Ester se Opdrag

1 May, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ester se Opdrag

Ester  4:1-17

Mordegai voel aan dat iets nie pluis is nie. Dan hoor hy dit: die ontstellende berig dat Haman beplan om die ganse Joodse volk met wortel en tak uit te roei!

Mordegai skeur sy klere, gooi as op sy kop en loop al kermend deur die stad. Alles is so verskriklik onregverdig! Hy besef maar ál te deeglik dat dit deur sý toedoen, sý hardkoppigheid is dat Haman hierdie volkslagting beplan. Hy wou maar net doen wat die Here van hom vra. En nou gebeur dit! Met rouklere aan gaan plak Mordegai homself neer voor die poort van die koning se paleis. En daar sit hy! Onbeweeglik!

Die nuus versprei soos ‘n veldbrand regdeur die Persiese Ryk. Van Griekeland tot Etiopië en van Egipte tot aan die grens van Indië hoor elke Jood hierdie verskriklike nuus: Op die dertiende dag van die twaalfde maand word elke Jood op aarde uitgeroei. Niemand sal ontsnap nie!

In Koning Ahasveros se paleis is alles egter baie rustig. Niks sal die bewoners van hierdie luukse gebou ontstel nie. Selfs nietighede soos ‘n volksmoord en ander tragedies bereik nie eers die binnehowe van die paleis nie, want dit is pure beuselagtighede.

Maar dan kom Koningin Ester tóg te hore van ou Mordegai wat in rouklere in die poort sit. As sy navraag doen oor wat met hom fout is, vertel een van die diensmeisies dat die ou man skoon die kluts kwytgeraak het. Hy het deur die strate geloop en tjank met as op sy kop. “Iets moes hom verskriklik ontstel het!” dink sy. “Hy kan mos nie so in rouklere daar sit nie!” Sy stuur saam met een van die diensmeisies vir hom ‘n stel vrolike klere om aan te trek, maar Mordegai weier om dit te aanvaar. Dan besef Ester dat daar iets baie groot fout moet wees. Sy vra een van die paleisbeamptes om te gaan uitvind wat skort met Mordegai.

Wanneer die man terugkom, buig hy diep voor Ester. Hy vertel haar dat Mordegai hom vertel het dat daar beplan word om die ganse Joodse volk uit te roei, en dat Haman die koning ‘n reuse som geld belowe het om dit deur te voer. Die beampte vroetel in sy klere, en dan haal hy ‘n afskrif van die koninklike proklamasie uit wat Mordegai hom gegee het.

Wanneer Ester die geskrif lees, voel sy hoe die bloed uit haar kop dreineer. Sy voel siek. “Hoe kan ‘n mens so gewetenloos wees!” dink sy.

“Mordegai het gevra dat u na die koning sal gaan en hom om genade gaan smeek, Majesteit.” Die amptenaar dra Mordegai se pleitende boodskap aan Ester oor.

Ester voel magteloos. Ja, sy is nou wel die koningin van Persië, maar steeds is sy maar net ‘n vrou. Hierdie wêreld word beheer, oorheers deur mans! Die koning het ál die mag! Selfs met haar hoë posisie as koningin is sy steeds magteloos. Niemand mag voor die koning verskyn as hy nie die persoon ontbied het nie. Nie eers sy, die koningin, sy eie vrou nie! Vir die afgelope maand het hy haar nog nie laat roep nie. As sy nou ongenooid na hom toe gaan, kan sy nét daar doodgemaak word.

“Gaan sê vir Mordegai, ek kan dit nie doen nie, ek sal my lewe verloor!”

Wanneer hy terugkeer, is hy baie verleë: “Majesteit, daardie ou man sê dat u nie moet dink dat u sal vrykom net omdat u in die koning se paleis bly nie, want u is ook ‘n Israeliet!” Ester skrik haar spierwit! Die man gaan voort: “Hy sê dat as u nie iets doen nie, en daar kom redding van elders af vir die Jode, dan sal u en u familie uitgeroei word. Hy sê dat hierdie júís die rede is waarom u juis nou koningin geword het, ú moet die volk red!”

Ester bewe van skok as sy die harde woorde van haar geliefde Pappie hoor. Maar dan wéét sy dat hy reg is. Stotterend stuur sy vir Mordegai ‘n boodskap met die amptenaar: “Gaan maak al die Jode in Susan bymekaar. Almal moet vas vir drie dae lank. Ek en my kamerpersoneel sal óók so maak. Daarna sal ek na die koning gaan en met hom praat. As ek moet omkom, moet ek maar omkom.”

Wanneer Mordegai Ester se antwoord kry, wéét hy dat die Here almagtig is. Natúúrlik is sy lieflingsdogter op die troon geplaas om God se volk te red. So gebruik hy mense, gewone mense, selfs ‘n Joodse weeskind om Sy taak op aarde te verrig.

Om watter rede is jy dáár waar jy is? Wat is jou doel waar jy dalk nou ingeperk sit tydens grendeltyd? Dit is nie maar toevallig dat jy in die posisie is waar jy nou verkeer nie. Die Here het ‘n doel met jou lewe. Dalk het Hy al lankal vir jou gesê wat Hy van jou verwag, maar soos Ester is jy te bang om die taak uit te voer. Moenie wag totdat dit te laat is voordat jy wil begin om God se opdrag uit te voer nie. As jy dit nie doen nie, sal Hy uiteindelik iemand anders kry om dit te doen, soos wat Mordegai vir Ester laat verstaan het. Moenie dat jy later met spyt om vergifnis moet pleit wanneer dit te laat is nie.

Gebed:

Here, U het my hier geplaas met ‘n doel, en U het vir my ‘n opdrag gegee om uit te voer. Gee my asseblief die ywer om dit met volle oorgawe te doen.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Stille Nag
21 May, 2024
Die Ware Jesus?
20 May, 2024
‘n Omgee-gemeenskap
17 May, 2024
Wát ‘n Wonderwerk!
16 May, 2024
Geloofsontploffing
15 May, 2024