2 Timoteus 4:9-13
Wat maak dat ‘n evangeliebedienaar “die wêreld liefkry”? In Kol. 4:14 asook in Filemon 24 lees ons van Demas, waar Paulus terloops meld dat hy by hom is. Ons weet eintlik baie min van hom, buiten dat hy waarskynlik vir Paulus bygestaan het. Nêrens hoor ons dat hy ‘n “probleem” was nie, dus was hy seker maar ‘n “goeie” mens. Maar nêrens sien ons ook dat hy uitgestaan het in Koninkrykswerk nie. Hy was maar net daar. Klaar! Hy het bloot sy werk gedoen. En toe dinge begin warm word vir Paulus, besluit Demas dat die wêreld daar buite tóg maar ‘n beter, of eerder dalk veiliger plek is. Hy los vir Paulus soos ’n warm patat toe hy hom die nodigste gehad het en vertrek na Tessalonika!
Dis baie gevaarlik om lou te wees in jou geesteslewe! Sodra die druk te groot begin raak, hetsy sosiale druk, finansies of bloot begeertes, dan kom die gevaar dat jy die pad begin byster raak en terugdwaal na jou ou sondige lewe. En as jy eers dáár is, dan is dit tien keer so moeilik om terug te keer na die Here, want jy is skaam omdat jy afgedwaal het. Wat gaan die mense sê? Ek het dit al talle kere gesien en dis selde dat só ‘n persoon óóit weer ‘n vrugbare geestelike lewe lei.
Wat is dan die antwoord? Moenie “lou” lewe nie! Leef voluit en entoesiasties vir die Here! Jy kan ‘n vol geestelike lewe leef sonder om werklik in te boet op jou alledaagse lewe. Ek ken talle mense wat voluit vir die Here leef maar terselfdertyd die lewe geniet in sy volheid. As ek van my eie lewe kan getuig: dit verg van my elke oggend ‘n uur of twee om die dagstukkies te skryf en dikwels moet ek my aande opgee vir die een of ander kerkvergadering. Sondae moet ek die hele erediens deurworstel agter videokameras en my rekenaar en wanneer almal agterna ontspan, sit ek en video’s redigeer, dikwels tot laat Sondagmiddag. Ek spandeer soms baie ure om ‘n ringsvergadering vir die Durban streek te organiseer, verslae op te stel, notules te skryf en oor en weer briewe te stuur.
Maar ek het steeds oorgenoeg tyd om die lewe voluit te geniet. En die beste van alles is dat ek my gate uit geniet wanneer ek die dagstukkies skryf! Dis die heerlikste werk wat die Here óóit vir my kon gee! Ek geniet boonop ook die twee nuusbriewe wat ek elke week moet opstel, die videowerk en selfs die kerkvergaderings, want ek kan op al die terreine my kreatiwiteit ten volle uitleef!
Paulus skryf nie net van Demas nie, hy noem ook van Kressens en Titus wat vertrek het. Hulle vertrek was egter baie anders as dié van Demas want hulle het vir Paulus kom besoek om laaste opdragte van hom te kom kry en nou het hulle dit gaan uitvoer, elkeen in sy eie gemeente. Vir Tigikus het hy na Efese gestuur om vir Timoteus af te los sodat hý weer vir Paulus kon kom kuier. Tigikus was sekerlik baie opgewonde hieroor want dit was ‘n heerlike uitdaging! Paulus het ook vir Timoteus gevra om vir Markus saam te bring, waarskynlik Johannes Markus wat Paulus op sy eerste sendingreis vergesel het.
En dan was daar Lukas, die dokter wat tot op die laaste nog vir Paulus bygestaan en dikwels sy briewe vir hom geskryf het omdat Paulus se oë te swak was. Om te skryf wat iemand vir jou dikteer, is maar ‘n saai werk, nie juis iets waarmee jy ‘n mediese dokter assosieer nie! Maar ek dink dat dit dalk iets in Dokter Lukas wakker gemaak het, iets wat sy vingers laak jeuk het om sélf ‘n stukkie skryfwerk aan te pak. Later het hy dan ook verder navorsing gedoen oor die lewe van Jesus, sy Verlosser. Hy het met Maria en baie ander gaan gesels om so eerstehandse inligting te kry van wat presies alles gebeur het. Uiteindelik het hy die wonderlike Lukas-Evangelie geskryf. Dit was só ‘n reuse sukses dat hy daarna die boek Handelinge geskryf het. Baie van die gebeure in Handelinge, het hy eerstehands saam met Paulus beleef omdat hy dikwels by Paulus op sy reise aangesluit het. Uiteindelik beslaan Lukas se skryfwerk in volume selfs meer as dié van Paulus! Lukas het ‘n vol, ryk en opwindende lewe gehad, bloot omdat hy bereid was om sy deel te doen vir die Evangelie!
Wanneer Paulus vir Timoteus skryf van hierdie mense, weet ons dat hy die dood afwag. Enige oomblik nou...... Nogtans sit hy nie stil en kerm oor dít wat vir hom voorlê nie. Hy leef steeds asof daar nog baie tyd oor is. Hy vra vir Timoteus om sy reismantel saam te bring asook sy boeke en perkamente. Daar is werk om te doen! Daar is nog sovéél wat hy wil bereik. Die Here se werk moet voortgaan!
Paulus se ongelooflike toewyding is ‘n voorbeeld en inspirasie vir elke Christenleier. Absoluut niks op aarde kon sy aandag van sy werk vir die Here aftrek nie, nie die tronk nie en óók nie uitmergelende straf nie. Nie eers die naderende marteldood kon sy entoesiasme blus nie!
Die vraag wat ek en jy onsself vanoggend moet afvra, is hoe entoesiasties óns oor die Evangelie is? Is dit maar net ‘n lou “doen-oorlat-ek-dit-móét-doen” soos in Demas se geval? Of brand daar ook die vuur van entoesiasme in ons soos in Kressens, Titus, Timoteus, Tigikus, Markus en Lukas? Hulle entoesiasme het miljoene mense se lewens verander. Het jou entoesiasme al ‘n verandering in iemand se lewe teweeg gebring?
Gebed:
Here, ek wil nie maar net ‘n geestelike bestaans-lewe voer nie. Gee asseblief vir my ‘n vuur in my hart om met brandende entoesiasme U werk te doen!