Ester 5:1-3
Vir drie dae lank vas en bid die Joodse bevolking in Susan. Drie volle dae eet en drink niemand nie. Almal besef dat hulle lewe in die weegskaal is, en Ester is die enigste persoon wat iets daaromtrent kan doen. “Here, gee asseblief vir Ester die wysheid om hierdie saak reg te hanteer”, bid menige Jood daardie drie lang dae. Hulle vas en gebed laat my nogal dink aan Nineve, toe Jona vir hulle vertel het dat die Here hulle sou uitdelg oor hulle sonde. Hulle het hulleself voor God verootmoedig, rouklere aangetrek, gevas en gebid en die Here gesmeek om genade. Nou doen die Jode in Susan presies dieselfde. Sal die Here hulle gebed aanhoor soos wat Hy na die gebed van die Nineviete geluister het?
Ook Ester sonder haarself af, en met vas en gebed berei sy haarself voor vir die belangrikste afspraak van haar lewe, ‘n afspraak wat nog nie eers gemaak is nie. Tot dusver was haar lewe as koningin van die magtige Persiese Ryk een groot fees. Sy is gepamperlang en sy geniet al die eer wat sy ontvang. Almal is gaande oor haar, en al daardie aandag is heerlik. Maar nou skielik begin sy besef dat die wittebrood verby is! Die Here God het haar met ‘n doel hier geplaas, en dit is nie noodwendig sodat sy ‘n koninklike lewe moet hê nie. Met ‘n skok besef sy dat die taak wat die Here vir haar gegee het, hééltemal te groot is vir haarself om te hanteer. “Here, hoe kan ek, eenvoudige meisie, ‘n hele volk van uitwissing red?” smeek Ester. “Die koning is ‘n bitter moeilike mens, hy sal my laat doodmaak as ek ongevraagd by hom opdaag!”
Ester huil drie nagte om. Sy is radeloos! Maar dan, stadig begin daar ‘n idee in haar posvat. Wanneer sy die derde dag baie vroeg opstaan, weet sy presies wat haar te doen staan. Sy roep haar kamerpersoneel bymekaar: “Kom, ons moet dadelik aan die werk spring. Julle moet my mooier grimeer as wat julle dit nog ooit gedoen het. En kry my koninklike klere reg, ek moet vandag die koning gaan sien.”
“U kan dit nie doen nie Majesteit!” pleit hulle. Sy loop haar dood tegemoet! “U is mos nie uitgenooi nie. Die wet sê baie duidelik.......”
“Toemaar,” stel Ester hulle gerus. “Die Here, my God sal my beskerm. Hy is die Een wat my na Ahasveros toe stuur.”
Die voorbereiding vir haar besoek aan Ahasveros voel vir Ester na ‘n ewigheid. Alles moet perfek wees wanneer sy daar voor hom gaan staan.
Ester bid baie hard wanneer sy die gang afstap na die ontvangssaal van die koning. Sy sweef die voorhof na die saal binne, en sy lyk asemrowend. Al die koppe draai na haar. Haar knieë wil onder haar knak en sy wil eerder omdraai en weghardloop. Maar dan kom daar ‘n heerlike kalmte oor haar wanneer sy regoor die koning gaan staan, fier en regop en met haar ken hoog en vol selfvertroue.
Wanneer Ahasveros nors sy oë lig om te sien wie hom nou so ongevraagd steur, word sy knieë lam, maar nie van vrees nie, pure bekoring! Hy het al vergeet hoe beeldskoon Ester is. Hy steek sy septer na haar uit om haar binne te nooi. “Wat kan ek vir jou doen Koningin Ester? Vra net wat jy wil, al is dit ook die helfte van my koninkryk, ek sal dit vir jou gee.”
‘n Paar jaar tevore het Koningin Vasti die koning se gesag uitgedaag. Toe sy ontbied is het sy geweier om te kom. Daardeur het sy hom ontmasker, maar sy moes ‘n duur prys daarvoor betaal. Nou kom Ester en daag ook die koning se gesag uit deur ongenooid na hom te gaan. Hierdie kragmeting wen Ester egter met haar skoonheid en bekoring. Die koning is so mak soos ‘n lammetjie!
Ons kom ook soms nes Ester in ‘n situasie waar iets wonderlik met ons gebeur. Dan haal ons maar die skouers op en sê dat die geluk aan ons kant was. Ester moes egter besef dat sy met ‘n baie bepaalde doel in die posisie as koningin geplaas is ter wille van ander mense. Sy móés haar posisie gebruik en diensbaar wees. So verwag die Here ook van my en jou om dit wat Hy ons gee te gebruik vir die doel wat Hy dit vir ons gegee het.
As Hy my byvoorbeeld ‘n mooi ruim huis gegee het, dan is dit nie maar net sodat ek baie lekker daar kan bly nie. Ek moet gaan sit en besin oor wat die Here werklik wil hê dat ek met die huis moet doen. Is dit nie dalk sodat ek die ruimte beskikbaar kan stel sodat mense daar kan bymekaar kom om te gebruik vir selbyeenkomste of Bybelstudie of iets dergeliks nie? Of as ek rykdom gekry het - is dit bloot sodat ek luuks kan lewe? Of is die doel dalk eerder sodat ek ander kan help wat swaarkry? En as ek goed is met tegnologie, is dit slegs sodat ek ‘n goeie werk kan kry of die tegnologie vir myself aanwend? Of is dit dalk sodat ek my kennis kan gebruik tot uitbreiding van die Koninkryk?
Kom ons besin eerlik oor wat die Here ons gegee het, en hoe Hy wil hê dat ons dit gebruik.
Gebed:
Here, U het vir my talente gegee. Wys my asseblief hoe ek hulle moet gebruik.