Ester 5:4-6:12
Ester het die eerste brug suksesvol oorgesteek. Koning Ahasveros se bene het jellie geword toe sy in al haar skoonheid voor hom verskyn. Hy is soos klei in haar hande, het haar self belowe om enigiets vir haar te gee, net wat sy vra!
Maar nou moet sy eers ook vir Haman makmaak voordat sy haar troefkaart kan speel. Ester nooi die koning en Haman saam uit vir ‘n ete. Nou is Ester in volkome beheer van die situasie, en die twee manne eet letterlik uit haar hand uit. Haar sjarme oorweldig hulle. Die wyn vloei en die koning raak al meer vrygewig. Vir ’n tweede keer sê hy vir Ester dat sy maar kan vra net wat sy wil, hy sal dit vir haar gee, al is dit ook die helfte van sy koninkryk. En dan is sy gereed om die finale slag te slaan. Sy nooi weereens die koning en Haman uit vir ’n maaltyd wat sy sal voorberei spesiaal vir hulle die volgende dag. Sy wag haar tyd geduldig af om die laaste vernietigende nekslag toe te dien.
Hierdie uitnodiging slaan Haman se voete skoon onder hom uit. Hy is in die wolke, want hieruit kan net goeie dinge kom! Opgeruimd en vrolik stap hy die paleis uit na sy huis. Maar dan sien hy weer vir Mordegai raak waar hy sit in die poort. Skielik is Haman bitter omgekrap, want weereens weier Mordegai om aan hom eer te bewys. Nou is al die mooi dinge wat in die paleis gebeur sommer bederf. Hy sal iets met Mordegai móét doen! Hy wil nog op Mordegai skree, maar dan kners hy op sy tande, byt sy tong vas en beteuel homself. “Ek moenie nou dinge staan en opmors nie! Sy tyd sal kom, die lae hond!”
Met ‘n swart wolk wat oor sy kop hang, stap Haman die huis binne. Maar dan onthou hy weer van Ester en die koning en die ete afspraak die volgende dag. “Hier word iets baie groot vir my beplan!” sing hy vir homself, die simpele ou Mordegai skoon vergete.
“Loop haal my vriende!” beveel hy ‘n slaaf. “Ons het rede om fees te vier!”
Daar heers groot joligheid in Haman se huis daardie aand. Propvol van homself spog hy oor alles wat hy in die lewe bereik het, sy asemrowende rykdom, al sy suksesvolle kinders en die manier waarop die koning hom alreeds vereer het. “En dis nie al nie,” spog hy voort, “Koningin Ester het my en die koning genooi vir ‘n spesiale maaltyd. Hy gaan my nog verder vereer!”
Maar dan sak die swart wolk weer oor Haman se kop. “Wat makeer ou man?” wil vroulief Seres weet.
“Dis Mordegai! Daardie Jood vergal my lewe!”
“Maar dis mos maklik,” lag sy vriende, “raak ontslae van hom!”
“’n Galg,” sleeptong een van die manne, “’n drie meter hoë galg!”
“Maak hom sommer drie en twintig meter hoog, dan kan die hele stad hom mos sien hang!”
“Eerste ding môreoggend gaan ons vir Mordegai sy galg bou en hom hang. Dan kan ek my maaltyd saam met Ester geniet!”
Intussen lê Koning Ahasveros en rondrol op sy bed. Daar is iets wat hom pla, maar hy kan net nie sy vinger daarop lê nie. Dan skielik sit hy regop. Hy weet presies wat dit is! Hy bulder die gang af dat hy onmiddellik een van sy amptenare moet sien. Spierwit geskrik en deur die slaap daag een van die manne op. “Wie is dit wat my lewe gered het toe daardie twee lae luise my wou vermoor?” wil hy weet.
Nee, die man weet nie, maar hy sal gou die annale gaan haal sodat hulle kan sien. Minute later is hy terug: “Dit was ‘n man met die naam Mordegai,” word die koning meegedeel.
“Hoe is hy beloon? Watter soort eerbewys het hy gekry? Het hy ooit erkenning gekry vir sy dapperheid?”
Nee, hy het nooit enige beloning gekry nie.
Ahasveros sit nog die oggend vroeg in sy troonsaal toe Haman daar opdaag om te kom reël dat Mordegai opgehang word. “Haman, my vriend, kom binne!” nooi Ahasveros hom vriendelik nader, “Vertel my, wat maak ‘n mens met iemand wat rêrag groot eer verdien? Wat sou jy sê sou ‘n gepaste manier wees om aan hom eer te bewys?”
Haman glimlag van oor tot oor. Van wie anders kan die koning nou praat as van hom, die wonderlike Haman? “’n Koninklike kleed, natuurlik een wat die koning self aangehad het.” Haman sweef behoorlik, “En ‘n perd, die koning se persoonlike een, met sy embleem op natuurlik. En mense wat voor hom uitloop en sy eer besing!”
“Ek hou van jou voorstel, jy is briljant! Haman, gaan haal daardie ou man in die stadspoort, Mordegai en dan maak ons presies net so met hom soos jy voorgestel het. Hy verdien sulke behandeling!”
Haman wil in die aarde insak! Wat ‘n vernedering! En boonop moet hy sélf vir Mordegai vereer!
Moenie aan iemand anders doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Met ander woorde: leef liefde, nie haat nie.
Gebed:
Here, leer my om waarlik U liefde uit te leef en geen haatgedagtes in my om te dra nie.