
Gebed:
Almagtige Vader, vanoggend wil ek U grootheid uitbasuin vir die ganse wêreld!