Filippense 2:25-30
Gister het ons die mooi getuigskrif gesien wat Paulus vir Timoteus geskryf het. Timoteus was maar altyd daar vir Paulus en hy het hom deur dik en dun bygestaan. Hy moes dikwels Paulus se voete, oë en ore wees, veral deur die jare terwyl Paulus ‘n gevangene in Rome was en hy nie by gemeentes kon uitkom nie. Wanneer daar by een van hulle probleme ontstaan het, was Timoteus die een wat dit namens Paulus moes gaan oplos. Dikwels is Timoteus gestuur om die een of ander gemeente te besoek om dan aan Paulus verslag te kom doen oor hoe dit daar gaan.
Timoteus was egter nie die enigste wat vir Paulus gehelp het nie. Ons lees van verskeie mense wat hulle gereeld met hom bemoei het en versterk het soos byvoorbeeld Lukas. Ons weet dat hy dikwels die briewe wat Paulus gedikteer het vir hom geskryf het. Paulus se oë was baie swak, gevolglik het hy gesukkel om te lees of skryf.
En dan was daar Epafroditos. Dit gebeur soms dat iemand oor jou lewe gestuur word wat absoluut alles sal opoffer om jou by te staan nét wanneer jy dink dat alles vir jou verlore is.
As ons mooi dink oor Paulus se omstandighede, sou dit net menslik wees as hy bitter gefrustreerd sou wees. Paulus het ‘n baie aktiewe lewe gelei en hy kon net eenvoudig nie stilsit nie. Selfs voor sy bekering al het hy die wêreld vol gereis om Christengelowiges te gaan uitsnuffel sodat hulle vervolg kon word. Toe gebeur Damaskus en Paulus word deur God tot stilstand geruk, nie alleen omdat hy verblind was deur die helder lig nie, maar die opgestane Jesus het hom diep aangeraak. Eers moes hy alleen daardie ontmoeting met Jesus verwerk. Daarna word iemand oor sy pad gestuur om dit vir hom te verduidelik. Die verhaal in Handelinge 9 gryp jou aan die hart!
‘n Paar jaar later word Paulus deur Barnabas na die gemeente in Antiogië gebring om hom daar te help. Daar kry hy uiteindelik die roeping om sendingwerk te gaan doen saam met Barnabas. Vir Paulus was dit ‘n dag van groot opgewondenheid. Hy het hierdie roeping met baie groot entoesiasme aangegryp. Van dorp na dorp en land na land het hy gereis en in die proses baie duisende kilometers afgelê, meestal te voet. Hy het selde lank in een plek gebly. Wanneer hy tevrede was dat die evangelieboodskap inslag gevind het, het hy vertrek na die volgende bestemming. Dikwels is die proses aangehelp deur ongelukkige teenstanders wat hom hardhandig die dorp uitgesmyt het, maar dan het hy bloot die stof van sy klere afgeskud en jubelend voortgegaan.
Paulus het ook by etlike geleenthede die gemeente in Jerusalem gaan besoek. Dit was juis tydens een so ‘n besoek waar hy in die tronk beland het.
En nou sit hy met hande afgekap omdat hy nie eers sy voet by die vertrek durf uitsit nie. Jaar in, jaar uit in dieselfde kamertjie! Later sou dit nog erger word as sy huisarres vervang word met ‘n pikdonker, vuil, stinkende tronksel en kettings. Wanneer Paulus in hierdie haglike omstandighede verkeer, stuur die Here mense oor sy lewe, mense wat omgee. So lees ons byvoorbeeld in Filemon 8-10 van die wegloper-slaaf Onesimus wat daar in die gevangenis by Paulus tot bekering gekom het en vir Paulus goud werd was.
Dis egter nie net indiwidue wat hulle oor Paulus ontferm het nie maar dikwels ook gemeentes. So het die gemeente in Filippi toe vir Epafroditos gestuur om Paulus in die tronk te gaan bystaan. Hulle stuur sommer geld ook saam om Paulus te versorg. Vir hierdie man moes dit ‘n baie groot opoffering gewees het, want hy moes vir ‘n lang tyd ver van sy huis, familie en vriende in ‘n vreemde, goddelose land deurbring. Maar dit doen hy met blydskap en toewyding. Selfs toe hy siek word, so siek dat hy by die dood omdraai, bly hy steeds getrou op sy pos. Hy laat weet nie eers sy mense van sy siekte nie, uit vrees dat hulle hom dalk sou laat haal en terugneem na Filippi. Vir Paulus was dit ‘n riem onder die hart dat hierdie man se pligsbesef so groot was dat hy álles sou opoffer om hom by te staan.
Dit sou selfsugtig wees van Paulus as hy vir Epafroditos langer daar sou hou. Selfsug is egter ‘n eienskap wat jy nie by Paulus sou kry nie. En daarom stuur hy Epafroditos terug na sy mense. Saam met hom stuur hy hierdie einste Filippense-brief met ‘n pragtige getuigskrif oor Epafroditos wat sy lewe gewaag het om hom by te staan.
Hierdie verhaal is opgeteken vir my en jou, nie om Paulus en Epafroditos te bewonder nie, maar om iets te leer uit hulle voorbeeld. Paulus se onselfsugtige optrede moet vir ons ‘n norm in ons lewe wees. Selfs wanneer dit swaar gaan, moet ons steeds eerder aan ander dink. En dan natuurlik Epafroditos se opoffering. Is ek bereid om alles op te offer vir iemand wat in die nood is of vir die Evangelie? Dit is hoe ware liefde prakties uitgeleef word. En dan mag ons natuurlik nooit vergeet dat God dikwels sulke mense oor ons lewenspad stuur, of dalk andersom, dat God óns oor iemand anders se pad stuur. Dan mag ons nie weier nie!
Gebed:
Here, maak my asseblief gewillig om te gaan wanneer U my stuur. Dankie ook vir wonderlike mense wat U oor my lewenspad stuur.